Ek wag vir krag

Met my planne hardloop ek voort,
sonder om te vra: Waar is U noord?
Here, ek het my lewe vol geprop,
maar U het my nou gestop.

Soos Israel, het ek vir die vyand bang geraak
en bondgenootskappe in Egipte gaan maak.
Maar dit was sonder U gewees,
dat was nie onder leiding van U Gees. (Jes 30:1)

Here, U vat nou my krag,
want ek moet leer van wag.
U wil dat ek weer onthou:
Ongeduld is die sonde van nie vertrou…

Ek wag op U Here, voor ek vandag in loop,
op U Woord vestig my hele wese my hoop. (Ps 130:5)
U beloof ek as ek op U wag en eers stilstaan
dan sal ek in my hoop nie beskaamd staan. (Jes 49:23c).

Here, Israel wou nie hoor, en bly wag
toe U sê: In kalmte en vertroue lê julle krag!
Eers as jy jou bekeer en rustigheid het
sal Ek kom en jou kom red. (Jes 30:15)

U wag om vir my genade te betoon
U ontferming, HERE, is my loon,
want U is die God van reg, elke dag.
U beloof geluk as ek op U wag. (Jes 30:18)

As ek so op U wag,
gee my genoeg krag.
Gee my arendsvlerk ‘n nuwe veer,
net genoeg om vandag se vlug te beheer.
Help my om te kan verstaan,
wanneer U wil dat ek moet staan.
En as U wil dat ek loop en swoeg,
U beloof, op U pad word ek nie moeg.
En as U wil dat ek hardloop op U pad,
dan word ek nie afgemat! (Jes 40:31)

Here, wat is vandag se eerste tree?
Een wat my sal vreugde gee,
want dis op U gekose weë?
U het beloof as ek wag sal U optree! (Jes 64:4)

Ek wag
vir krag.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading