Eerstelyn pyn

Skreeuend kom die ambulans op die toneel:
Bloed, dood en chaos wat gelyk afspeel.
Keuses, prioriteite, instink en ervaring
bring die krisis tot hanteerbare bedaring.

Gefokusde oë agter masker monde
verstaan die implikasies van die wonde.
Soos die pasiënt se bloeddruk begin kwyn,
so ook die bloed se toevoer na die brein…

Hulle kry die bloeding nie gestop,
die hart hou ook op met klop.
CPR, skok en weer probeer
ervaring het dit omgekeer…

Terwyl hulle eie kinders tuis op hul wag,
hoor hulle snikkende kinders wat ongevalle wag.
In plaas om by die bedlampie Sneeuwytjie te lees,
skyn skerp teaterligte op bleek onblote vlees…

Die vegtende man op die tafel ken hulle nie,
maar erens vra ‘n dogter: “Ma, waar is pappie?”
Hulle enigste kennis van hom is die hart monitor se pieke en dale,
maar die seesand van die vakansie is nog op sy sandale…

Moeg kom hulle uit die teater,
met oë wat stil trane water.
Maar emosies moet wag vir later –
daar is ‘n nuwe krisis in die teater…

Kanker, kar ongelukke en organe wat gaan staan.
Infeksie, selfmoord en gruwelike verkragting.
O God, ons sukkel om die sondige wêreld te verstaan.
Die hele skeping sug in pyne van verwagting.

Here, hierdie eerstelyn mediese personeel
se opoffering sit vanaand hier in my keel.
Soms die vreugde van ‘n lewe uit die dood gered,
soms die blaam oor wat hul nog wou gedoen het….

Laat hulle vashou aan Jesus se lyde en sterwe
sodat hulle weet hulle sal die ewige lewe erwe.
Laat hulle die troosboodskap kry:
Jesus sal almal van die dood bevry.

Here laat hulle afhanklikheid leer,
want U is oral en altyd in beheer.
Selfs as hulle gewillige hande faal,
het U dit reeds vooraf so bepaal.

As ek na hulle opoffering kyk,
sien ek hoe ware liefde lyk.
Vul my ook so deur U Gees
dat ek soos hulle kan wees.

Hernu hul uit U Woord elke dag weer en weer
sodat hulle emosionele energie nie dreineer.
Gee dat, daar by ongevalle o Heer,
almal U Naam sal grootmaak en eer!