Moses word opgelei om die volk te bevry
Vir ‘n paar honderd jaar
het die volk vermeerder daar. (Eks 1:7, 20)
So vul hul feitlik Egipteland,
so baie soos die see se sand! (Gen 12:2, Gen 32:12)
Farao het vir hulle begin skrik
en hulle as slawe onderdruk. (Eks 1:11
Toe dit steeds blyk dat hy die stryd verloor,
gee hy opdrag om die seuntjies te vermoor. (Eks 1:22)
God het reeds anders bepaal,
en Moses is uit die mandjie gehaal.
Hy is in die koning se paleis opgelei (Eks 2:1-10)
onwetend dat hy eendag die volk sou lei…
Vir veertig jaar in die woestyn,
moes hy oorlewingskuns verfyn. (Eks 2:21)
God was besig om hom voor te berei
om ‘n hele volk deur die woestyn te lei.
Moses het Christus groter rykdom geag
as die kortstondige paleis en gelag.
Hy het veertig jaar volhard en God gedien
soos iemand wat die Onsienlike sien. (Heb 11:24-27)
God is ook besig om jou voor te berei,
maar probeer jy Chritus of eie rykdom kry?
Wonder jy ook hoekom is jy in die woestyn?
Jy moet volhardend opkyk in jou pyn.
Intussen het die volk gekerm en gekla
en tot God gebid en verlossing gevra.
God het gehoor hoe die gebede klink
en aan sy verbond met Abraham gedink. (Eks 2:24-25)
God het die nood van die volk gesien,
ja, swaarkry wat hulle nie verdien…
Hy het dit ter harte geneem:
Tyd om hulle na Kanaän terug te neem! (Eks 3:8)
In jou sondeslawerny:
Bid tot God – Hy bevry!
Hy bly altyd hoor en sien
en gee ‘n land wat jy nie verdien!
Die bos brand
Daar op die berg se rand
het die bos bly brand…
“Trek uit jou skoene – dis gewyde grond!
Ek is wat Ek is – die God van die verbond. (Ek 3:5-6)
Ek het gehoor en gesien hoe my volk ly,
daarom het Ek afgekom om hulle te bevry.” (Eks 3:7-8)
“O God, ek het ‘n vraag:
Wie is ék dat ek dit by Farao kan waag?”
“Wees nie bevrees:
Ek sal by jou wees.” (Eks 3:11-12)
“Die volk gaan my vra
Wat is die Naam wat U dra?”
“Ek is wat Ek is:
die Verbondsgod – gewis! (Eks 3:14-15)
Gaan sê: Die Here het aan my verskyn.
Hy hoor en sien julle pyn.
Hy gaan julle hier kom haal
na die land wat die belofte bepaal. (Ek 3:17)
Die koning gaan julle nie wil laat gaan,
maar deur God se wonders sal hy verstaan.
As God julle in die woestyn vergaar,
bring vir Hom ‘n dankoffer daar.” (Eks 3:19-20)
Oppad wou die Here Moses doodmaak,
maar sy vrou het hom met bloed aangeraak.
Daarna het sy uitgeroep: Bloedbruidegom!
Deur bloed sal daar vir jou ook beskerming kom: (Eks 4:23-24, 1983 en 1953)
God het vooraf bestem om jou te besprinkel met bloed: (I Pet 1:2)
Jesus het jou gereinig want Hy het vir jou sonde geboet. (I Joh 1:7)
Daardeur het jy nou vrye toegang tot die heiligdom! (Heb 10:19)
Gaan nou, soos Moses, en vertel Sy volk van Hom!
Daar op die berg se rand
is die bos aan die brand…
God het jou reeds opgelei –
Is jy besig om Sy roeping te vermy?
Die nege plae
Ek sal die Farao in opstand laat kom,
sodat ek My mag kan wys deur hom. (Rom 9:17)
Farao, deur wat nou gaan gebeur,
sal jy weet wie is die Heer.
As ek met die kierie gaan slaan,
sal die Nyl se water uit bloed bestaan. (Eks 7:17)
Farao het hom verset
en die volk se trek belet. (Ek 7:32)
God het met paddas Sy mag gewys:
Dit het gewemel tot in die paleis! (Eks 8:1-6)
Bid tot jou God om die plaag af te weer.
U weet daar is geen God soos die Heer! (Eks 8:8-10)
Al het die Farao verstaan,
het hy nie die volk laat gaan. (Eks 8:15)
So baie soos die stof en sand,
was die muggies in die land.
Die towenaars het daaroor verklaar:
Ons het die vinger van God gewaar! (Eks 8:17-19)
Farao het steeds koppig gebly
“Julle kan nie gaan nie!”, sê hy.
Egipte is lam gelê deur die steekvliegswerm,
maar God het Israel daarteen beskerm. (Eks 8:20-24)
Ek kan nie langer hierteen stry:
Gaan offer en bid vir my! (Eks 8:28)
Tog het die Farao ook hierdie keer
hom nie tot God bekeer… (Eks 8:12)
Perde, kamele, beeste en kleinvee is geraak:
Die pes het hulle almal doodgemaak!
Die mense het aan Farao vertel:
Geen dier is dood van Israel! (Eks 9:2-7)
Farao het steeds onversetlik gebly
en die volk van God nie bevry. (Eks 9:7)
Moses het roet van ‘n oond opgegooi
en so swere oor Egipte verstrooi.
Die etter het aanhoudend uitgekom
en selfs die towenaars was verstom. (Eks 9:10-11)
Al kon Farao nie oor God se almag stry,
het die Here hom koppig laat bly. (Eks 9:11)
Ek het jou My mag gewys,
dat die wêreld My kan prys! (Eks 9:16)
Die hael en blitse het alles platgeslaan:
Niks wat buite was het bly staan. (Eks 9:25)
Weer kan mens die koppigheid nie verstaan,
want Farao het steeds die volk nie laat gaan.
Julle moet julle kinders van die wonders leer,
dat hulle kan besef: Ek is die Heer! (Eks 10:2)
Die sprinkane het elke groen sprietjie geëet
Vergewe my: Julle God is Here, ek weet! (Eks 10:17)
Maar die Here het nog ‘n keer
die Farao die trek laat keer. (Eks 10:20)
Vir drie dae was dit donker gewees.
Niemand kon iets sien of lees.
Maar daar waar die Israeliete bly,
het hulle steeds die lig gekry! (Eks 10:22-23)
Vir die negende keer
wou Farao nie leer… (Eks 10:27)
Hierdie verhaal vra vir jou vrae:
Is God in jou lewe al by nege plae?
Het jy al iets uit Sy wonders geleer?
Besef jy al Hy is die enigste Heer?
Of gaan jou nog ‘n keer
jou nie tot Hom bekeer?
Wil jy net nie weet?
Of het jy dalk vergeet?
Smeer Sy bloed aan jou kosyn,
anders deel jy in dood en pyn!
As God dan die laaste plae bring
sal jy ook die lied van die Lam kan sing:
Groot en wonderlik is U werke
Here God, U almag het geen perke! (Op 15:3, 1953)
Die tiende plaag
Elke eersgeborene sal sterf!
Die slafin sal oor haar kind weën.
‘n Gehuil op elke Egiptiese werf.
Selfs die koning sal treur oor sy seun… (Eks 11:4-7)
Smeer bloed van die lam aan die kosyn.
Eet die vleis en ongesuurde brood.
Waar Ek bloed sien, kom geen pyn,
maar anders maak Ek die oudste dood! (Eks 12:7-13)
As herinnering moet julle Paasfees vier.
As julle kinders dit wil verstaan,
vertel hul: God het die dood gestuur,
maar ons eerstelinge oorgeslaan! (Eks 11:24-27)
Om middernag het dit gebeur:
Die eerste is dood al was hy oud of jonk!
Selfs diere is geraak daardeur.
Ja, tot die gevangenis in die tronk… (Eks 12:29-30)
Vat jul goed en trek in die woestyn.
God se wonders moes ek verstaan…
Nou is my eie seun is dood – die pyn!
Bid dat dit met my ook goed mag gaan. (Eks 12:31-32)
Elke eersteling moet jy aan My wy,
en so ook elke eerste manlike dier,
want in Egipte het Ek hom bevry.
Seuns kan jy loskoop met ‘n offerdier. (Eks 12:12-15)
Smeer Jesus se bloed aan jou kosyn,
dan gaan die dood by jou verby.
Drink tot Sy gedagtenis die wyn,
want deur Hom het jy verlossing gekry! (I Kor 11:25)
Die brood is teken van Sy liggaam.
Soos ongesuurde brood is jy vergeef.
Neem die brood en eet dit saam,
dat jy ewig by Hom kan leef! (I Kor 11:23)
Prys God, die almagtige Heer.
Wees bly en juig, gee Hom eer:
Hy het jou met fyn klere getooi
en na die bruilofsmaal van die Lam genooi! (Op 19:6-9)
Hoogverhewe is die Heer!
Ek maak Farao koppig vir ‘n laaste keer,
dan sal Egipte besef: “Ek is die Heer!” (Eks 14:4)
Die Egiptenare storm met strydwaens in gelid
Die volk het bang geword en tot God gebid. (Eks 14:10)
Bly kalm. Waarvoor is julle so bang?
God sal vir jul nood laat oorgaan in sang. (Eks 14:13-14)
Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan
Die water het soos ‘n muur langs hulle gestaan! (Eks 14:21-22)
God het die Egiptenare verwar en en hul wiele het afgekom
Die see het oor hullle gestroom – elke mond het verstom! (Eks 14:24-28)
Die volk is met ontsag vir God gevul
Hulle kon glo dat God beloftes vervul! (Eks 14:33)
Hulle sing toe ‘n lied tot God se eer:
Hoogverhewe is die Heer!
Dit was God se vinger:
Perd en strydwa is in die see geslinger! (Eks 15:1)
U, o Here is my krag.
U beskerm my in die nag.
Die Here oorwin die stryd.
Sy naam is “Here”, vir altyd! (Eks 15:2-3)
Dit was God se vinger:
Perd en strydwa is in die see geslinger! (Eks 15:4)
U regterhand is gedug in krag.
Hoog verhewe is U mag. (Eks 15:6)
U red ons uit die dood.
Die vyand sink soos lood. (Eks 15:8-10)
Dit was God se vinger:
Perd en strydwa is in die see geslinger! (Eks 15:19)
U lei U volk met U hand
na U gewyde land. (Eks 15:13)
Wie is soos U, o Heer,
wat tot in ewigheid regeer? (Ek 15:11,18)
Dit was God se vinger:
Perd en strydwa is in die see geslinger! (Eks 15:21)
Kyk net wat in die Nuwe Testament staan:
Christus het deur die see met hulle gegaan.
Vanuit die wolk is hulle gedoop
tewyl hulle deur die see kon loop. (I Kor 10:1-5)
As die vyand agter jou rug
jou teen die see inwig,
vra God van jou ‘n geloofstree
in die wete Hy sal die uitkoms gee. (Heb 11:28-29, Ps 106:12)
Sien dan God se magtige vinger
as hy probleem die see in slinger.
Sing dan ‘n lied tot God se eer:
Hoogverhewe is my Heer!
Uittog
Sing liedere, sing tot Sy eer.
Dink aan die magtige dade van die Heer.
Leer van die wonders uit Sy hand:
Hy hou Sy verbond altyd in stand. (Ps 105:1-8)
God het sy volk in Egipte vergaar,
maar as slawe is hul verdruk toe daar.
Water in bloed en visse het gevrek
maar Farao wou hul nie laat trek. (Ps 105:24-29)
Plaag na plaag het die land geslaan
“Ek is die enigste God” moet jul verstaan.
Dood van eersgeborenes laat ouers in pyn,
maar net vir dié sonder bloed aan die kosyn…
Drink uit hierdie beker wyn
dis soos die bloed aan die kosyn.
Ek haal jou uit die sondeslawerny –
eet die brood en dink so aan My. (Luk 22:19-20)
Al het die volk getwyfel, het God sy volk nie beskaam:
Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam.
God het hulle droogvoets deur die Rooisee gebring:
Die volk het sy beloftes geglo en sy lof besing. (Ps 106:7-12)
Hierdie gebeure laat jou vandag nog verstaan
dat God met jou deur vuur en water gaan. (Ps 66:5-6, 10-12)
Voor die ontsagwekkende God moet jy buig
tot eer van Sy Naam moet jy juig. (Ps 66:1-4)
Bewaar in die swaar
Die Here het hul beskut met ‘n wolk in die dag
en lig gegee met vuur in die nag.
Met brood uit die hemel is hul versadig
en met water uit ‘n rots begenadig. (Ps 105:39-41)
Deur die woestyn kon hulle op Hom vertrou
want Hy het sy beloftes gehou.
Geen volk kon die inname keer,
doen daarom Sy wil en prys die Heer. (Ps 105:44-45)
In jou woestyntog moet jy ook onthou:
God is aan sy beloftes getrou.
Hy sal jou vat na die beloofde land:
Hou uit dankbaarheid sy gebooie in stand!
Kos en water
Deur die barre woestyn trek die volk
onder die beskerming van die wolk.
Die pad is hard, warm en swaar.
Hul kos en water was gou al klaar.
In Egipte was daar vleispotte en koring gerf –
nou gaan ons van honger in die woestyn sterf! (Eks 16:2-3)
Môre sal julle die heerlikheid van die Here sien
met kos uit die hemel wat julle nie verdien. (Eks 16:7, 1953)
Die aand het kwartels in die kamp kom sit
en die oggend manna, soos die ryp se wit. (Eks 16:13-14)
Elke dag kon hulle net genoeg vir ‘n dag vergaar,
maar op die sesde dag moes hulle dubbeld opgaar. (Eks 16:4-5)
Toe die volk dors word, verwyt hul hom:
Waarom moet ons van dors omkom? (Ek 17:3)
Elke droë mond het hier verstom:
God het water uit ‘n rots laat kom! (Eks 17:6)
As ek so deur die woestyntog swoeg,
voel ek so honger, dors en moeg…
In sulke tye wil my eie begeertes my dryf
Dis hoekom U die verhaal vir mý ook skryf! (I Kor 10:1-6)
U is die Brood wat lewe gee,
voed U my elke dag daarmee. (Joh 6:35,51)
Ek vra dat U die Heilige Gees sal skink
dat ek die lewende water kan drink. (Joh 7:37-39)
Jesus sê vir jou: Ek wil hê jy moet weet,
wie My bloed drink en My liggaam eet
sal op die laaste dag opstaan
en vir ewig na die My toe gaan! (Joh 6:53-54)
Delegeer en prioritiseer
Jetro het gou opgemerk
dat Moses hom dood werk.
Jy moet leer om te delegeer
en jou dinge te prioritiseer.
Kry vir jou ‘n struktuur
om kleiner sake te bestuur.
Jy kan hulle dan leer wat is God se wil
in plaas dat kleiner dinge jou dag vul!
Wat is dit wat jou keer
om God se sake te prioritiseer?
Dis die dinge wat jy moet delegeer
sodat jy kan fokus op jou Heer!
Die verbond by Sinai
Gaan die wonders van die verlede na:
Op arendsvlerke het Ek jou gedra!
Die hele aarde behoort aan My
so het ek julle ook as volk gekry (Eks 19:4-5).
As julle My verbondsvoorwaardes lees
en in gehoorsaamheid My verbond hou
en in alle omstandighede op My vertrou,
dan sal Ek julle Koning en God wees! (Eks 19:6).
Voor Ek na julle kom is dit gepas:
Julle moet julle reinig en klere was.
Moenie eers aan my berg raak
anders word jul doodgemaak! (Eks 19:10-12).
God se verskyning was ‘n gesig
met donderslae, vuur en weerlig.
Die volk het nederig gebewe
want die Verbondsgod lewe! (Eks 19:16-19).
Heilig, heilig is die leërskare se matige Heer:
Die hele aarde is vol van sy heerlikheid en eer! (Jes 6:3, 1983 en 1953)
Die gans andere – daar is niemand soos Hy!
En tog maak Hy bemoeienis met my:
Met bloed het U die verbond beseël,
nou kan ek ook daarin kan deel! (Mat 26:28).
Uit dankbaarheid wil ek U wette hou
en met vreugde net op U vertrou.
Ek bely
Vergewe my dat ek stry
om my sonde te bely.
Gee my die insig
om te lewe in U lig.
As mens is ek stukkend
onder sondelas gebukkend:
Ek het op my geld en goed vertrou,
en so die eerste gebod nie gehou. (Eks 20:3)
Omdat ek nie in vertroue tot U nader,
verwerp ek so My hemelse Vader… (I Joh 2:23, II Joh 1:9)
Ek wil my hoogmoedige godsdiens bely:
Dit is net so erg as die bedrog van afgodery. (I Sam 15:23)
Help my dat my godsdiens sal wees:
Ware aanbidding deur die Vader en Gees. (Joh 4:23-24).
As mense U Naam so misbruik
staan ek stil daarna en kyk. (Lev 5:1, Spr 29:24).
Vergewe my, O God
oortreding van die derde gebod.
U het alles in ses dae gemaak
en op die sewende dag gerus, (Gen 2:2)
maar ek het die rusdag versaak
net nog ‘n dag vir my eie taak.
U het gesagsdraers oor my gestel,
maar ek is besig om hulle te skel.
Help my asseblief om te leer
om my vooroordeel te keer.
Selfs wraakgedagtes, sê U Woord,
maak my skuldig aan moord.
My medemens moes beledigings verduur,
Ek gaan verantwoording moet doen in die vuur… (Mat 2:22)
Wat my sondige natuur begeer,
is anders as wat die Gees wil leer. (Gal 5:17)
‘n Tempel van die Gees – mý ligaam? (I Kor 6:18-20).
Ag Here, hierdie sonde maak my skaam!
Ek is al weer besig om van U te steel,
want ek is glad nie lus om te deel. (Ef 4:28)
Here God, ek bely dat U weet
hoe ek soms die skaal laat meet… (Spr 11:1)
Here my tong het soos ‘n vuur verteer
toe ek my woorde nie kon keer. (Jak 3:6)
Maak met al my valsheid klaar,
sodat mense die Waarheid gewaar. (Ef 4:22-25).
Ek bly ander mense se dinge begeer,
en kan my net nie meer keer:
Ek begin dan allerlei planne maak,
sodat dit later myne raak… (Jer 17:11, Spr 6:2, Deut 7:25, Miga 2:1-5)
Ek kort wysheid om die beproewings te hanteer.
Sal U, o God, my vandag nog leer
om volhardend end-uit aan te gaan
sodat my geloof die toets deurstaan. (Jak 5:1-5)
As mens is ek stukkend
onder sondelas gebukkend.
Kennis van U, die ware God, bring mee
dat ek hierdie sonde vir U seun kan gee.
(Joh 17:3)
U het my van sonde bevry,
daarom vul dankbaarheid my.
Nou kan ek net bely:
Ek het die ewige lewe gekry!
Wees dankbaar
God het my van sonde bevry,
daarom vul dankbaarheid my.
Skielik word my las verlig –
die wet is nou nie meer ‘n plig.
Ek wil net één God dien,
afgode wil ek glad nie sien.
Geheilig is sy grote Naam
want Hy vat al my blaam!
Sonder die rus op dag sewe,
kom ek nie meer deur die lewe.
Dis maklik om my ouers te eer.
My vrou is die een wat ek begeer.
Ek kan nie meer my vyande haat
en ander se goed kan my nie baat.
Ek wil nou ander met my woorde eer
en alles binne my wil net God begeer.
Hierdie woorde kom oor my mond,
want Hy maak my deel van sy verbond.
Een: Ek is God
Dit is My eerste gebod:
Naas My, geen ander God! (Eks 20:3)
As jy op iets anders in my plek vertrou,
het jy hierdie gebod nie gehou!
Al lyk gemaakte gode soms pragtig,
Ek is die Skepper: God almagtig! (I Kron 16:26)
Onsedelikheid en gierigheid is ook ‘n god,
ja, aardgesindes: Die verderf is julle lot. (Ef 5:5, Fil 3:18-19)
As slaaf van nikswerd gode het ek jou gevind.
Jy is nou my ergenaam en kind. (Gal 4:7-9)
Wie nie in vertroue tot My nader,
verwerp ook so My hemelse Vader… (I Joh 2:23, II Joh 1:9)
Kennis van My, die ware God, bring mee (Joh 17:3)
dat jy , in vertroue, jou hele hart vir My gee.
Dan begin jou hande My wil doen,
want jou hele wese is met My versoen. (Deut 6:5; Matt 22:37).
Twee: Geen beeld van My
Pas op! Die lewe is vir julle op die spel.
Oor julle afgode gaan God die oordeel vel!
Moenie op diere, die son of maan vertrou –
God het dit alles gemaak, onthou. (Deut 4:15-19).
Met wie kan julle God dan vergelyk?
‘n Ambagsman giet ‘n beeld wat mooi lyk,
of kap hom uit hout wat nie vrot,
en so oortree hulle die tweede gebod. (Jes 40:18-20)
Weet julle dan nie hoe het alles onstaan?
In die hemelkoepel is God op sy troon
Dis soos ‘n tentdoek vir mense om in te woon.
Niemand is soos Hy, moet julle verstaan! (Jes 18:21-25)
In die plek van die heerlike onverganklike God,
stel hulle beelde van onverganklikes as god.
Daarom gee God hulle oor aan die drange van hul hart:
Onsedelike onreinheid en lus wat lei na baie smart. (Rom 1:23-24)
Jy moet eiesinnige godsdiens vermy:
Dit is net so erg as die bedrog van afgodery. (I Sam 15:23)
Maar dit is hoe jou godsdiens moet wees:
Ware aanbidding deur die Vader en Gees. (Joh 4:23-24).
Drie: Heilig My Naam
Ons mag die Naam van die Heer nie misbruik
deur ‘n valse eed of vloektaal te gebruik. (Lev 24:11-16, Lev 19:12)
Jy kan ook Sy Naam onteer
deur onnodig te sweer. (Mat 5:37; Jak 5:12).
As ons stilbly as ander dit kwytraak
is ons net so skuldig aan hierdie saak. (Lev 5:1, Spr 29:24).
Ons moet vrees en eerbied vir Sy Naam wys (Jes 45: 23; Jer 4:2)
deur hom met gebed, woorde en werke te prys (Ps 50:15, 1 Tim 2:8, Kol 3: 16-17, 1 Tim 6: 1).
Hierdie sonde is vir God so groot,
Hy beveel om dit te straf met dood. (Lev 24:11-16)
Maar as jy Godvresend in Sy Naam sweer
is dit wel tot God se eer! (Deut 6:13, Deut 10:20, Jes 48:1, Heb 6:16)
Vier: Rus
Toe mylpale my begin druk,
het ek weer dubbel ure geswoeg
om sélf dinge reg te ruk.
Tyd vir Bybelstudie? Nie genoeg!
Die lewe is ‘n gejaag na wind. (Prediker)
Kan mens rus daarbinne vind?
Die antwoorde moet jy soek
in God se ware Boek.
Rus se ware noord
vind ek in U Woord. (Ps 94:13)
God het alles in ses dae gemaak
en op die sewende dag gerus. (Gen 2:2)
En toe Adam die eerste keer ontwaak,
het sy lewe begin met ‘n rus!
Adam het hom nie aan die opdrag gesteur
en so is die rus vir ewig versteur…
Uit Egipte se slawerny
het God sy volk uitgelei.
In die woestyn van sy wonders bewus, (Heb 3:11)
was hulle oppad na ‘n land van rus. (Deut 12:10)
Die Israeliete kon die rus nie binnegaan.
Die boodskap om hier te verstaan:
Hulle het God se almag nie vertrou (Heb 3:18, Ps 95, Num 13)
en moes dit vir veertig jaar berou!
In die woestyn moes hulle weer
van vooraf rus se lesse leer:
Die tien gebooie se sabbatswet (Ex 20, Deut 5)
het werk op die rusdag belet.
Prakties was hierdie les
dubbeld die manna op dag ses.
Elke sewe jaar moes die lande rus
en die volk van hul afhanklikheid bewus. (Lev 25:21-24)
Die sesde jaar se oes so groot,
dat daar genoeg was vir jaar sewe se brood.
Of jy opstaan en of jy rus,
maak jou kinders van die Woord bewus. (Deut 6:6)
Na veertig jaar was die straf verby
en Josua het die volk in rus ingelei. (Heb 4:8, Jos 14:15 Jos 11:23 21:44)
God het van die nasies met rus gelaat
om so te sien of die volk Hom sou verlaat. (Rig 2:23)
Ag, hoe het hulle weer gefaal
en moes met onderdrukking betaal.
Gideon was van sy afhanklikheid bewus.
Hy noem sy altaar: Die Here gee rus. (Jos 6:23)
Die Here het hom die oorwinning gegee
en so weer rus vir die volk daarmee.
Dawid was van God se belofte bewus.
Wanneer jy by jou voorvaders rus
kan jy maar op my beloftes vertrou:
Ek gee ‘n tyd van rus dat jou seun die tempel bou
In sy nageslag sal ek onrus verslaan,
sy koninkryk sal vir ewig staan. (2 Sam 7:11 1 Kron 17:11)
Daarom kon Dawid sing
dat die Here sy herder is
en hom in groen weivelde laat rus
waar Hy nuwe krag bring. (Ps 23)
Selfs die wyse Salomo
het in die beginsel geglo:
Vetrou volkome op die Heer
dan sal hy jou die regte pad leer.
Met die beste uit jou oes moet jy Hom eer,
dan sal jy die voorspoed nie kan keer. (Spr 3:5-10)
Beter ‘n stuk droë brood en daarmee rus
as huis vol offermaaltye met getwis. (Spr 17:1 OAV)
Een hand vol rus, my kind
is beter as ‘n gejaag na wind. (Pred 4:6 OAV)
Asa het die Here gedien,
en so rus na alle kante toe gesien. (2 Kron 14:7, 15:12, 15)
Maar juis in daardie uur,
versterk hy sy stad se muur!
Josafat gee in vertroue gehoor
en stap die vyand tegemoet met ‘n koor. (2 Kron 20:20)
God self het die vyand weggevee
en het hom na alle kante rus gegee. (2 Kron 20:30)
Min van die konings was so getrou.
Die profete het gewaarsku vir berou:
Besef dat straf onvermydelik is –
julle sal in ballingskap gaan rus! (Jes 14:3)
As julle julle bekeer
en van rus kom leer,
sal ek julle kom red.
Dit is wat julle het:
Stil word is jul krag,
ja,vertrou in My mag. (Jes 30:12)
Die goddelose is soos ‘n onstuimige see,
wat net net eenvoudig geen rus wil gee.
Golwe hou aan slyk en modder stoot.
Geen vrede in jou lewensboot! (Jes 32:18-20)
Jesus rus wel in só boot
en in Sy almag groot,
het Hy die storm bedaar
en rustig verder gevaar…
Hou die heilige dag tot God se eer
en jy vind vreugde in die Heer:
Jou land se opbrengs word net meer. (Jes 58:13,14)
Die kruispad se keuses staan oop:
Vra watter pad is beste om te loop.
So van God se almag bewus,
vind jy in jou keuses rus. (Jer 6:6)
Daar rus ‘n vloek en lewe van pyn
as jy jou vertroue in mense stel
en jou nie aan My meer kwel:
Soos ‘n bossie in ‘n klip woestyn…
Voorspoed vir dié wat op God vertrou.
Soos ‘n boom by water geplant,
wat wortels uitstoot na waterkant,
wat heel jaar sy blare behou. (Jer 17:5-8)
Die volk het nie gehoor
en so hul rus verloor…
So van God se straf bewus
moet jy nou glad nie rus.
Jy moet die trane nie keer,
bly roep net na die Heer!
Bid dat God se straf sal wyk,
dat jou kinders nie van honger beswyk! (Klaag 2:18,19)
Hy het my ‘n gruisklip laat kou.
Hy het alle rus van my weerhou. (Klaag 3:16,17)
Ek sal jou nageslag red,
waar hulle ballinge is.
Hulle wat rondrol in die bed,
gee Ek weer veiligheid en rus. (Jer 46:27)
Die Beskermer is magtig
Sy naam is Here Almagtig
Hy sal Israel weer van rus laat sing
en onrus vir Babel bring. (Jer 50:34)
Van al ons sonde so bewus,
het Hy by ons in ‘n krip kom rus.
Die boodskap wat in jou kop moet draai:
Kom na my toe jy wat uitgeput is en oorlaai!
Ek sal jou rus gee dat jy kan begeer,
my sagte juk en om van My te leer!
Jy sal rus kry vir jou gemoed,
want ek sal vir jou sondes boet! (Mat 11:25-29).
Op die Sabbat is hy gekruisig vir elke daad.
My God, my God, waarom het U my verlaat?
Ek kry hier geen rus, (Ps 22:2,3)
Ek word met asyn gesus!
Ook Jesus het so vooruit gegaan
en op die eerste dag opgestaan.
Hy het daarna opgevaar
en werk aan ons rusplek daar.
Bedags nie ‘n lig soos die son.
Snags die maan nie ‘n bron.
Jou son en maan is Heer,
‘n ewige rus om Hom te eer! (Jes 60:19,20 en Op 23:21)
Daarom kan ek saam met die digter sing
oor God se rus my hulde bring:
Van U redding is ek bewus:
Net by God vind ek rus. (Ps 55:3, 62,6)
Omdat ek op U vertrou,
vind ek telkens rus weer gou. (Ps 62:6)
Toe ek gedink het my voete gly,
was U troue liefde altyd by.
As ek met onrus in my binneste dring,
het u vertroosting my tot rus gebring. (Ps 94:19)
Ek moet nou tot rus kom in my bed,
U het my van die dood gered! (Ps 116:8)
Kyk ek terug, was dit nie so erg
dit wat ek toe gesien het as ‘n berg.
Ek was net ‘n dwaas,
om na wind te haas!
Ag, Here help my onthou,
om op U alleen te vertrou.
Ek bekommer my nie oor dinge vandag.
Ek het by U rus en kalmte gevind,
soos in moedersarm, ‘n tevrede kind!
Ek sal nou en vir altyd op U wag. (Ps 131)
Soek jy aardse rus?
Bly dan hiervan bewus:
As jy in God bly glo,
is daar ‘n ewige rus daarbo! (Heb 4:9)
Jy rus op aarde so:
Bly net in Jesus glo.
Jy rus van jou werk,
deur in Hom te rus, onbeperk! (Heb 4:10)
Vyf: Ma en Pa
My oë het nie donker kringe,
ek is nie besorg oor groot dinge. (Ps 131:1)
Op Moedersdag het ek vrede
en hierdie is die rede:
In my kinderdae het my ma
my met rus en kalmte gedra, (Ps 131:2)
en so my die beginsel geleer
om tevrede te wag op die Heer… (Ps 131:3)
Pa se liefdevolle gesag,
bepaal vandag my gedrag.
Tot vandag in jou grysheid,
deel ek in die wysheid.
Jou voorbeeld bring my nader
aan my hemelse Vader,
Ja, ek het as kind
deur jou ware lewe gevind.
Ses: Geen moord
God het die mens na sy beeld gemaak,
daarom word moord met dood gewraak. (Gen 9:6)
Neem jy doodslaan as jou reg,
sal jy verantwoording doen voor die gereg. (Mat 5:21, Rom 13:4)
Is jy sonder rede vir jou broer kwaad,
is jy ook skuldig aan hierdie daad!
As jou broer jou beledigings moet verduur,
gaan jy verantwoording moet doen in die vuur… (Mat 2:22)
Jy moet jou wraak gedagtes keer:
“Ek sal vergeld!”, spreek die Heer. (Rom 12:19).
God se vergifnis bring die ewige lewe,
daarom moet jy jou broer van harte vergewe. (Mat 18:35)
God se vergifnis was gratis en verniet,
maak daarom jou gees en gedagtes nuut. (Ef 4:23)
Moenie dat kwaad jou vergesel na jou bed (Ef 4:26)
nee, liefde is die volle uitvoering van die wet. (Rom 13:10)
Sewe: Die huwelik
Die vroegste geskiedenis het vertel
die huwelik is deur God ingestel:
Dis nie goed die mens is alleen:
Ek sal hom met ‘n gelyke seën. (Gen 2:18)
‘n Man sal sy vader en moeder verlaat
om met sy vrou te lewe in huwelikstaat. (Gen 2:23-24)
Hierdie is die geheimenis onbeperk:
Die huwelik wys op Christus en die kerk. (Ef 5:31-33)
Ek maak jou My bruid
vir ewig en altyd.
Ek bind jou deur my onverbreekbare trou.
Lewe daarom in liefde getrou. (Hos 2:18-19)
Jou Bruidgom is besig om plek gereed te maak.
Wees waaksaam dat jou olie nie op sal raak… (Mat 25:1,13)
Sewe: Geen egbreek
Moenie eers ‘n begeerte oorweeg
want dan het jy al egbreuk gepleeg. (Mat 5:27-28)
Selfs as jy sonder liefde in die huwelik bly,
is hierdie gebod reeds oorskry.
Hoewel die gebod wil dat jy egskeiding vermy,
kan jy die volgende riglyne kry:
Jy kan jou ander helfte verlaat
as hy hom begaan met owerspel as daad. (Mat 19:9-3)
As ‘n ongelowige wil skei,
laat hom dan sy wens kry,
maar van jou kant af moet jy probeer
om Hom tot God te laat bekeer (I Kor 7:9-16).
Jy moet nie seksueel losbandig wees:
Jou liggaam is ‘n tempel van die Gees! (I Kor 6:18-20).
Nee, wees in alle opsigte getrou
aan haar, jou enigste vrou. (Heb 13:4)
Growwe, ligsinnige en vuil taal
laat jou ook in ander dinge vaal… (Ef 5:3-4)
Bly weg van slegte vriende met ‘n rede:
Slegste geselskap bederf goeie sede. (I Kor 15:33)
Wat jy ook moet verstaan,
is as jy jou met drank te buite gaan,
gaan jy makliker losbandig wees…
Vervul jou eerder met die Gees! (Ef 5:18).
Agt: Geen diefstal
As iemand ‘n dief is, moet hy ophou steel.
Deur harde werk moet hy geld verdien
dat hy in sy lewensonderhoud voorsien,
dan kan hy ook met die armes deel. (Ef 4:28)
Pasop as jy te veel wil kry,
word jy in versoeking gelei.
Vlug liewer daarvan weg
en leef in toewyding God se weg. (I Tim 6:9-11)
Jy kan vandag die laaste asem uitblaas…
Kan jy nie sien jou gejaag is dwaas?
Dit help nie dat al die skatte so pryk
en by God is jy nie ryk. (Luk 12:20-21)
Rentmeester, let mooi op:
Die aarde en alles daarop,
die see en alles daarin,
ja, alles is die Here sin. (Ps 24:1).
Oor twee munstukke was jy getrou,
kom deel in My vreugde nou.
Die een munstuk het jy begraaf:
Jy is ‘n slegte en lui slaaf! (Mat 25:23-26)
Maar waarvan beroof ons U?
Julle bring nie julle tiendes nie!
Kan Ek die hemel vensters oopmaak? Toets My
en kyk wat se seën wat jy dan kry… (Mal 3:8)
Onthou: God weet
as jou skaal so verkeerd meet… (Spr 11:1)
As jy meer vat as jou deel
is jy ook besig om te steel. (Luk 3:12-14)
Wie het die reg om by U te woon?
Hy wat hom nie laat omkoop vir loon,
wat sy woord hou al lei hy skade.
Ja, wie die agste gebod wys in dade! (Ps 15:1,5)
Nege: Die waarheid
God het die negende gebod gegee:
Jy mag nie vals getuienis gee (Ex 20:16).
Die slang wou van Eva weet:
“Mag julle nie van die vrugte eet?” (Gen 3:1)
So het die vader van die leuen (Joh 8:44)
hul ontneem van die paradys se seën.
Die Satan verklaar die stryd
teen geloof in die waarheid.
Jesus het self verklaar:
“Ek is die bron van alles waar.” (Joh 14:6)
Uit die see kom daar ‘n dier
Om mense te kom verlei, ook hier.
As hulle maar net die leuen wil glo,
kan ons keer dat hulle gaan na bo… (Op 13:13-14)
Maar daar kom ‘n finale uur
wat die leuen bestem is vir die vuur.
Die wat dan steeds glo,
het toegang na Hom daarbo. (Op 20:10)
Sy Woord is betroubaar en waar: (Op 21:5)
Daarin word die waarheid verklaar.
Die gebrek aan wat jy daarvan weet,
is die rede vir al jou leed… (Hos 4:6, 1953).
Voorheen is jy deur die leuen verteer,
maar nou het jy die waarheid geleer.
Maak met alle valsheid klaar,
sodat mense die Waarheid gewaar. (Ef 4:22-25).
Jou tong kan soos ‘n vuur verteer,
as jy nie jou woorde kan keer. (Jak 3:6)
Maar daar waar dit liefde verklaar,
is daar vreugde oor alles waar. (I Kor 13:6)
Tien: Begeer
Wat die tiende gebod leer,
is: “Jy mag nie begeer.” (Ex 20:17)
Wees versigtig wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewensbaan. (Spr 4:23)
Wat ons sondige natuur begeer,
is anders as wat die Gees wil leer. (Gal 5:17)
Die wêreldse dinge wat ons so begeer,
kom nie van ons Vader en Heer. (I Joh 2:16)
Wanneer jy ander mense se dinge begeer,
kan jy jou later net nie meer keer:
Jy begin dan allerlei planne maak,
sodat dit later joune raak… (Jer 17:11, Spr 6:2, Deut 7:25, Miga 2:1-5)
Moenie jou onstel oor skelms wat steel,
hulle goen gras gaan vinnig vergeel…
Vertou liewers op die Heer:
Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Woon en werk rustig voort,
vertou dat Hy jou bring na sy poort. (Ps 37:1-5)
Wat jou hart eerder moet begeer
is ware godsdiens tot Gods eer. (Jes 1:13, Amos 6:4-8, Luk 11:39-42)
Ek, die Here, deurgrond jou hart en verstand.
Ek vergoed opregte dade uit jou hand. (Jer 17:10).
Ek het Sion gekies, sê die Heer:
Dis waar Ek my woonplek begeer!
Dis my rusplek waar ek wil woon
en die wat op My vertrou beloon. (Ps 132:13-15)
Ons wil U kan sien!
Die volk: Ons wil U kan sien!
Na veertig dae het die volk gesug
Aäron, Moses kom dalk nie terug!
Ons moet ons God kan sien
om Hom te eer en dien. (Eks 32:1)
Al het God dit in die wet verbied,
het die volk vir hulle ‘n kalf gegiet.
Laat dit ‘n afbeelding van ons God wees,
more vier ons vir die Here fees! (Eks 32:5)
Moses, gaan kyk wat het die volk gedoen:
‘n Mens kan dit nie met My wet versoen!
Hulle is opstandig daarom is Ek kwaad
en gaan hulle vernietig oor hierdie daad… (Eks 32:9-10)
Dink aan die beloftes aan U dienaar
en laat tog genadiglik U toorn bedaar.
Daarna het God wel afgesien
van die ramp wat hulle verdien. (Eks 32:13-14)
Moses: Ek wil U kan sien!
Laat ek tog U magtige verskyning sien!
Ek sal vergewe wie ek wil vergewe,
geen mens kan my sien en bly lewe.
In die verbygaan kan jy my van agter sien. (Eks 33:18-23)
O God, ons kan nie trek sonder U. (Eks 33:15, 34:8)
Ek is barmhartig, genadig, vol liefde en trou,
maar Ek straf die sonde as jy my wette nie hou! (Eks 34:6)
God het die verbond toe weer hernu. (Eks 34:10)
Moses kom toe van die berg af terug:
Van God se heerlikheid blink sy gesig.
Vir Moses se gesig wat skyn was die volk bang
en daarom het hy ‘n doek daarom gehang. (Eks 34:29-35)
As die bediening van die wet so kon wees,
hoeveel te meer die bediening van die Gees! (II Kor 3:7-8)
Eers as jy weergebore word sal die sluier lig
dan sien jy God se heerlikheid met ‘n onbedekte gesig. (II Kor 3:15-18)
Laat ek U só sien!
