GEDIGTE UIT GALASIERS EFESIËRS KOLOSSENSE FILIPENSE FILEMON

Galasiërs oorsig

Paulus se eerste argument (Gal 1,2).

Hierdie evangelie is regtig waar,
want God het dit aan my verklaar. (Gal 1:11,12)
Ek het die apostels ontmoet na veertien jaar
en toe gesien dat ons die evangelie dieselfde verklaar! (Gal 2:1,2)

Jy word nie van sonde vrygespreek deur die wet te onderhou
maar alleen deur in Jesus Christus te glo en vertrou. (Gal 2:15)

Paulus se tweede argument (Gal 3).

Hierdie evangelie wil nie ou dinge omkeer.
Dis reeds so in die Ou Testament geleer.

Dit staan reeds in Genesis so:
Abraham is vrygespreek omdat hy glo. (Gal 3:8,9)
God het eers in die verbond getree
en vierhonderd jaar later die wet gegee. (Gal 3:17).
Wat ons daarin moet sien
is dat ons niks met wetsonderhouding verdien.

God het Sy Seun gestuur op sy tyd
om ons los te koop van slawerny se stryd.
Ons is as kinders van God aangeneem
en so van al ons sonde vervreem! (Gal 4:4-7)

Paulus se derde argument (Gal 5).

Christus het ons vry gemaak
om werklik vry te wees.
Moenie weer ‘n slaaf raak
van wette wat jul lees. (Gal 5:1).

Deur die werking van die Gees
sal jy verstaan wat jy lees.
Jy word vrygespreek deur te glo.
Plaas jou hoop en verwagting daar bo. (Gal 5:5)

Die wet het net een gebod as jy dieper delf:
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself!
Moenie mekaar byt en verskeur,
laat jou lewe deur die Gees beheer.
Wat jou sondige natuur begeer,
is in stryd met wat die Gees jou leer. (Gal 5:14-17).

Die vrug van die Gees
is liefde, vreugde, vrede,
geduld en vriendelikheid sonder rede.
Goedhartigheid,
getrouheid,
nederigheid,
en om jouself te beheers. (Gal 5:22-23)

Kolossense oorsig

Die uitnemendheid van Christus (Kol 1)

Deur die Seun sien ons God se beeld raak,
God het deur Hom alles gemaak.
Voor alles was Hy daar,
en Hy hou alles bymekaar. (Kol 1:15-16)

Hy is hoof van die liggaam, Sy kerk.
Hy hou dit in stand deur Sy werk.
Hy het eerste uit die dood opgestaan
en so die weg na die heelal gebaan. (Kol 1:18)

Versoening kom deur sy bloed,
want Hy het vir ons sondes vergoed.
Ja, deur Sy bloed aan die kruis
kan ons in vrede woon is Sy huis! (Kol 1:20)

Christus plus enige iets is dwaalleer (Kol 2).

Die geheim is Christus en is jy is Sy kind.
In Hom kan jy verborge skatte vind. (Kol 2:3)
Jy moet jou lewe op Hom bou
en in geloof op Hom vertrou. (Kol 2:6)

Pasop dat niemand julle mislei:
Christus plus iets anders is nie Hy. (Kol 2:8,19)
Feeste is ‘n skaduwee van wat sou kom.
Dit gaan eintlik alles net oor Hom. (Kol 2:16-17)
As julle werklik Christus in julle het,
vergeet van die godsdienstige wet. (Kol 2:20)

Die lewe van ‘n nuwe mens (Kol 3 en4).

As jy in sy opstanding glo,
strewe na die dinge daarbo.
Vergeet die aardse dinge en pyn –
jy gaan eendag saam met Hom verskyn. (Kol 3:1-3)

Jy moet die sondige dinge wen (Kol 3:5)
en meer en meer jou Skepper ken. (Kol 3:10)
Jy is nou God se uitverkore kind, (Kol 3:12)
laat liefde julle onderling bind. (Kol 3:14)

Die boodskap vir Christus moet in jou bly,
maar maak ook seker dat ander dit ook kry.
Sing psalms en gesange tot God se eer
en doen alles in die naam van die Heer. (Kol 3:16-17)

Waak en volhard dankbaar in gebed
en bid dat Hy nog mense sal red. (Kol 4:2-3).

Die Kolosse sirkel (Kol 1: 9-12)

Die binneste geloofsgroei sirkel:
Ek bid dat julle God sal leer ken
en deur die Gees, wysheid en insig wen,
sodat julle tot eer van God sal lewe,
en na die vrug van goeie werke strewe.

Die buitenste geloofsgroei sirkel:
Mag julle in kennis bly groei
en krag kry om volhardend te stoei.
Wees oor jou erfenis, wat wag, bly
en laat dit tot ‘n dankbaarheidslewe lei!

Filemon – vergifnis en verlossing van slawerny.

In dieselfde tyd as sy brief aan Kolossense
skryf Paulus ‘n brief met heel ander wense:
Filémon, in my gebede bly ek onthou
en dank God vir jou liefde en trou. (Fil 1:4,5)

My bede is vir dieper insig in wat Christus kan doen
Daarom skryf ek hierdie brief om te versoen.
Uit die gevangenis het ek hierdie brief gerig
om jou te wys waartoe liefde jou verplig. (Fil 1:8,9)

Ek doen ‘n beroep op jou oor Onesimus,
My geestelike kind, hier in die gevangenis
‘n Onbruikbare wegloop slaaf was hy
maar nou is hy bruikbaar vir jou en my. (Fil 1:10,11)

Jy gaan veel meer as ‘n slaaf terugkry:
‘n mens en broer in die Here is hy vir my
Jy moet hom as deelgenoot in die geloof beskou
Ja, ontvang hom, soos jy vir my sou! (Fil 1:16,17)

As hy jou enige iets skuld of skade doen,
Ėk sal betaal, en so jul met mekaar versoen. (Fil 1:18,19)
Aan julle almal wat hierdie lees:
Die Here Jesus sal by julle wees! (Fil 1:25).

En jy leser, van hierdie gedig
Sien jy hierin Christus se lig?
Jy was ook ‘n wegloop slaaf
En word nou as broer in liefde gelaaf…

Die liggaam (Efesiërs oorsig).

Deur God se krag is Christus se opstanding bewerk.
Aan God’s regterhand is Hy nou hoof van die kerk. (Ef 1:19-22)

Die kerk is sy liggaam,
Ja, dis ons almal saam. (Ef 1:23)

Ons, Christene is die kerk se gebou,
maar, Jesus is die hoeksteen, onthou! (Ef 2:20).
Ons is opgebou as geestelike huis
en God self gaan in dié tempel tuis! (Ef 2:21;22)

Hierdie liggaam bly net groei,
as jy met die Woord bly stoei
As jy van die verlossing vertel,
word die wat hoor ook ingetel. (Ef 3:6)

Daar is net één:
Een liggaam wat loof
Een hoop
Een in die geloof
Een doop
Een God. (Ef 4:4-5)

Hy is almal se vader.
Sy werk bring almal nader. (Ef 4:6)
Ons word net werklik een
as ons kennis het van dié Een! (Ef 4:13).

Hy gee gawes vir jou,
om die liggaam mee te bou.
Die onvolwasse kerk as kind
word rondgeslinger in die wind (Ef 4:14)
Ons moet in liefde en waarheid bly,
dan sal ons groei en word soos Hy! (Ef 4:15)
Ons is liggaamsdele wat bymekaar pas:
Elkeen met ‘n doel en dra mekaar se las. (Ef 4:16)


As ons as liggaam wil bly staan,
trek dan die wapenrusting aan:
Die waarheid as gordel om jou lyf vas.
Vryspraak deur God as bors harnas.
Verkondig die evangelie dat God versoen
Ja, Sy vredesboodskap is jou skoen.
Met geloof as skild in die hand
keer jy die bose pyle aan elke kant.
Sit verlossing as helm op
dit hou twyfel uit die kop…
Vat die swaard van die Gees
dit is om baie Bybel te lees! (Ef 6:10-17)

Liggaam, buig jou biddend voor Hom neer.
Smeek by elke geleentheid tot jou Heer.
Ja, vra dat Hy hierdie liggaam bewaar
en lede, bly bid gedurig vir mekaar! (Ef 6:18)

God se plan (Ef 1:1-15)

God se plan (Ef 1:1-15)

Uit God se wonderlike liefde en genade, (Ef 1:5)
ja, nog voor enige van Sy skeppingsdade, (Ef 1:4)
het God bestem dat jy Sy kind kan wees (Ef 1:5)
en dat jy sonder jou sonde sal wees. (Ef 1:7)

Hy het besluit om jou Sy wil te leer. (Ef 1:9)
Ja, Christus is ons hoof, die Heer. (Ef 1:10)
Ons is sy volk, soos bestem lank vooruit. (Ef 1:11)
Hy laat alles gebeur volgens sy raadsbesluit. (Ef 1:11)

Deur jou geloof kan jy hierin deel,
deur die Gees is jy as kind beseël. (Ef 1:13)
Die Gees is die waarborg dat jy sal kry:
ja, volkome verlossing vir jou en my! (Ef 1:14)

Jy moet nou jou dankbaarheid wys
en daarom God se grootheid prys! (Ef 1:12,15)

Uitverkies tot eer

Alle lof aan Hom wat die Vader van my Here Jesus is,
wat my seëning, deur die Gees, in Christus is. (Ef 1:3)

Nog voor die grondlegging van die wêreld se ontstaan
is ek verkies om sonder gebrek in liefde voor God te staan.
Ek is voorbeskik as kind van Jesus, Christus my Heer.
Die doel: Tot lof van Sy genade se heerlikheid en eer! (Ef 1:4-6)

Deur Sy bloed: Verlossing van al my sonde dade.
So kry ek vergifnis na die rykdom van Sy genade! (Ef 1:7)

Die verlossings pad het hy aan my bekend gemaak:
Ja, in Sy welbehae, Sy voorgenome liefdesdaad:
In die volheid van die tyd sal almal loof,
want hulle is verenig onder Christus as hoof. (Ef 1:8-10)

In Christus het ek die erfdeel ontvang
wat my laat oorvloei in lof en sang.
Dit het gebeur toe ek hoor: Sondig…
maar tog is verlossing aan my verkondig! (Ef 1:11-13)

Ek het die evangelie gehoor en so tot geloof gekom
en so het ek deel van die volk van God geword.
As versekering is die Heilige Gees in my uitgestort.
Prys dan sy grootheid en gee alle eer aan Hom! (Ef 1:14)

So nou dat ek dit alles verstaan,
wil ek in dankbaarheid tot lof oorgaan:
U het mý lankal uitverkies, o Heer.
Aan U kom toe heerlikheid en eer!

Gered (Ef 2:1-10).

In jou ou lewe het mens net sonde gesien (Ef 2:1)
daarom het jy God se straf verdien. (Ef 2:3b)
Maar jy is deur God se liefde aangeraak (Ef 2:4)
en saam met Christus lewend gemaak! (Ef 2:5)

Hy het ons ‘n plek in die hemel gegee. (Ef 2:7)
Het ons dit self verdien? O nee! (Ef 2:8,9)
So, waaraan moet ons nou ons lewe wy?
Aan goeie dade – net soos Hy! (Ef 2:10)

Wapenrusting vir berusting

Die lewe het soveel druk
en jy vind nie ware geluk.
Jy gee nou maar bes
en vou onder die stres…

Die werk word net meer en meer
Stroom versnellend meegesleur
begin jy dink:
Ek verdrink…

Jou stryd is nie teen bloed of vlees,
maar teen mag, gesag en bose gees.
Trek die volle wapenrusting aan
dis al hoe jy kan bly staan. (Ef 6:11-13)

Gaan jou lewe ook so wild?
Vat dan die geloof as skild.
Al hoe jy twyfel se pyle kan keer
is met vertroue op die Heer. (Ef 6:16)

Jy kry nie jouself of ander vergewe
en bly daarom in jou verlede lewe.
Jy vergeet van sewentig maal sewe
en so bly verwyt aan jou klewe.

Vergeet die slegte verlede
en kom terug na die hede:
Haal die Woord swaard uit sy skede
en kniel afhanklik in jou gebede. (Ef 6:17-18)

Die band van die verlede is gebreek,
jou brose hart agter die borsharnas weggesteek.
Ja, God het jou van alles vrygespreek,
jou klere in die gordel van waarheid ingesteek. (Ef 6:14)

Voel die werk steeds te veel,
meer as waarmee jy kan deel?
Sit dit alles op ‘n lys
en vra God om jou die pad te wys.

Vir alles is daar nie tyd
vra God na Sy prioriteit.
Daar waar jy werk en swoeg
weet net God wanneer is dit genoeg.

Te midde van die oorlog sonder rede
bring God Sy evangelie van vrede.
Trek aan jou sending skoen
dat jy ander met God versoen. (Ef 6:16)

Te midde van lewensdruk
wag daar ware geluk.
Sy wapenrusting
bring die berusting.

Hoe lank gaan jy nog wag?
Voort stoei in eie krag?
Kom sommer nog vandag
en maak Sy wapenrusting jou drag.

Eerder

Dit wat niksbeduidende gedagtes bied,
is om nie van beter as losbandigheid te weet. (Ef 4:17).
Word EERDER in die aard van jou denke vernuut,
ja, trek die nuwe mens aan as jou kleed. (Ef 4:23-24).

Hou op om aan te hou steel,
EERDER werk, sodat jy kan deel. (Ef 4:28).
Jy moet ‘n afbrekende woord weerhou,
spreek EERDER ‘n woord om mee te bou. (Ef 4:29).
Moenie in kwaad en woede lewe,
EERDER, soos Christus, mekaar vergewe. (Ef 4:31-32).

Geen onreinheid,
onsedelikheid
of gierigheid,
EERDER dankbaarheid. (Ef 5:3-4).

Moenie deel van die werke van die duisternis raak,
stel dit EERDER, deur ontmaskerende lig, aan die kaak. (Ef 5:11).
Moenie in boosheid en onverstandigheid voortgaan,
maar probeer EERDER die wil van die Here verstaan. (Ef 5:16).
Moenie deur wyn bedwelmd wees,
word EERDER vervul deur die Gees. (Ef 5:18).

Word so as nuwe mens ’n leerder,
van wat God se wil in jou lewe moet wees.
Word so vervul deur die Heilige Gees,
en onthou deurgaans die woordjie “EERDER”.

Filippense oorsig

Al wonder ek of lyding baat, (Fil 1)
en gee my lig amper mee. (Fil 2)
Al is die lewens wedloop swaar (Fil 3)
en is my blydskap nie altyd daar, (Fil 4)
Tog weet ek, ek is tot alles in staat
deur Hom wat my die krag gee. (Fil 4:13).

Lyding deur die gelowige se bril (Fil 1).

Ja, hier in die tronk kry ek swaar,
maar ek kon die evangelie verklaar.
Die keiserlike wag is nou ook by die kerk
en my broers is in hul vertroue gesterk! (Fil 1:12-14).

Ek kan wel hier die doodstraf kry,
maar ten spyte daarvan is ek bly:
Want Christus is my lewenskuns
en om te sterwe is vir my wins. (Fil 1:21-22)

Jou lewe moet volgens die evangelie wees:
Eensgesind, standvastig, onbevrees.
Dis jou voorreg om in Sy diens te bly,
en ook om ter wille van Christus te ly. (Fil 1:27-29).

Leef soos ligdraers (Fil 2).

Julle het die troos in Christus ondervind,
die aansporing van liefde as Sy kind
en die gemeenskap deur die Gees.
Daarom moet julle nou eensgesind wees. (Fil 2:1-2).

Julle moet Christus se gesindheid vertoon:
Hy kon goddelik in die hemel bly woon.
Hy het as slaaf aan die mens gelyk geword,
en deur die kruis verneder tot in die dood! (Fil 2:5-8).

Daarom het God Hom bo alles verhef,
sodat elke knie sou buig en besef:
Jesus Christus is die Heer,
tot God die Vader se eer (Fil 2:9-11).

Leef God se wil as verloste mense saam.
God maak julle daartoe gewillig en bekwaam.
Te midde van die ontaarde en korrupte mens,
dra My lig, ja, die Woord, uit. Dis My wens, (Fil 2:12-16).

Die lewens wedloop (Fil 3).

Ek beskou my bates as waardeloos op aarde.
Om Christus te ken oortref alles in waarde.
Ek los alles om Christus as bate te kry:
Deur in Hom te glo, spreek Hy my vry! (Fil 3:7-9).

My wens is om Christus te ken as kind,
die krag van sy opstanding te ondervind.
Ek stel my gewillig aan Sy lyding bloot
en deel aan die opstanding uit die dood! (Fil 3:10-11).

Ek maak my los van agter se verloor,
en strek my uit na die wenstreep voor,
sodat ek die hemels prys kan behaal,
waartoe God my geroep het en kom haal! (Fil 3:13-14).

Blydskap en vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4).

Wees altyd bly,
ja, bly in die Heer.
Die Here is naby.
Bid wat jy begeer.
Wees nie besorg,
smeek by jou Borg. (Fil 4:4-6)

Die vrede van God wat verstand te bowe gaan,
sal oor jou hart en gedagtes wag bly staan. (Fil 4:7)

Alles wat waar is,
alles wat edel is,
alles wat mooi is,
alles wat prysbaar is,
dit is wat in jou gedagtes moet wees.
God is by jou met sy Vredesgees. (Fil 4:8).

Vrede in twintig-twintig

Ek kan self, en gaan alles beheer –
Die jaar twintig-twintig wil jou omkeer.

Die woeste jaar is amper verby:
Baie het die virus gekry.
Werkloosheid het toegeneem.
Afsondering het baie vervreem.
Ander is wreed vermoor.
Party in brande alles verloor.

Paulus het self deur ‘n moeilike jaar gegaan,
en daarom moedig hy jou uit die tronk aan:

Wees altyd bly,
ja, bly in die Heer.
Die Here is naby.
Bid wat jy begeer.
Wees nie besorg,
smeek by jou Borg. (Fil 4:4-6)

Die vrede van God wat verstand te bowe gaan,
sal oor jou hart en gedagtes wag bly staan. (Fil 4:7)

Alles wat waar is,
alles wat edel is,
alles wat mooi is,
alles wat prysbaar is,
dit is wat in jou gedagtes moet wees.
God is by jou met sy Vredesgees. (Fil 4:8).

Ja, twintig-twintig, die jaar deur God beheer,
wil jou weer gebed, blydskap en vrede leer.

PDF DIGBUNDEL: GALASIËRS EFESIËRS KOLOSSENSE FILIPENSE FILEMON

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading