Site icon Tot U eer

GEDIGTE UIT JOHANNES

Die Woord

As jy in die ewigheid terug staar:
In die begin was die Woord daar
en die Woord was by God
en die Woord was self God. (Joh 1:1-2)

Alles het deur Hom tot stand gekom.
Ja, niks het ontstaan sonder Hom.
In Hom was daar lewe –
die Lig aan mense gegewe. (Joh 1:2-3)

Die skynende Lig wat duisternis kloof,
kon die duisternis glad nie uitdoof.
Hy het na Sy eiendom toe gekom,
maar sy eie mense glo toe nie in Hom… (Joh 1:4-11)

Maar almal wat Hom aangeneem het en in Hom glo,
het Hy die reg gegee om kinders te word van die Vader daar bo.
Nie deur hulle besluit, maar van nature verlore,
word hulle opnuut uit God gebore! (Joh 1:12-13)

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Ons het sy heerlikheid gesien, wonderlik, beeldskoon.
Niemand het nog ooit God self gesien,
maar deur Sy Seun sien ons Sy genade onverdien: (Joh 1:14,18)

Die enigste Seun van die Vader se heerlikheid
is oorlopens vol van genade en waarheid.
Ons almal is uit daardie oorvloed
met genade op genade begroet. (Joh 1:14-16)

Daar is die Lam!

(Joh 1:19-34, I Pet 1:18-20)

Verbete swoeg jy om meer skatte te vind,
in donker gehul, selfsugtig, tastend en blind.
‘n Gejaag na goud en silwer in ‘n sinlose bestaan,
mag God jou vandag nog laat sien en verstaan:

In jou Bybel wat stof opgaar –
die Lam van God is daar!
Dis waar jy van hemelse skatte leer
en jy onselfsugtig die Lam wil eer!

Jy is deur die bloed van die Lam gekoop:
Vir jou selfsug het Hy opofferend betaal.
As jy glo, sal Hy jou met Sy Gees doop:
Dan leef jy in vreugde tot Hy jou kom haal!

Ek glo dis so

Ek glo
dis so:

Ek was blind en sondig,
maar Lig is aan my verkondig.
Toe ek Sy heerlikheid sien
is ek weer gebore
en nie meer verlore:
Genade wat ek nie verdien!

Water in wyn

My vreugde is aan die verdwyn,
soos ‘n bruilof sonder wyn…

“Hulle het nie meer wyn nie,” sê sy ma vir Hom.
“Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom.”
Daar het ses groot klipkanne gestaan
Hulle doel: reiniging moet jy verstaan. (Joh 2:1-4)

Water verander toe in die beste wyn.
Die seremoniemeester was verstom,
maar so het Jesus se heerlikheid geskyn
en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. (Joh 2:9-11)

As ek sien Hy kan water verander in wyn,
glo ek die belofte wat my sorge laat verdwyn:

U nooi my na die bruilofsmaal –
As skoongewaste bruid kom U my haal.
Help my om U wonder raak te sien:
Deur U bloed gereinig onverdien. (Op 19:7-18)

Die tempel sweep

Jesus het die geldwisselaars se tafels omgekeer
en almal uit die tempel gejaag met sweep se seer…
“Hierdie is ‘n huis vir my Vader se saak,
julle moet dit nie ‘n besigheidsplek maak!” (Joh 2:13-16)

Die Jode sê: “Wys U gesag met ‘n teken.”
“Breek die tempel af – Ek sal dit in drie dae herstel!”
Hulle het nie verstaan wat dit beteken…
Hy het egter van Sy liggaam vertel. (Joh 2:18-21)

Toe die werklikheid na sy opstanding ontvou,
word Hy die Tempel van die stad daarbo. (Op 21:22)
Sy dissipels het toe hierdie woorde onthou
en die Skrif en die woorde van Jesus geglo. (Joh 2:22)

As Jesus dan as tempel bestaan,
ja, ‘n huis vir Sy Vader se saak,
maar alles vir jou net oor geld gaan,
slaan die sweep jou ook raak:

Vir joú is Sy liggaam afgebreek.
Ja, joú sonde is so gewreek.
Na drie dae het Hy opgestaan,
glo dit, anders gaan jy vergaan…

As hierdie sweepslag jou omkeer,
weet dat jy Hom as tempel het
en direk mag nader in gebed:
Kniel nou en gee Hom alle eer!

Wedergebore, nie verlore

Van Jesus se tekens het baie tot geloof gekom,
maar hierdie woorde het my verstom:
“maar Jesus het Hom aan hulle nie toevertrou,
want Hy het geweet wat die mense se hart inhou”(Joh 2:23-25)

Here God, daar is so baie mense wat sê hulle glo, maar nie werklik glo nie, want hulle is nie wedergebore nie. Hulle is eintlik nog blind en sien U heerlikheid nie. Open hulle oë, as hulle hierdie voorbeeld van een so man, Nikodemus sien, o God. Amen

‘n Man het die naam Nikodemus gehad.
Hy was ‘n Fariseër en lid van die Joodse Raad.
Hy sê toe vir Jesus: “U wondertekens verstom –
U moet ‘n leermeester wees wat van God af kom? “(Joh 3:1-2)

“As iemand nie opnuut gebore word,”
(dis nie iets wat jy kan verdien)
“kan hy nie die koninkryk van God sien.”
(die Gees moet dit in jou uitstort) (Joh 3:3)

“Dit kan tog nie moontlik wees wat U leer,
om na my moeder se skoot terug te keer?” (Joh 3:4)

“Word jy nie uit water en Gees gebore,
is jy vir My koninkryk verlore.
Van die wind van die Gees moet jy verstaan:
Hy waai waar Hy wil, jy weet nie waar Hy gaan.” (Joh 3:5-8)

Nikodemus vra toe:
“Maar hoe?” (Joh 3:5:9)

“Jy wat as leermeester bekend staan,
maar nie werklik sien en verstaan:
Die aardse dinge kon jy nie eers glo,
wat nog van die hemelse daarbo? (Joh 3:10-12)

Jy ken mos die verhaal
van die slang op die paal:”
Die volk was ongeduldig en het teen God uitgevaar:
“Ons is sat van die slegte manna wat ons moet vergaar!” (Num 21:4-5)

(Hulle kon eenvoudig net nie sien
dis seën uit die hemel onverdien.)

Die Here het giftige slange gestuur,
baie gepiktes sterf toe in daardie uur.
Moses, ons het sonde gedoen –
bid tog dat ons met God versoen! (Num 21:6-7)

“Maak ‘n beeld van ‘n slang en hang dit aan ‘n paal:
Die wat daarna opkyk, sal weer die lewe behaal.”
Die wat daarna opgekyk het, het bly leef.
Hulle sonde van vroeër is vergeef. (Num 21:8-9)

“Netso, Nikodemus, moet die Seun van die mens
verhoog word, dit is my Vader se wens,
sodat elkeen wat My werklik sien en glo,
die ewige lewe kan hê, met My daarbo!” (Joh 3:14-15)

Liewe leser, is jy sterwend van die slang se pik?
Jesus het Hom vir jou verneder tot ‘n slang
en vir jou aan ‘n kruishout gaan hang.
Kyk op, sien en glo, dit bring ewige geluk!

Wedergebore
Nie verlore!

God se liefde deur Sy Seun

“Netso, Nikodemus, moet die Seun van die mens
verhoog word, dit is my Vader se wens,
sodat elkeen wat My werklik sien en glo,
die ewige lewe kan hê, by My daarbo! (Joh 3:14-15)

Want God het die wêreld so liefgehê
dat Hy My, sy enigste Seun, aan ‘n kruis gaan slaan
sodat dié wat in My glo, nie verlore sal gaan,
maar die ewige lewe sal hê.” (Joh 3:16)

God het sy Seun na die wêreld gestuur,
nie om te veroordeel in daardie uur,
maar dat Hy die wêreld deur Hom red:
Die wat glo, is die wat nie veroordeling het. (Joh 3:17-18)

Dié wat nie in die Naam van die Seun glo,
is lankal reeds veroordeel van Bo.
Hulle het die duisternis liewer as die Lig,
want dit hou hulle bose werke buite sig. (Joh 3:19-20)

Van die wat volgens die waarheid wandel,
is dit duidelik dat hulle in God handel. (Joh 3:21)

Die Seun wat van bo af kom –
die getuienis kom van Hom.
Niemand wou Sy getuienis aanvaar,
maar party het God wel geloofwaardig verklaar. (Joh 3:31-33)

Die Seun spreek die woorde van God se werk,
gelei deur die Gees in Hom onbeperk.
Die Vader het die Seun alles in Sy hand gegee
en wys so Sy groot liefde daarmee. (Joh 3:34-35)

Wie in die Seun glo, so verhewe,
ja net hy, het die ewige lewe.
Dié ongehoorsaam aan die Seun,
die toorn van God sal op hom reën (Joh 3:36)

Genesing van die seun

As profeet is Jesus in sy eie land nie geëer,
maar die mense daar het hom verwelkom,
want sy wonders het hom verstom.
Hulle moes nog van ware geloof leer… (Joh 4:43-46)

In Kapernaum was ‘n regeringsamptenaar
wat se seun op sterwe gelê het daar
Hy het toe na Jesus in Kana gegaan
‘n hele ent daarvandaan (Joh 4:46-47)

Hy het Jesus gevra om te kom om sy seun te genees
As julle nie tekens en wonders sien van bo
Wil julle eenvoudig nie in My glo…
Here kom tog anders gaan my kindjie reeds dood wees… (Joh 4:47-49)

Jou seun leef, jy kan maar huis toe gaan
Die man het Jesus geglo en terug gegaan
Op pad kom die werksmense by hom aan.
Jou kind lewe, hy kan weer staan! (Joh 4:50-52)

Hoe laat het hy beter geword en draai dinge toe om?
Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat
Maar Jesus het presies toe met my gepraat!
Hy en sy hele huis het tot geloof in Jesus gekom. (Joh 4:52-53)

Ek skryf hierdie wondertekens juis so
dat julle kan daardeur kan glo
dat Jesus die Christus
die Seun van God is
en sodat julle deur te glo,
in sy Naam die lewe kry van Bo. (Joh 20:30)

Genesing op die Sabbat

Dit was weer tyd vir ‘n Joodse fees,
so Jesus was in Jerusalem gewees.
Hy kom toe by ‘n bad, met Bethesda as naam –
Blindes, kreupeles en lammes lê daar saam. (Joh 5:1-3)

‘n Sekere man was al siek vir agt en dertig jaar.
“Wil jy gesond word?” vra hy, toe hy hom gewaar.
Meneer, ek het niemand om my in die bad te plaas,
ander gaan in, terwyl ek skuifelend daarheen haas. (Joh 5:5-7)

Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”
Oombliklik is hy genees en het hy sy goed opgetel en geloop.
“Dit is ‘n Sabbatdag – jy weet jy mag nie jou goed dra!”
het die Jode gesê en na die geneser se identiteit gevra. (Joh 5:8-12)

Die man het nie geweet wie het hom gesond gemaak,
want Jesus het tussen die baie mense weggeraak.
Later in die tempel kry Jesus hom toe weer:
“Moenie verder sondig, anders gaan iets erger gebeur. (Joh 5:13-14)

Die Jode het teen Jesus in opstand gekom,
Maar sy antwoord het hulle verstom:
“My Vader werk elke dag, tot nou
Ek ook, dis hoekom Ek nie Sabbat hou.” (Joh 5:15-17)

“Die dood is die oordeel wat ons fel
as jy jou met God gelyk wil stel.”
“Die Seun kan net doen dit wat hy van die Vader sien.
Die Vader het die Seun lief en wys hoe Hy moet dien. (Joh 5:18-20)

Soos die Vader dooies lewend maak,
so is dit ook die Seun se wil en taak.
Om oordeel te fel is nie die Vader se daad –
Hy het dit geheel en al aan die Seun oorgelaat. (Joh 5:21-22)


Almal moet die Seun eer
net soos hulle die Vader eer.
Wie luister en glo wat ek sê,
kan die ewige lewe nou hê.
Hy sal nie voor God as veroordeelde staan,
maar het van dood na lewe oorgegaan. (Joh 5:23-24)

Daar kom ‘n tyd en dit is nou – nie daar voor,
wanneer dooies die stem van God sal hoor.
Die wat daaraan gehoor gee, sal die lewe kry.
Net soos die Vader lewe in Homself, geld dit vir My. (Joh 5:25-27

Moet julle nie verbaas: Daar lê ‘n tyd voor
wanneer almal in die grafte Sy stem sal hoor.
Die wat goed gedoen het sal opstaan en ewig lewe,
die wat verkeerd gedoen het, sal onder oordeel bewe. (Joh 5:28-29)

Ek het in die Naam van my Vader gekom –
julle aanvaar My nie, en verwerp so Hom.
Die rede hoekom julle nie kan glo,
al lees julle die Skrif, is so: (Joh 5:39-42)

Julle is gesteld daarop dat mense julle eer
in plaas van die eer van die enigste Heer.
Julle dink julle gaan die ewige lewe in Moses se geskrifte kry,
maar julle verstaan en glo nie: Hy skryf juis oor My!” (Joh 5:39, 44-47)

Ek is dors!

Here, wat se raad het U vir my?
Ek het hierdie leemte binne my…

Dis nie leegheid nie, moet jy verstaan,
dis oor dors waaroor dit hier gaan:

Weeskinders skreeu van die dors
want hulle is weggeruk van die bors…
Armes trap die parskuip
en smag om soos diere te suip… (Job 24:9-11)

Sal U vir my water skink
dat ek net kan drink?

Elkeen wat gewone water drink
sal weer vir sy dors moet skink,
maar die water wat Ek hom gee
bring borrelend die ewige lewe mee. (Joh 4:13-15)

Jy probeer jou lewe met aardse dinge vul,
Bring dit in gebed en Ek wys jou dit verkul. (Joh 4:16)
As jy dan begin verstaan
sal jy op jou knieë gaan: (Joh 4:21-25)

Soos ‘n wildsbok na waterstrome smag
so smag ek na U, o God, dag en nag!
Ek dors na U, die lewende God – ek kwyn…
Wanneer kan ek gaan en voor U verskyn? (Ps 42:2-3)

Neem jou Bybel op en begin lees
Hoe baie het ek van dors genees:

Toe die volk dors word, verwyt hul hom:
Waarom moet ons van dors omkom? (Ek 17:3)
Elke droë mond het hier verstom:
God het water uit ‘n rots laat kom! (Eks 17:6)

Maar moenie net by die verlede staan,
dis Ek wat ook die toekoms verstaan:
As jy op pad terug van dors wil kwyn,
bring Ek vir jou water in die woestyn. (Jes 43:18-21)

Here, as ek so deur die woestyntog swoeg,
voel ek so honger, dors en moeg…
In sulke tye wil my eie begeertes my dryf
Dis hoekom U die verhaal vir mý ook skryf! (I Kor 10:1-6)

Kom, almal wat dors is,
kom na die water vir rus.
Sonder geld kan jy weet:
kom, koop, ja kom eet.
Jy kan sonder om te betaal,
jou wyn en melk kom haal.” (Jes 55:1-2)

Ek is die Brood wat lewe gee.
Vul jou behoeftes daarmee!
Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry.
Wie in My glo, se dors sal vir altyd wegbly. (Joh 6:33-36)

Jesus aan die kruis met ‘n brandende bors:
is getart met asyn toe Hy uitroep: “Ek het dors!”
Maar Hy het dit gedoen om joú leemte te vul,
daarom het Hy uitgeroep: “Dit is vervul!”

As Hy dan jou leemtes vul met water van Hom,
sal stromende water uit jou binneste kom!
Hiermee het hy verwys na die Gees,
want as jy glo sal Hy binne jou wees! (Joh 7:37-39)

In jou oorvloei moet jy aan ander se honger dink,
in hulle dors moet jy hulle iets gee om te drink.
Moenie dat die kwaad jou wen
doen dit deur die goeie te ken. (Rom 12:17-21)

Vir elkeen wat dors het, laat Ek drink;
uit die fontein van die lewe sal Ek skink.
Elkeen wat die oorwinning behaal sal dit kry,
en Ek sal sy God wees, en hy ‘n seun vir My. (Op 21:1-8)

Die met die wit klere sal nie weer dors kry,
want die Lam wat by die troon staan
sal hulle na waterfonteine van lewe lei
en daar droog God vir hulle elke traan! (Op 7:15-17)

Die water van die lewe was soos kristal
en die boom dra vrugte op sy wal.
“Kom!” sê die Gees en die bruid
“as jy dors het”, klink dit luid! (Op 22:1,17)

Ek is: Brood en water

Fillipus het gevra: “Waar kan ons brood kry dat die mense kan eet?”
Jesus het van hul dieper behoefte geweet… (Joh 6:5)

Jesus het gesê: “Laat die mense sit.”
Hy het die brood geneem en gebid.
Vyf brode en twee visse is verdeel
en vir vyf duisend was dit te veel. (Joh 6:10-13)

Julle moet nie werk vir voedsel wat vergaan
fokus eerder op wat vir ewig bestaan! (Joh 6:27)

Ek is die Brood wat lewe gee.
Vul jou behoeftes daarmee!
Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry.
Wie in My glo, se dors sal vir altyd wegbly. (Joh 6:33-36)

As iemand dors het, laat hom skink
Ja, kom na My toe en kom drink!
As jy in My glo, sal die Gees
soos stromende water in jou wees! (Vgl. Jes. 58:11, Joh 7:37-39)

‘n Mandjie net vir jou (Joh 6)

Johannes vertel net van sewe wonders altesaam
sodat jy kan glo Jesus is die Christus
en dat Hy die Seun van God is
en deur te glo die lewe kan hê in sy Naam. (Joh 20:30-31)

As jy versigtig deur sy boek lees sal jy opmerk
dat hy elke keer ‘n geestelike betekenis inwerk.
Hy onthul die vrou by die put se ware pyn
Ek is die lewende water – ‘n fontein.

Hy gee ‘n blinde sig
en sê: “Ek is die Lig”
Hy wek Lazarus uit die dood op
“Ek is die lewe”, merk hy dan op.

Vyfduisend mense het aan vyf brood gesmul
Die brokstukke het twaalf mandjies gevul.
Maar vir vyf kort verse binne die brood wonder
word ‘n ander wonderwerk uitgesonder:

Die dissipels het alleen oor die see gevaar
maar donkerte oorval hulle toe daar…
Hulle het die onstuimigheid ondervind
van die see se stormagtige wind. (Joh 6:16-18)

Op die see sien hulle Jesus toe aangeloop kom
Hulle was eers bang vir Hom.
“Dit is Ek, moenie vrees!”
en onmiddellik was die skuit in die hawe gewees! (Joh 6:19-21, 1953)

Geen verder geestelike verduideliking,
die wonder stop net plotseling
en vir nog vyftig verse gaan die hoofstuk aan
sodat jy Jesus as die brood van die lewe verstaan.

Die meeste het egter nie die boodskap verstaan
en het omgedraai en huis toe gegaan…
Jesus vra toe die twaalf: Wil julle nie ook weggaan?”
Simon Petrus antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan?

U het die woorde wat lewe gee!
Ons glo vas en ons weet
dat U die Heilige van God heet.”
En tog dink Judas in sy kop: Nee… (Joh 6:55-71)

Manne van God, julle wat My Woord bedien,
Ek wil dat julle vandag hierdie boodskap sien:
Skep moed as julle so hard werk
maar steeds verlaat baie die kerk.

Hierdie hoofstuk wil jou leer
dit het met My ook gebeur.
Maar as julle twaalf my as Brood aan duisende bedien
bly daar twaalf mandjies – een vir elk, onverdien.

As die stormwind jou laat twyfel aan jou hoop
Onthou: Ek is die Een wat op water loop.
Nooi my in jou sinkende boot met oorgawe
dan sal jy vind jy is dadelik in My veilige hawe!

Jou eie eer?

Jesus het in Galilea gebly.
In Judea was die huttefees naby.
“Jy moet na die huttefees in Judea toe kom
dat mense jou wonderdade kan sien,” sê sy broers vir Hom. (Joh 7:1-4)

Selfs sy broers het nie in Hom geglo. (Joh 7:5)
Hulle versoek het oor hulle eie eer gegaan.
Dis die kern van ongeloof moet jy verstaan:
Enige iets in die plek van Hom daarbo.

Teen die middel van die fees het Jesus in die tempel geleer
Die Jode was verbaas: ”Hy het nooit in opleiding verkeer?”
“Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer
Hy wat My gestuur het, het My geleer: (Joh 7:14-18)

“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!
Vir die wat glo, sal dit so wees:
Uit sy binneste sal ek strome lewende water skink.”
Hiermee het Hy verwys na die Gees. (Joh 7:37-39)

Party het gesê: Hy is werklik die Profeet
Ander dat Hy Christus heet
Sy woorde het die Joodse leiers vervreem
En hulle wou hom gevangene neem. (Joh 7:40-44)

Vir hulle het dit ook oor hulle eie eer gegaan
En hulle het selfs vir Nikodemus vermaan
Ons beskerm wat ons het –
die mense ken nie die wet! (Joh 7:47-52)

Vir Jesus se broers het dit oor eie eer gaan,
vir die Joodse leiers was wette hul bestaan.
Soek jy ook jou eie eer?
Of wil jy ook met wette probeer?

Nee, jy moet dors na jou Heer
en Hom bo alles begeer,
dan vul Hy jou met Sy Gees
en vloei lewende water uit jou vlees.

Ek is: Blindheid en Lig

Hoe kon dit op dag een lig raak
as God die son eers op dag vier maak? (Gen 1)

“Here, wie se sonde maak die man blind?
Is dit sy ouers sin of hy as kind?”
Jesus: “Nee, hy het dit nie verdien,
maar My werke sal jul in hom sien! (Joh 9:1-3)

“Ek is die lig!
Wie my volg sal nie in duisternis leef,
maar sal lig hê wat lewe geef.”
Jesus maak toe spoeg van grond
en so maak hy die man se oë gesond.
Herstel sy sig! (Joh 8:12, Joh 9:5-7)

Jesus: “Glo jy in die Seun van die mens?”
Die man: “Ek glo, Here! Gebed is my wens.” (Joh 9:35-38)

Die blinde man is deur Jesus genees.
Die siende Fariseërs was blind gewees! (Joh 9:39-41)

Hoe kon dit op dag een lig raak
as God die son eers op dag vier maak? (Gen 1)?
Jesus is die lig, daarom sal jy verstaan:
Die hemelse stad benodig nie son en maan. (Op 21:23).

En jy, my liewe kind,
is jy ook siende blind?
Hoor die berig:
“Ek is die lig!”

Ek is: Die opstanding en die lewe

Maria: “Here, Lasarus is siek – kom geneesheer!”
Jesus: “Hy sal nie sterf, maar dit wys Sy krag
en openbaar God se wonderbaarlike mag,
sodat almal die Seun van God kan eer. (Joh 11:3-4)

Sy dood kom van bo,
sodat jule in My kan glo. (Joh 11:14-15)

Marta: “As U hier was, het my broer nie gegaan.
Maar selfs nou sal ek weet en bely
Dit wat U vra, sal U van God kry.”
Jesus: “Jou broer sal uit die dood opstaan!” (Joh 11:21-23)

Ek is die lewe en die opstaan.
Dit moet jy glo en verstaan:
Al het jy gesterf, sal jy bly leef,
want jou sondes is vergeef! (Joh 11:25-26)

“Ja, Here,” sê sy vir Hom,
“ek glo U is God se Seun
die Christus, ja dié Een
wat na die wêreld moes kom.” (Joh 11:27)

Vader, dankie dat U My verhoor het in die uur
nou kan hierdie mense glo U het my gestuur.
“Lasarus, kom uit!”, ‘n kort sin,
maar daarmee het hy dood oorwin! (Joh 11:40-43)

Ek is: Die weg, die waarheid en die lewe

Moenie jou ontstel nie, glo in My en weet:
Ek maak vir jou ‘n woonplek gereed. (Joh 14:1-2)

Hoe kan ons die weg daarheen ken?
Hoe kan ons toegang tot die woonplek wen?
Ek is die weg, die waarheid en die lewe:
Net deur My word jy toegang gegewe. (Joh 14:5-6)

Neem aan wat ek jou sê:
Kennis en wysheid moet jy hê.
Dan sal jy teen verkeerde kan stry
en op die regte paaie bly! (Spr 2:9-13)

Hoe sal ons tot die einde kan wen?
Ek stuur ‘n Voorspraak om by julle te wees:
Een van waarheid, ja die Heilige Gees.
Hy sal by julle bly en julle sal Hom ken. (Joh 14:16-17)

Die Gees sal julle alles leer
en herinner: Ek kom weer! (Joh 14:26-28)

Ek is: Die Wingerdstok

Ek is die ware Wingerdstok
My woorde mag jou dalk skok:
Ja, slegte lote gooi ek weg…
Die wat vrug dra, snoei ek reg! (Joh 15:1-2)

Sonder om in my te bly
sal jy nie vrugte daar kan kry.
Ek is die stok, jy die loot –
sonder my gaan jy dood! (Joh 15:4-6)

As julle in My bly
en Ek my woorde in julle kry,
vra dan net wat julle wil hê,
en Ek sal dit julle nie ontsê,
want so word julle, My dissipels, se vrugte meer
en juis daardeur kry my Vader die eer.

Die vrug wat ek soek,
is die liefde in my Boek.
Julle moet in My liefde bly
om mekaar nog meer lief te kry. (Joh 15:9)

As julle my opdragte uitvoer,
sal julle in my liefde bly,
net soos Ek die opdragte doen van die Boer
net so is Sy liefde in My! (Joh 15:10)

Ek sê dit vir joú wat hier lees
sodat My blydskap in jou kan wees
en jou blydskap volkome kan word
en jy My liefde na ander uit kan stort (Joh 15:11-12)

Uit die wingerd vrug kom wyn.
Nagmaal herinner jou van Sy pyn.
Niemand kan groter liefde hê
as om Sy lewe vir jou af te lê! (Joh 15:13)

Sien en glo: Ek is

Twaalf mandjies se oorbly brood opgetel
Ek is die brood!
Nou kan ek my kan versadig.
‘n Blinde man se sig herstel
Ek is die Lig!
Verligtend my ook begenadig…

Ek ken my skape en hulle ken My
Ek is die Herder!
Ek hoef nie meer vir gevaar te bewe
Vir die skape die troos daarby:
Ek is die ingang!
Dis ook my deur na die ewige lewe…

Lasarus uit die dood opgewek
Ek is die opstanding en lewe!
Die dood is oorwin, dit is ‘n feit.
Die dissipels is bekommerd oor sy vertrek
Ek is die Weg en Waarheid!
Net met dié pad kom ek by God uit.

Jy is ‘n loot in My boord,
Ek is die Wingerdstok,
so bring liefdes vrugte voort!

Wat julle ook al vra

Wat julle ook al in My Naam vra,
(die Middelaar wat vergewe en versoen)
en daarin My heerlikheid op die hart dra
sál Ek dit doen! (Joh 14:13-14)

As julle in My bly
en Ek my Woorde in julle kry,
en julle gebede vir vrugte vra,
sál julle alles kry wat julle in My Naam vra. (Joh 15:7-8,16)

As julle die Vader in My Naam vra
en God se eer daarin opdra
en vra vir vrugte van die Gees
dan sal julle blydskap volkome wees. (Joh 16:23-35)

PDF DIGBUDEL : JOHANNES

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Exit mobile version