Ek probeer verstaan

As ek maar geweet het waar om God te vind
sou ek na sy woonplek toe gaan as kind
en my saak vir Hom vertel,
my pleidooie aan Hom stel. (Job 23:1-4)
As ek my onskuld by Hom afsmeek,
sal my Regter my mos vryspreek? (Job 23:5-7)

Maar ek is moedeloos –
Ek kry Hom nie oos.
Al soek ek op my beste,
Hy is ook nie in die weste.
Al soek ek met die noordewind,
ook daar kon ek Hom nie vind.
As Hy na die suide draai,
het ek weer verkeerd geraai. (Job 23:8-9)

Hy ken my pad: Soos goud gesuiwer.
Ek volg Hom sonder om te huiwer.
Ek heg meer waarde om sy Woorde te leer,
as al die ander dinge wat ek kan begeer. (Job 23:10-12)

Hy bly dieselfde, moet jy verstaan
Wie kan Hom dan nog teenstaan?
Wat ookal Hy oor my besluit,
dáárdie planne voer Hy uit. (Job 23:13-14)

Dis hoekom ek vreesbevange voor Hom staan,
terwyl ek in ontsag sy weë probeer verstaan.
God het my weerstand afgebreek,
maar in die donker het ek bly smeek. (Job 23:15-17)

Mense verksuif grenslyne,
maak ander se vee syne.
Die weeskind moet sy donkie gee,
hulle vat die bees van die weduwee.
Waarom reken God nie met húlle af?
Moet ek tevergeefs uitsien na hulle straf? (Job 24:1-4)

Armes soek kos in die dorre woestyn,
besig om met veevoer as kos weg te kwyn.
Hulle moet oorskiettrossies druiwe gaan haal.
Sonder klere in die koue slaap hulle kaal. (Job 24:5-7)

‘n Borsvoedende ma is deurnat van die reën.
Vir skuld verkoop iemand haar babaseun!
Olyfpers trek, parskuip trap, die lewe sleg,
maar God slaan nie ag op al dié onreg… (Job 24:5-12)

Die moordenaar staan op in die donker nag.
Die dief en egbreker verdra nie die dag. (Job 24:13-17)
Die graf maak ‘n einde aan die sondaar.
Kos vir wurms word hy daar… (Job 24:18-21)

God onderwerp die sterkes deur sy mag:
As Hy optree, het hulle geen sekerheid van krag.
Elke ding wat hulle doen sien Hy.
Hulle word soos koringare afgesny. (Job 24:22-25)

Aan God die heerskappy en die vrees
Hoe kan ‘n mens regverdig voor God wees?
Uit sy hoë hemel gee Hy vrede.
Sy lof en majesteit die rede. (Job 25:1-6)

Liewe leser, as jy ook nie verstaan,
moet jy in jou donker na Hom toe gaan.
Maak sy lof en majesteit jou bede
en ontvang, selfs in swaarkry, Sy vrede.
Al lyk dit of alles jou wil begewe,
by Hom is daar ewige lewe!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading