Site icon Tot U eer

GEDIGTE UIT HEBREËRS

Jesus, jou krag vir lam knieë (Hebreërs).

Vir die wat se hande so slap hang
Ja, jy wat die uitkoms so verlang:

As Jesus se kommunikasie jou hart aanraak,
besef jy Hy is die Hoëpriester, so volmaak!
Met Hom as rolmodel in jou lewe,
kan jy na die uitpunt strewe!

Deel 1: As Jesus se kommunikasie jou hart aanraak…
In die begin het God op baie maniere gepraat,
in die laaste dae praat Hy deur sy Seun se daad.
Koninklik, meer as die engele, is Hy nou,
daarom moet jy vas aan sy boodskap hou.

Moses het getrou in die aardse huis gewerk.
Jesus, is groter en werk getrou in God se kerk.
As jy vandag maar wou luister en vertrou,
wag daar rus in die hemelse vaderland vir jou!

Deel 2: …besef jy Hy is die Hoëpriester, so volmaak!

Met een offer het hy vir alles betaal
Jou sonde weeg nou nul op die skaal!
Met sy sterwe skeur die skeiding na Hom toe oop
Jy kan nou met vrymoedigheid na Hom toe loop!

Jy moet Jesus as jou volmaakte Hoëpriester verstaan,
dan sal jy met vrymoedigheid in gebed na God toe gaan!

Deel 3: Met Hom as rolmodel in jou lewe, kan jy na die uitpunt strewe!

Die wolk van geloofsgetuies moedig ons aan:
God hou sy beloftes – dis wat jy moet verstaan!
Hy is jou rolmodel om vas te byt
en so kom jy by die bestemming uit!

Al maak die swaarkry nou so seer
Hy tug jou om jou te leer:
Hou jou oog net op My gerig,
want jy is op pad na die ewige Lig!

God praat met jóú

In die verlede het God op baie maniere gepraat: (Heb 1:1)
Mense kon Sy stem hoor in die natuur. (Ps 19:2-5, Rom 1:19-20).
Hy het ook deur drome sy boodskap gelaat (Gen 28:12-15).
Profete het dringend geroep tot die laaste uur, (Jer 16:1-4).

maar nou…

het Hy ons verdere guns verleen:
Nou praat Hy deur Sy seun! (Heb 1:1).
Sy boodskap moet julle nie mis,
want kyk net wie Hy is:

Deur Hom is die wêreld gemaak. (Heb 1:2, Joh 1:3, Kol 1:16).
God het Hom erfgenaam van alles laat raak. (Heb 1:2).
Jy sien die heerlikheid van God uit Hom straal, (Heb 1:3, Joh 1:14, Joh 14:9, Kol 1:15, Kol 2:9)
maar tog het Hy vir jóú sonde betaal! (Heb 1:3)
Hy het jou van binne skoongemaak (I Joh 1:9)
sodat jy nie sal terughou aan God se taak. (Heb 9:14, Heb 10:21-22)

Hy hou alles deur sy magswoord in stand. (Heb 1:3, Kol 1:17).
Hy sit in die hemel aan God se regterhand. (Heb 1:3, Ps 110:1, Mat 22:44; Mat 26:64; Mark 12:36; Mark 14:62; Luk 20:42-43; Hand 2:34-35; Heb 1:13).
Hy is bo die engele verhewe (Heb 1:4).
en is die beeld van God wat lewe! (Joh 14:9, Kol 1:15, Kol 2:9).

Hy praat as jy jou Bybel begin lees:
Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” (Gen 1:3)
Ja, Hy wil oor Sy lig en liefde praat,
vervat in Sy Seun se verlossingsdaad.

Gryp die boodskap vas

God het ons verdere guns verleen:
Nou praat Hy deur Sy Seun! (Heb 1:1).
Sy boodskap moet julle nie mis,
want kyk net wie Hy is:

Deur Hom is die wêreld gemaak.
God het Hom erfgenaam van alles laat raak. (Heb 1:2).
Jy sien die heerlikheid van God uit Hom straal,
maar tog het Hy vir jóú sonde betaal! (Heb 1:3)

Hy hou alles deur sy magswoord in stand.
en sit in die hemel aan God se regterhand. (Heb 1:3).
Hy is die beeld van God wat lewe
en is bo die engele verhewe (Heb 1:4).

Al woon engele ook daar,
word Sy verhewendheid verklaar.
In die hemelse troonsaal
word die Koning se kroning verhaal:

Jy is my Seun, kom nader
van vandag af is Ek jou Vader. (Heb 1:5, Ps 2:7, II Sam 7:14).
Al die engele in gelid
moet hierdie Koning aanbid. (Heb 1:6).

