GEDIGTE UIT I II III JOHANNES

Jy ís deel van God se gesin (I Joh oorsig)

Uit liefde word jy deel van Sy gesin.
In dié huisgesin is sonde nie meer in,
ja, hier maak liefde nou meer sin!
Weet verseker jy bly ewig daarin.

Uit liefde word jy deel van Sy gesin.

Ons het die liefde van die Vader ondervind:
Deur Sy liefde noem Hy ons Sy kind!
Wanneer ons broer, Jesus, weer kom,
word ons verander net soos Hom. (I Joh 3:1-2)

Jy is kind van God as jy glo:
Jesus is die Christus van bo.
As jy Sy Vaderliefde vind,
is jy lief vir al Sy ander kind. (I Joh 5:1-2).

Van die begin af was Hy daar.
Ons het hom met ons sintuie ervaar.
Ja, ons het aan hom geraak en gebewe.
Hy is die Woord, die Lewe. (I Joh 1:1)

Jy kan weet iemand het die Gees gekry
as jy hoor dat hy die volgende bely:
Ek weet dat Jesus die Christus is
en ook mens geword het, glo ek gewis. (I Joh 4:1-2)

In dié huisgesin is sonde nie meer in

As jy Sy ware liefde kry,
wil jy teen die sonde stry.
Deur die werk van die Gees,
wil jy nou soos Jesus wees. (Joh 5:1-3)

Jesus het gekom om sonde weg te neem,
so, die wat bly sondig is van Hom vervreem. (I Joh 5:5-6)
Die wat die wêreldse dinge begeer,
se ingesteldheid kom nie van die Heer. (I Joh 2:15-16)


As ons beweer ons is met alle sonde klaar,
bedrieg ons oneself – weet dis nie waar.
Maar as ons, ons sondes bely,
sal ons by Hom vergifnis kry. (I Joh 1:8-9)
Jesus sal vir jou voorspraak doen
en ons so met God versoen. (I Joh 2:1-2)

Ja, hier maak liefde nou meer sin!

As daar in jou nie liefde is,
het jy geen Godskennis – gewis!

God het werklike liefde vir ons gewys:
Hy het sy Seun gestuur na sy aardse huis.
Om vir sy kinders ‘n liefdesdaad te doen
en met sy daad hulle sondes te versoen. (I Joh 4:8-10)

As God sy liefde dan só wys,
moet jy dit ook volg in sy huis.
As jul in liefde tot mekaar uitreik,
het God se liefde sy doel bereik. (I Joh 4:8-12)

Moenie soos Kain oorgaan in slegte daad. ( Joh 3:12)
Pasop jy doen dit al as jy jou broer sou haat. (I Joh 3:15)
Ons weet wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Ons behoort ook daardie liefde vir ons broers te hê. (I Joh 3:16)

As jy jou broer gebrek sien ly
en jy hom nie eers jammer kry,
hoe kan die liefde van God in jou wees?
Hoe kan jy dan beweer: Ek het die Gees? (I Joh 3:17-24)

As jou gewete jou aankla,
kan jy in gebed vergifnis vra.
Bly in God se liefdesgebod
dan bly God in jou en jy in God. (I Joh 3:20-24)

Aan die uitverkore vrou (II Joh)

Aan die uitverkore vrou:
Ek skryf die brief vir jou. (II Joh 1:1)
God se barmhartigheid en vrede
is vir jou my bede. (II Joh 1:3)

Hiermee versoek ek nou,
Vir julle daar, geagte vrou:
Liefde is waarna julle moet strewe –
dit is om na God se gebooie te lewe. (II Joh 1:5-6)

Daar het baie misleiers te voorskyn gekom.
“Jesus het nie mens geword”, sê hul van Hom.
Hulle is die antichris, wees vir hulle bang!
Moet hulle glad nie in julle huise ontvang. (II Joh 1:8-10)

Ontvang hulle in jou huis (III Joh)

Liewe Gaius, ek hoop dit gaan met jou vlees,
so goed soos dit gaan met jou gees. (III Joh 1:2)

Jy doen reg om gelowiges te neem in jou huis.
Help hulle ook nou vir hulle verdere reis. (III Joh 1:5-6)
Dis julle bydrae om heidene van Christus te leer,
want hulle reis om te vertel van Christus, hul Heer. (III Joh 1:7-8)

Diotrefes gaan daar by julle voor,
maar ons het slegte dinge gehoor:
Hy wil nie medegelowiges ontvang
en die wat dit doen maak hy bang. (III Joh 1:9-10)

Liewe Gaius, moenie na sy voorbeeld kyk.
Wie verkeerd doen het van God gewyk,
wie goed doen behoort aan Hom.
Mag Sy vrede julle verstom! (III Joh 1:11,15)

PDF DIGBUDEL: I II III JOHANNES

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading