Ek is: Die Herder en die Ingang

Is jy soms alleen en bang?
Rol jy rond in jou bed?
Hoor: “Ek is die ingang:
Wie deur My ingaan word gered!” (Joh 10:9)

Wil die diewe jou laat bewe?
Sy woorde is dan so soet:
“Ek het gekom dat jy kan lewe,
en dit vir jou in oorvloed!” (Joh 10:10)

“Ek is die Herder, so goed.
Weet dat Ek jou persoonlik ken.
Vir jou lewe het ek geboet!
Ek het jou vir My gewen.” (Joh 10:14-15).

Bly jy steeds met jou eie probleme stoei?
Wil jy regtig vir jou self probeer sorg?
Jy is soos ‘n hardkoppige koei…
Jou Herder is jou enigste borg! (Hos 4:16).

Bewe jy steeds en is jy koud?
Hy maak jou bymekaar in sy arm.
Jou Herder is jou behoud:
Teen Sy bors word jy warm! (Jes 40:11)

Is doodskaduwee nog jou vrees?
Is jou liggaam uitgeteer en broos?
Die Here wil jou Herder wees:
Sy stok en staf sal jou vertroos! (Ps 23:1-4, 1953).

“Kleine skapie, hou nou op bewe.
Hou op om vir alles te skrik.
Ek gee jou die ewige lewe,
niemand kan jou uit My hand uit ruk!” (Joh 10:28-29)