U troon, o God, staan vir ewig vas
U het die reg lief, onreg is onvanpas. (Heb 1:8).
Aardse dinge sal vergaan,
maar U bly altyd bestaan (Heb 1:11).

Sit aan My regterhand,
Ek gee jou vyand in jou hand. (Heb 1:13).
Engele is geeste wat gelowiges dien,
kan jy die Seun se grootheid sien? (Heb 1:14).

As jy Jesus se verhewendheid begryp
moet jy die boodskap kragtiger vasgryp. (Heb 2:1)
Maar hoe sal jy die straf ontkom
as jy nie luister na die boodskap van Hom? (Heb 2:2)

Ten spyte dat jy voortdurend sondig,
het Hy die saligheid aan jou verkondig. (Heb 2:3)
As jy die boodskap vashou en lees,
deel jy ook in die gawes van die Gees. (Heb 2:4)

Glo jy deel in die heerlikheid daarbo!

Ons is vir die Here afgesonder
en deel aan die hemelse roepings wonder.
Let daarom noukeurig op Jesus, want Hy
is die Hoëpriester van die geloof wat ons bely. (Heb 3:1)

Moses was die grootste man, onthou
hy was in die huis van God getrou. (Heb 3:2)
Jesus het egter die geestelike huis gebou. (Heb 3:4-6, I Pet 2:4-5).
Hy is hoeksteen en maak stene van my en jou! (Ef 2:20)

Ons is Sy huis as ons maar net
vashou aan die hoop wat ons het. (Heb 3:6).
Die hoop beteken dat ons vas en seker glo
dat ons, as huis, deel is van die heerlikheid daarbo! (Rom 5:2).

Luister vandag nog!

Kom ons jubel tot eer van die Heer.
Laat ons juig oor die rots waar ons redding vind.
Laat ons na Hom toe gaan met lof en eer,
want ons is die Here, die magtige, se kind. (Ps 95:1-7).

As julle vandag maar na Hom wou luister… (Heb 3:7)

Moenie hardkoppig wees soos destyds in die woestyn:
Julle voorvaders het My geduld beproef
en vir veertig jaar was hulle daaroor bedroef.
Ek het hulle rus vir ewig laat verdwyn… (Ps 95:8-11, Heb 3:7-11).

Solank daar nog ‘n vandag is, spoor mekaar aan… (Heb 3:13)

Ons behou ons deel as ons enduit volhard
en God nie hardkoppig in ongeloof bly tart.
Die volk het destyds deur hul ongeloof
hulle ewige rus verloor wat God beloof. (Heb 3:12-19).

Die belofte van rus is nog van krag, glo dit vandag (Heb 4:1,7).

As jy die ewigheidsrus se boodskap verstaan
beywer jou dan om in daardie rus in te gaan. (Heb 4:6-11)
God het van Sy werk gerus op dag sewe
so wag daar rus vir jou in die ewige lewe! (Heb 4:3-4, 9-11).

As julle vandag maar na Hom wou luister… (Heb 3:7)

Die skerp tweesnydende swaard blink
en kloof oop wat jy bedoel en dink…
Ja, die skalpel van die Woord opereer
om jou te herstel na God se eer.
Jy hoef nie die dag van rekenskap te vrees,
want die sprekende God genees! (Heb 4:12-13).

Gaan jy vandag nog daarna luister?

Die brug Bouer

Jou Hoëpriester is hieraan getrou:
Sy taak is om vir jou ’n brug te bou.
Oor die brug bring Hy God na jou (Heb 4:14-16).
Hy neem jou daaroor na God – vertrou! (Heb 5:4-10).

Kom terug
na die brug!

Oor die brug bring Hy God na jou (Heb 4:14-16).
Het jy al die boodskap verstaan?
Hy het op aarde vir jou gely
en het reeds deur die hemele gegaan
so, hou vas aan die geloof wat jy bely (Heb 4:14).

Ons Hoëpriester sal ons swakhede verstaan,
want Hy het self in versoeking gestaan.
Kom ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon,
en word daar met barmhartigheid en genade gekroon. (Heb 4:15-16).

Hy neem jou daaroor na God – vertrou! (Heb 5:4-10).
Jesus is ons Hoëpriester wat God geroep het. (Heb 5:4-7).
Op aarde was Sy offers smekinge en gebed.
Sy gebede is verhoor vanweë sy onderworpenheid.
Deur Sy lyding het hy geleer van gehoorsaamheid (Heb 5:8).

Sy eindpunt op aarde was volmaaktheid
en daarom is Hy die bron van saligheid. (Heb 5:9).
Hy is eenmaal geoffer om baie sonde weg te neem.
As Hy weer verskyn, verlos Hy jou van jou pyn! (Heb 9:28).

Kom terug na die brug
God het na jou toe oor die brug gekom,
Glo jy regtig in Hom?
Hy het jou gereinig om saam terug te gaan,
Stap jy al aan?

Moenie met God se genade speel

Hoe gaan ek julle oor ‘n moeilike saak inlig:
Julle word nog maar met melk gevoed
terwyl julle al ander moes kon onderrig
en moes kon onderskei tussen sleg en goed? (Heb 5:11-14).

Die leer oor die bekering en geloof was die begin,
daarna is julle ingelig oor doop en handoplegging.
Toe oor opstanding uit die dood en die ewige oordeel,
maar nou moet ek ‘n dieper boodskap ook deel… (Heb 6:1-3).

Wanneer mense een keer deur God verlig is
en met die hemelse gawe en Heilige Gees belig is,
die goeie woord van God kon leer ken as Sy kind
en die kragte van die toekomstige wêreld kon ondervind
en dan nogtans afvallig geword het van hierdie leer
is dit onmoontlik om hulle weer tot God te bekeer.
In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God
en is dit asof hulle Hom in die openbaar bespot. (Heb 6:4-6).

Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant,
is ons oortuig julle is gered deur God se hand.
Julle is besig om medegelowiges te dien
So, God kan jul liefde vir Sy Naam sien. (Heb 6:9-10).

Dit is ons vurige wens dat elkeen van jul
met ywer sal hoop tot God sy beloftes vervul. (Heb 6:11-12).
Die anker van hoop is agter die voorhangsel vas
waarheen Jesus vir ons die Voorloper was. (Heb 6:19-20).

So wat hierdie boodskap met jou wil deel:
Moenie met God se genade speel!
Maar gelowiges hoef nie vir dié boodskap te skrik:
want “Niemand sal hulle uit My hand ruk –
Ek gee hulle die ewige lewe, moet jy verstaan
en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan.” (Joh 10:28-29)

Jy kan sing, want dit is volbring.

Die Bybel het ons min van Melgisedek geleer,
maar beklemtoon hy bly priester altyddeur. (Heb 7:3, 1953).
Die Hebreërs skrywer verbind hom aan Jesus
om te wys dat Hy ‘n beter priester as die aardse is.

As hierdie volmaakte Hoëpriester dan ‘n offer bring,
roep Hy uit: “Dit is volbring!” (Joh 19:30).
Sy een offer het my en jou sonde vergewe
en daarom sal ons nou ewig by Hom lewe. (Heb 7:27-28).

Die nuwe verbond

Ons het ‘n volmaakte Hoëpriester, dis ‘n feit:
Hy sit aan die regterhand van die Majesteit. (Heb 8:1).

Die aardse priesters bedien ‘n skadubeeld van wat sou kom
en bring offers in ‘n afbeelding van die hemelse heiligdom. (Heb 8:3).
Die ware verbondstent is opgerig deur Hom.
Ja, Hy is die Bedienaar van dié heiligdom. (Heb 8:2).

Die voorvaders was deel van ‘n verbond
met die beloftes van ‘n nageslag en grond. (Gen 12:2-3, Heb 8:10)
Hy is die Middelaar van ‘n beter verbond
en dit is op uitnemender beloftes gegrond. (Heb 8:6).

Die nuwe verbond sal beter wees:
Dit beloof die inwoning van die Gees.
Sy volk se sondes dan vergete en vergeef
en hulle sal met kennis van God vir Hom leef. (Jer 31:31-34).

Hierdie beker is die nuwe verbond beseël deur my bloed
wat vir julle vergiet word om vir julle sonde te boet. (Luk 22:20).
Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink
tot my gedagtenis om oor julle vergifnis te dink. (I Kor 11:25).

Ek sal hulle God wees
en in hulle harte kry hul die Gees.
Hulle moet my volk wees
en hulle moet My ken en vrees. (Heb 8:8-10).

Skielik het uit die hemel ‘n stormwind gebrul,
hulle het vuur gesien wat in tonge verdeel.
Almal is met die Heilige Gees vervul
en het in ander tale die evangelie gedeel. (Hand 2:2-4).

Aan sy verbond het ek ook deel
dit is met my doop so beseël.
My sonde is daarom vergeef
en ek het die Gees wat in my leef!

Die erediens

In die tabernakel was daar ‘n kandelaar:
Dit het gesimboliseer God was daar. (Heb 9:2; Op 1:12-13,20)
Die tafel met offerbrode het verklaar
die volk is vir Sy sorg dankbaar. (Eks 25:23,30; Lev 24:8-9)

Die Allerheiligste was toe met ‘n gordyn. (Heb 6:19; Heb 9:3; Heb 10:20)
Net die Hoëpriester kon voor God verskyn. (Heb 9:8).
Die gerubs het die heilige ark daar bewaar. (Heb 9:5, Eks 25:22).
Met bloed moes hul, hul sonde verklaar. (Heb 9:10).

Maar Christus het as Hoëpriester gekom,
Hy dien in die hemelse heiligdom. (Heb 9:11-12)
Met Sy eie bloed is ewige verlossing verkry (Heb 9:12)
en dit maak my en jou se gewete vry! (Heb 9:14)

Vir die nuwe verbond moes Jesus sterf,
sodat ons uit sy testament kon erf. (Heb 9:16-17)
Hy stel die verbond in met Sy bloed
en het so vir ons oortreding geboet. (Heb 9:19-22)

Jesus se pyniging,
lei tot my reiniging!
Hy het in die hemel self ingegaan
en daar vir my voor God gestaan. (Heb 9:23-24).

Die voorhangsel het geskeur:
Ek kan nou vrylik daardeur (Heb 10:19-20)
vir die wonderlik rede
om met God te praat in gebede.

Jesus was ‘n eerste keer hier
om die sonde te kom kuur. (Kol 1:19-20)
Die tweede keer kom Hy met verlossingskrag
vir die wat Hom bly verwag. (Heb 9:25-28)

Die ou erediens word dan vervang
met miljoene engele in sang.
In die stad van die lewende God eer ons Hom
dat ons vir ewig feestelik daar saam kan kom. (Heb 12:22-23).

Alles is nou waardeloos hier op aarde,
want om Jesus te ken oortref alles in waarde.
Om Jesus Christus as bate te kan verkry
is meer belangrik as enige iets vir my. (Fil 3:7-8).

Geloof in wat God beloof

Dink terug aan vroeër dae:
Julle het gely sonder om te kla.
Julle het in die stryd staande gebly
en saam met die gevangenis gely.

Julle het met blymoedigheid aanvaar
toe hulle julle besittings vir hulle vergaar,
want julle heg nie daaraan waarde:
Julle besitting is beter en blywend in waarde (Heb 10:32-34).

Moenie prysgee om in geloof te vertrou:
Dit hou ‘n groot beloning in vir jou!
Om te ontvang wat God beloof,
moet jy volhard in Sy wil met geloof. (Heb 10:35-36)

Binne ‘n kort tydjie sal elke mond verstom,
want Hy wat weer kom, sal dan kom!
Die wat vrygespreek is sal lewe
die wat teruggedeins het sal bewe… (Heb 10:37)

Die definisie van geloof: Om te glo
is om seker te wees van wat ons hoop daarbo,
om oortuig te wees van wat ons nie sien nie:
ja, van beloftes wat ons nie verdien nie! (Heb 1:1)

Ons weet die wêreld is deur God geskep, want ons glo
die sigbare dinge het ontstaan uit woorde van Bo. (Heb 11:3).
Vanweë Abel se geloof het God sy offer aangeneem (Heb 11:4)
omdat Henog geglo het, is hy lewend weggeneem (Heb 11:5)

As mens nie glo nie, kan jy nie Sy wil doen:
Jy moet glo jy is met Hom versoen.
Ja, wie tot God nader
moet glo Hy is jou Vader
en as jy soekend na Hom gaan
bied Hy vir jou ‘n beloning aan (Heb 11:5-6).

Noag is gewaarsku oor dinge wat hy nie kon sien.
Die hamerhoue aan die ark was ‘n stille preek: (II Pet 2:5)
God gaan Hom oor die sonde wreek!
Geloof sal jou vryspraak laat verdien. (Heb 11:7)

Jy moet in hierdie geskiedenis lees
hoe sterk jou geloof moet wees.
Dink ook terug aan jou eie verlede
en meet jou geloof in die hede. (Op 2:5)
Om te ontvang wat God beloof,
moet jy volhard in Sy wil met geloof.

Die lewenswedloop

Die tyd is te min om te vertel van elke verhaal,
van rigters en konings wat oorwinnings behaal.
Vuur is geblus en vir leeus was hule nie bang,
want hulle het in swakheid krag ontvang. (Heb 11:32-34).

Vroue het in geloof hul kind
uit die dood teruggevind.
Ander gelowiges wou nie vir vrylating betaal,
met die wete: Hulle word vir ‘n beter lewe kom haal. (Heb 11:35)

Van die bespotting en lyfstraf moet julle ook hoor:
Gelowiges is doodgegooi, in stukke gesaag en vermoor.
Hulle het gebrek gely en is verdruk in pyn.
Hulle het rondgeswerf in die woestyn. (Heb 11:36-38).

Hoewel mens so kan getuig oor hulle geloof,
het hulle nie gekry wat God beloof,
want God het vir ons iets beter beoog
hulle word nie sonder ons verhoog. (Heb 11:39-40).

Al hierdie gelowiges waarvan ons hier getuig
is besig om ons aan te moedig en toe te juig,
want voor ons lê die lewenswedloop
wat ons volhardend moet bly hardloop.

Hou die oog gevestig op wat God beloof:
Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Hou Hom voor oë in jou wedloop en dag se taak
dan sal julle sal nie geestelik moeg word en agter raak. (Heb 12:1-3).

Hardloop vir die wedloop se loon:
Dis ‘n onverganklike oorwinnaarskroon!
Gefokus op die doel om te kwalifiseer
oefen ek en bring my liggaam onder beheer. (I Kor 9:24-27, II Tim 4:7-8, Fil 3:13-14).

Dra jy soms in die wedloop swaarder gewig?
Die wat God lief het sal Hy ook tug…
Dit vorm jou en lewer goeie vrug
en bring jou na God se wil toe terug. (Heb 12:4-11).

Laat jou slap hande weer sterk vat
en versterk die lam knieë op die pad. (Heb 12:12-13)
Elkeen wat die oorwinning behaal
sal God by die wenstreep kom haal. (Op 2:17, II Tim 4:7-8)

Sinai en Sion

Sinai was ‘n tasbare berg
waar julle jul gesig moes verberg.
Dit was ‘n brandende vuur en donderwolk
waar Moses God se boodskap moes vertolk. (Heb 12:18-21, Deut 4:11-12, Eks 19:16-19, Eks 20:18-20).

By die Sionsberg hoef julle nie te bewe:
dis die stad van die God wat lewe.
Miljoene engele is feestelik vergaar
en die wat se name opgeteken is, is ook daar. (Heb 12:22-23).

Vir die Regter maak die sonde nie meer saak
want deur sonde vergifnis is hulle volmaak.
Ja, hulle is daar vry verklaar
en is by Jesus, hul Middelaar! (Heb 12:23-24).

Die wat by Sinia nie wou luister het nie ontkom.
Pas op – Hy praat nou uit die hemel: luister na Hom!
Soos by Sinai sal die aarde weer een keer bewe
en word weggeneem alles wat dan nog lewe… (Heb 12:25-26, Hag 2:6).

Dien Hom met eerbied en ontsag tot dié uur,
want God is ‘n verterende vuur!
Maar jý – wees dankbaar en nie bang:
Jy het die onwankelbare koninkryk ontvang. (Heb 12:28-29).

My erediens

Wees lief vir jou Christen broer
en gasvry as ‘n vreemdeling inloer,
Behandel gevangenes asof jou ook daar
en wees in die huwelik getrou aan mekaar. (Heb 13:1-4).

Julle moet geldgierigheid verset:
Wees tevrede met wat jy het! (Heb 13:5)
Die Here sal jou nooit verlaat
wees daarom nie bang vir ’n ander se daad. (Heb 13:6)

Onthou in elke dag se velle stryd:
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Heb 13:8).

Julle moet jul tot Hom bekeer
en julle nie laat meevoer deur ‘n vreemde leer.
Laat jou hart deur Sy genade versterk
en nie deur gewoontes in die kerk… (Heb 13:9)

Offerdiere word buite die laer verbrand,
so was Golgota ook aan die stad se buitekant.
Gaan daarom ook uit om die smaad te dra
en bring vir Hom die offers wat hy vra:

‘n Offer van lof wat Sy Naam bely,
want deur Sy bloed is jy bevry.
Moenie nalaat om goed te doen
dis offers wat jou met God versoen. (Heb 13:12-16).

Mag God jou in Sy wil versterk
en so toerus vir elke dag se werk.
Mag Hy jou vir Hom aanneemlik maak
en sy genade by jou wees in elke taak. (Heb 13:21,25).

O God, laat my hele lewe ‘n erediens wees:
Een waarin ek oorloop van liefde deur U Gees,
sodat ek U genade deur my offers na hulle toe dra,
wat in swaarkry in gebed na U hulp bly vra.

PDF DIGBUDEL: HEBREËRS

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Exit mobile version