Die mensdom is so sondig,
ek sal moet die Woord verkondig.
Ek berei deeglik voor
en kry ‘n saal vir die gehoor.
Alles lyk luuks en mooi:
Vrugbare grond om saad te strooi…
Vandag gaan ek hulle evangeliseer:
Dis tyd dat hulle hulle moet bekeer.
Mismoedig pak ek op –
dit was ‘n reuse flop.
Nie een mens het opgedaag,
my poging het nie geslaag.
O God, hoe het dit gebeur?
Ek wou hulle dan van U leer?
U het nie mense op laat daag –
hoe moet ek dit maak slaag?
Nee, my seun, hulle was daar
Jy het hulle net nie gewaar.
Die span wat die tee sou skink
se oë het van die Lig geblink.
Een man het gebukkend gevee,
maar daar was lof in elke tree.
‘n Paar het buite gedink dit lyk te mooi
en het gewag dat iemand hulle binne toe nooi.
Die een wat jou kar op moes pas
het gedink: Miskien nie sonder ‘n das…
Hulle was daar gewees,
gereed gemaak deur die Gees!
Maar jy moes eers leer:
Dit gaan oor Mý eer.
Kom terug na die aarde
en word iemand van waarde.
Rol dadelik jou moue op
en gaan bedien die brood en sop,
want hulle is buite besig om te sing
en lof en hulde aan My te bring.
O God, vergewe my: Ek is so sondig
Die besem man het U aan my verkondig
Die teeskink tannie se goeie raad:
Sonder U is ek tot niks in staat.
Vandag is my sonde vergewe
en ek begin ‘n nuwe lewe.
Vul my met U Gees
dat my dae na U wil sal wees.
Maak U my oë oop
vir hulle wat langs my loop,
dat ek kan evangeliseer
tot U wil en U eer.