digbundel: covid

Sewe tot sewe

Sewe tot sewe,
ek veg vir sy lewe.

Die ou oom se paniekbevange oë
wat bokant die masker uitstaar
en met sy gehoor apparaat onklaar,
maak my so diep bewoë…

Dokters en ander kan kom en gaan,
maar by sy bed moet ek bly staan
en dit terwyl ek die tekens verstaan,
waar die virus met hom heengaan…

Natgesweet onder lae van beskermende drag.
Min vloeistof want die badkamer moet wag.
Fisies uitgeput want ons is nou te min,
want ander is aangesteek, selfs my vriendin…

Sewe tot sewe
bene van moegheid bewe.

Soos ek huistoe ry
vreet die onsekerheid my.
My kind wat my met ope arms ontvang:
Sê nou ek steek hom aan, ek is bang…

Sewe tot sewe,
die oom nog aan die lewe.
Die bed oorkant is nou leeg
dood statistiek op beweeg…

Sy hand gryp met kneukels wit:
Sal jy kans sien om vir my te bid?
‘n Gebed vir vrede
is beide se traan se rede.

Sy familie kan nie eers kom –
ek is dit nou vir hom.
Nog medisyne vir die pyn
en suurstof deur die lyn.

Sewe tot sewe,
hierdie is nie ‘n lewe.
Man sonder werk.
Geen diens by die kerk.

Kos voorraad beperk.
Here, hou my sterk…
Sewe tot sewe,
my lippe bewe.

Ek mag nie ‘n Bybel in die saal invat,
want alles word met die virus beklad
Tyd is daar nie meer veel,
ek moet die boodskap deel:

Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek
vir waters van rus kan ons Hom smeek.
Al sal ek deur dood skaduwee gaan,
is Hy die Een wat saam met my gaan…

Sewe to sewe
more begin ek veg vir ‘n ander lewe…

Hongersnood

O Here, ons begin ietsie verstaan
van wat in Jeremia se Klaaglied staan…
Die virus impak raak nou groot:
Baie is nou sonder daaglikse brood.
Die land is honger, gee ons raad,
laat U Woord nou met ons praat.

Dink jy Ek is nie ook hiervan in beheer?
Kyk net wat josef se geskiedenis leer:
Ek het Josef as slaaf vooruit gestuur
en toe Israel hongersnood verduur,
kon hulle as My volk voortbestaan,
want ek het hulle so na Egipte laat gaan. (Gen 45-50)

Ek het hulle veertig jaar in die woestyn gelei
om te kyk of gehoorsaam hulle My.
Ek het hulle daar honger laat ly,
maar by My het hulle toe manna gekry.
Ek wou hulle leer dat mens nie net van brood leef,
maar van elke Woord wat Ek uit My mond geef! (Deut 8:2-4)

Deur Elia het dit drie jaar nie gereën.
Met kraaie het Ek vir hom kos geneem.
Die volk moer op die berg Karmel leer
Ek is die enigste God en hul bekeer. (I Kon 18-19)

Deur Jesaja moes Ek die volk aankla.
Hulle het so ewe elke dag My wil gevra,
maar hulle het net voorgegee hulle doen reg.
Hulle rituele en wettiese godsdiens was sleg.
Hulle het gesê: “Ons vas, maar ons kan nie verstaan,
hoekom gee U dan nie aandag daaraan?”
Godsdiens is om vir die wat honger is te gee
en om die wat nie klere het nie, te klee
Wys jou geloof in jou daad,
dan sal Ek weer met jou praat. (Jes 58:1-3,7-9)

Steeds ongehoorsaam het Ek hulle in ballingskap laat gaan
en dis hoekom die woorde in Klaagliedere staan:
Edelstene eens so mooi,
lê in strate weggegooi…
Die baba jakkals se lippies blink
soos hy aan sy ma se speen drink,
maar kinder lippies is ‘n droeë kors
met tonge wat vassit van die dors.
Kindertjies smeek vir bietjie brood,
eens rykes gaan op die strate dood. (Klaag 4:1-5)

Juis in daardie tyd,
nooi Ek hulle toe weer uit:

Kom, almal wat dors is,
kom na die water vir rus.
Sonder geld kan jy weet:
kom, koop, ja kom eet.
Jy kan sonder om te betaal
jou wyn en melk kom haal.
Jy moet jou tot die Here bekeer,
Hy is genadig weer en weer.
Jy moet jou tot God bekeer,
Hy vergewe altyd weer. (Jes 55)

Soos Josef het Ek Jesus vooruitgestuur,
Ek wil jou ook uit die hongersnood red.
Soos die manna in die woestyn,
het Hy Sy liggaam gegee in pyn.

Soos die profete die volk moes vermaan,
wys ek vir jou wat in die Nuwe Testament staan:

Ek gaan jou weg van My stuur
na die duiwel se ewige vuur.
Ek was honger, met niks om te eet,
maar julle het van My vergeet.
In My dors het ek iets gesoek om te drink,
maar vir My het julle niks geskink…

“Here, wanneer het ons U honger of dors gelaat?”
Die gebrek aan die geringstes met jou liefdesdaad.
is dieselfde as om My sonder kos of water te laat… (Mat 25:41-46)
Jy beweer jy glo, maar ek sien dit nie in jou daad!
Jy sê: “Mag dit met jou goed gaan”
En: “Gaan trek jou warm aan,”
maar jy gee nie vir hulle wat hulle nodig het.
Kan so ‘n geloof ‘n mens red? (Jak 2:14-17)

Gaan jy die waarksuwing begin verstaan,
of moet die hongersnood nog verder gaan?
Net soos vir Israel in die ballingskapstyd
nooi ek julle nou in hierdie virustyd:

Elkeen wat gewone water drink
sal weer vir sy dors moet skink,
maar die water wat Ek hom gee
bring borrelend die ewige lewe mee. (Joh 4:13-15)

Ek is die Brood wat lewe gee.
Vul jou behoeftes daarmee!
Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry.
Wie in My glo, se dors sal vir altyd wegbly. (Joh 6:33-36)

Jesus aan die kruis met ‘n brandende bors:
is getart met asyn toe Hy uitroep: “Ek het dors!”
Maar Hy het dit gedoen om joú leemte te vul,
daarom het Hy uitgeroep: “Dit is vervul!”

As Hy dan jou leemtes vul met water van Hom,
sal stromende water uit jou binneste kom!
Hiermee het hy verwys na die Gees,
want as jy glo sal Hy binne jou wees! (Joh 7:37-39)

As jy dan nou dié Water drink,
sal dit eendag van jou weerklink:
Hierdie mense met die wit klere aan
Wie is hulle en waar kom hulle vandaan?
Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom.
Deur die bloed van die Lam is hulle nou by Hom
Hulle sal nie meer honger of dors kry,
hulle Herder het hulle na die fontein van lewe gelei. (Op 7:11-17)

Die Covid golwe

Soos die tweede Covid golf nou lig,
skryf ek aan jou hierdie gedig,
want ons altwee se emosies moet uit
voor die derde golf ons weer stuit…

Die groter gulpende golf het hierdie keer
ons boot se seile met die dood geskeur.
Avbob ‘n daaglikse gesig in die hosptiaal
om iemand se geliefde te kom haal.

Jy kon telkens vir my eerstehands getuig
hoe is gesondheidswerkers se maste gebuig.
Julle moes vandag nog iemand moed in praat,
want in die sinkende skip is môre te laat!

Penny se dood ruk ook hier binne my:
Jare in die kerk gesit – reg agter my.
Hy het my altyd ‘n klop op die skouer gegee
met ‘n “Seuntjie, hoe gaan dit?” daarmee…

Al het hy nie van Covid gesterf,
het Covid sy begrafnis bederf.
Die familie was buite die land se grense.
Dis nie dieselfde: Elektroniese laaste wense…

In die eerste golf het die Here ons geleer:
Hý is die een wat die hele wêreld beheer.
Hy het die woeste storm bestraf
en die Covid golf neem toe af.

Hierdie tweede golf het Hy ons laat onthou,
dat die lewe nie met die dood ophou,
want selfs deur die dal van dooskaduwee
seil die Herder saam in ons bootjie mee.

lees ek toe Johannes tien
en wat mens daar van die Goeie Herder sien:
Dis Hy wat sy lewe vir die skape aflê,
ons is syne, en Covid het nie daarin ‘n sê.

Hy is ook die pad na die Vader se deur,
Covid kan ons toegang nie keer.
Na groen weivelde is waarheen Hy ons lei
om daar lewe, ja in oorvloed, te kry!

Jy moet saam met my in die Woord weiveld wei,
dat ons lewensbootjie weer nuwe seile kan kry.
Sodat, as die derde golf weer kom,
oorspoel hy ons nie, maar ry ons hom!

Verruil die leuen vir die Seun!

Hulle lyftaal het duidelik gewys…
Soekende oë het my deurboor…
Met verwagting het hulle kom hoor:
Kan die Evangelie die pad aanwys?

Here, ‘n storm is in my gemoed:
Ek het gister drie mense ontmoet,
Sherie, Francois en Jean –
Help hulle om U wil te verstaan.

Die tentjie by die sentrum opgeslaan,
is vir dié haweloses ‘n luukse bestaan
Hulle sê, wat ek minstens kan weet,
is dat hulle nou lekker kan eet.

Die virus het hulle van die straat afgehaal.
Na vier dae kom hulle nou tot verhaal,
want hulle het nog nie weer dwelms gebruik
en jy kan nie meer die straat aan hulle ruik.

Lank terug het hulle ‘n huis gehad,
intussen is hulle kinders ook weggevat.
Hier by die sentrum kom soek hulle sin:
‘n Kans van ‘n leeftyd om oor te begin.

O Vader, ek bid dat hulle Satan se leuen
sal verruil vir die waarheid van U Seun.
Gee dat hulle in dié tyd U sal vind
en prewel: Abba, Vader, ek is U kind!

Die dwelms verdoof net die pyn van sonde…
U vergeef en neem dit permanent weg.
U vee trane af en genees al die wonde.
U was hulle skoon al was hulle hoe sleg!

Die dwelms is ‘n wrede slawerny…
Sal, U hulle asseblief daaruit bevry?
Laat hulle ware bevrediging leer
en met hulle nuwe lewe U vereer!

Die dwelms gee net verbygaande plesier…
U einddoel vir hulle is iets wat ewig duur:
Want U maak haweloses bymekaar.
Die bruilofsmaal wag vir hulle daar.

Open daardie oë wat my so deurboor.
Laat hulle glo as hulle dié Boodskap hoor.
Laat hulle knielend voor U buig
en as wedergebore kinders juig!

Vier uur

Vier uur op die eerste dag
kom die sms waarvoor ek wag,
ja, sluip Covid in soos ‘n dief:
Jy is positief…

Vier uur wasem teen die kar se ruit:
ongevalle te vol, ek kan eers in as iemand uit.
Ek kyk hoe die ligte van die ambulans
patroontjies op die lykwa dans…

Die intensief se vier uur koor
is nie bedoel vir enige gehoor.
‘n Geroggel en gehyg is die sang,
van almal wat na asem verlang.

Susters met donker vieruur oë,
met meer druk as hul vermoë.
Gordyne word haastig toegeruk
en pype in platval longe ingedruk.

Tuis en gesond, maar weke later
voel ek steeds vier uur trane water.
‘n Laken wat ‘n jongvrou liggaam toevou,
haar bleek slap hand bly ek onthou…

Vier uur sal nooit weer dieselfde wees,
van nou af is dit ‘n tyd van gebed
knielend hier langs my bed:
Vul my met die asem van U Gees!

Jy moet gaan

Die Jona-vis-droom het my uitgespoeg
my wekker sê: Jou min slaap was genoeg
drenkeling is die sand se geestelike moeg
weer vannag met Jona se seegras geswoeg…

Here, moet ek regtig weer terug
na die intensief se Ninevé gesig?
Ek was dan gister heeldag daar
siekes stroom in – dit kom nie klaar…

Links of regs kon ek nie kyk
want links was daar ‘n lyk
en regs een wat beswyk
drogbeelde wat nie wil wyk…

My dogter, jy moet weer gaan
want as jy tog maar verstaan:
Die omie wat hier by My staan
sou sonder jou verlore gaan…

Krag vir vandag

Abba, ja my hemelse God en Vader,
dankie dat ek vanaand weer tot U kan nader.
U weet elke greintjie van my lyf is moeg
en hoe het ek die afgelope week geswoeg.

Kan ek een aand deurslaap, wil ek vra,
maar ek sit eers weer vandag se hartseer
hier by U deurboorde voete neer,
want hierdie las kan ek nie alleen dra.

Daar was twintig behandeling op my lys,
en U het vir my die volgorde aangewys.
Voor ontbyt al begin
anders pas almal nie in.

Vroeg oggend was ek lekker sterk.
Maklik om met groen pasiënte te werk,
maar later moes ek gaan na rooi
en die prentjie daar was nie mooi.

Vyftien behandelings om te gaan,
as ek so aftel weet ek U verstaan…

Elke pasiënt se saturasie is laag:
Die stress om te behandel knaag.
Tussen pype deur hou ek lesings dop
enige tyd kan sy hart ophou klop…

Twaalf behandelings oor
dankie dat U elke gebed hoor.
Een kon ek ‘n entjie laat loop
suurtsof en pype vasgeknoop.

By ‘n oop deur lê ‘n man effe geknak
en dis asof hy na sy asem snak.
Suster, jy moet vinnig kom kyk!
Toe ons terugstap lê daar ‘n lyk…

Here, ek vertel U dinge wat U weet:
Die PPE veroorsaak meer as sauna sweet.
die sweet loop af teen my been
soos ‘n warm Amazone reën.

Na tien behandeling gou drink en eet
anders gaan ek dehidreer van die sweet.
Die boodskap terwyl ek nog kou:
“Ek het hulp nodig, kom tog gou…”

Die vroutjie in saal C is in my bede:
Hulle het sewe jaar vir ‘n kind gewag,
en sy het vandag gehoor sy verwag,
maar in ‘n ander saal haar man oorlede.

Behandeling agt is van die lysie afgehaal
Avbob het hom sopas kom haal.
Ek het hom nog gister van U vertel –
is hy nou in die hemel of die hel?

‘n Foonboodskap tussendeur bring my van stryk:
“Ag sal jy asseblief na my oupa gaan kyk –
die hospitaal sê hy gaan vandag nog beswyk?”
Ek bid vir hom terwyl hy met betraande oë na my kyk.

Die lysie aangepas, nog drie by:
Siekes het dooies se beddens gekry…

Nege, agt, sewe ses,
Here ek doen my bes.
Vyf, vier, drie, twee, een
Here ek kon nie hierdeur alleen!

Here, die pasiënte gaan min slaap kry,
want hulle gaan die hele nag vir asem stry.
Wil U met elkeen op my lysie wees
vul hulle met die asem van U Gees. Amen

In die bed sit ek gou die tablet aan:
Wat gaan in die res van die wêreld aan?
Gou kos vir Covid familie met Shoprite sixty stuur.
Vriende antwoord waar hulle suurstof kan huur.

Verlede naweek moes ek ook werk,
nie tyd vir my gesin of die kerk
Ek het so gesmag om more te kan rus,
maar sopas gehoor dat daar te min hande is.

Terwyl ek my bekommer oor bed ses se oom
val ek weg in ‘n diepe droom…

O Here, dankie vir ‘n nag se slaap,
jammer dat ek nou eers gaap…
Buite is dit nog donker en koud,
vir die dag wat voorlê is ek benoud.

Dankie vir wat ek nou in U Woord kon lees
dankie dat U my daardeur vul met U Gees.
Ek het weer daardie bo-alle-verstand-vrede,
U is die enigste bly-wees rede.

U het so weer met my gepraat
en gevul met die dag se krag en raad.
U het my ook beter laat verstaan,
hoekom ek vandag terug moet gaan:

My dogter, Ek het jou oor baie jare opgelei,
‘n meer ervare intensief werker kon Ek nie kry.
Oor al die jare was jy in Woord en gebed,
Ek plaas jou daar waar Ek wil red.

Ek het lank vooruit reeds bepaal
dat ek daardie omie gister sou kom haal
Vooruit was dit ook al swart op wit
dat voor dit moes gebeur, sou jy kom bid.

Hier by die feesmaal van die Lam
sit die omie, sy oë nog effens klam.
Hy het vandag My heerlikheid gesien,
‘n ewigheidsvreugde onverdien.

Here, vandag is daar drie en twintig op die lys,
sal U asseblief vir my die pad daardeur wys.
En as ek dan so biddend daardeur gaan,
help my om tot by nommer een te bly staan…

Amen

Soveel te meer

Here, ek weet
ek het U vergeet.
U is seker vir my kwaad,
maar ek moet met U praat:

Na my skof by die hospitaal
het ek in die natuur kom asem haal.
Die wintergras spreek in droë taal
van my eens suksesvolle verhaal.

Ek was nog altyd die beste dokter gewees –
En kon mense van allerlei siektes genees.
Maar na hierdie derde golf kan ek nie meer –
Ek verloor pasiënte keer op keer.

Vandag was daar twee besig om te versmoor,
maar daar was net een ventilator oor.
Ek gee dit toe maar vir die man in bed ses,
hy is jonger en sy besigheid ‘n sukses.

Die ou man is na die ander kamer oorgeplaas
waar hy onvermydelik sy laaste asem uit sal blaas…
Die foon doodgedruk toe sy familie bel,
ek moet aangaan – die oordeel is gefel.

Die baba voëltjie se bekkie wawyd oop
die ma kom ‘n waterdruppeltjie daarin doop.
Heen en weer vlieg sy getrou
terwyl hy sy bekkie oophou.

Na elke pasiënt het sy weer by die ou oom ingegaan.
Ons kan niks vir hom doen nie – kan sy nie verstaan?
Uit nuuskierigheid het ek later ongemerk gaan kyk.
Ek sien toe hoe sy, sy droë lippe met ‘n nat lappie bestryk.

Here hier voor U is ek stukkend
trane rol, my bors rukkend.
Ek het al baie mense gesond gemaak,
maar nog nooit iemand so teer aangeraak…

Here, is U regtig in beheer?
Ek wil my bekeer,
sal U my leer
hoe ek U kan eer?

Jy vra: Is ek in beheer?
Soveel te meer!

Ek het die man na die ventilator gestuur –
dit was nog nie sy uur
Ek het geweet
hy is nog nie gereed…

Jy vra: Is Ek in beheer?
Soveel te meer!

Die ou man, ‘n man van vrede,
“Ek het dors”, sy laaste bede.
Ek het haar vir hom gestuur
en jou geroep in dieselfde uur!

Sy swaarkry tyd was weglaatbaar min –
hy is in My ewige vreugde in.
Hy het altyd eers my koninkryk gesoek,
sy lewe gerig deur My Boek:

Oor die voëls is My sorg getrou,
soveel te meer vir jou! (Mat 6:26)
As ek die veldlelies so mooi beklee,
sal Ek soveel te meer vir jou omgee! (Mat 6:28)

As Ek sorg vir die gras van die veld,
soveel te meer as jou baie geld! (Mat 6:30)
Soek van nou af My koninkryk
dan sal al jou sorge wyk… (Mat 6:33)

In die dammetjie sien ek die lelie se wit,
en vir die eerste keer kon ek opreg bid.
Die grasse begin wuifend juig
terwyl die voëltjie sy lof betuig:

Soveel te meer
God in beheer!
Soveel te meer:
Aan Hom die eer!

My woorde min

Gelukkige gesin.
Vrou en ma bemin.

Covid. Bloedklont.
Noodlottig gewond.

Dogter trou,
maar hul rou.

My woorde min,
vir die gesin.

Ag die seer:
Troos hul Heer!

My Covid lied

Anneli, jy wat dowe leerders kon laat sing,
jou lied het my deur die Covid tyd gebring.
Dit deurweek my elke oggend oppad na werk
om my vir die harde dag te versterk…

“Die Here is om jou, die duister word lig
Hy laat jou lamp helder skyn.”

Vir baie ontvanklikes in die hospitaal
kon ek my foon net daar uithaal
en die seënbede vir hulle speel,
en so die Blye Evangelie deel…

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Vir soveel moes ek help om uit die bed op te staan –
eerste treetjies om na die siekte aan te gaan.

“Die Here is langs jou, jou vesting en rots
Hy laat jou staan op die hoogte.”

Met wankelende been,
hoor hulle die seën:

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Die een sterwende omie was angstig en bang,
maar na die seënbede ‘n traan op die wang:

“Die Here is bo jou van Hom kom jou hoop
Jou siel sal Hy ewig bewaar, Hy is by jou.”

‘n Rustigheid het oor hom gekom
en kort daarna is Hy op na Hom.

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Vir die tannie deurweek met kanker,
en Covid asemnood was dit die anker:

“Die Here is voor jou, Sy lig op jou pad
Hy neem jou na waters van rus.
Sy het ‘n diep vrede gevind:
“Sit maar af die suurstof, my kind…”

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Anneli, dankie dat ek jou lied kan leen,
dis my Covid lied van die Here se seën.

Die vierde golf begin

Gister was ons bymekaar om vir oulaas
U te loof vir die lewe van oom Baas.
Hy het U onwrikbaar gedien
‘n voorbeeld om na op te sien.

Daarmee saam het die vierde Covid golf begin,
laat ons Heer oor ons lewens besin.
Gee dat ons ook met só vaste sekerheid kan weet
ons is ook vir ons dood gereed.

Help ons om net op U te vertrou,
om aan al U beloftes vas te hou.
Laat ons deur die uitdagings wat kom,
U vereer tot U Seun spoedig weer kom.

Kyk deur die kruis (Elsabé)

Vir baie dae
stukkend en verslae
Dood en seer oral om my heen.
Vader, daar sterf nog een.
Niks maak sin.
My bydrae is so min.

My kind, jy was nie alleen.
Ek was saam met jou by elke een.
Oor elke pasiënt wat jy buk,
los jy ons vinger afdruk.
Jy het ‘n stukkie van my afgesmeer
elke liewe keer.

Ek weet jy is leeg en gedreineer,
maar vandag moes jy kom leer:
Kyk na die lewe deur die kruis –
Ek sal jou die pad wys.

Ek los jou nooit alleen,
Ek is saam met jou by elkeen.
Jy sal weer vol vreugde wees.
Ek gee jou ‘n nuwe standvastige gees.
Al moet hul ly,
hou jou fokus op My.

Jy moet aanhou om My te dien,
sodat hul My kruis deur jou sien.

BUNDEL: COVID

Jy kan hierdie bundel in ‘n PDF aflaai

SEWE TOT SEWE

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading