As jy in die ewigheid terug staar:
In die begin was die Woord daar
en die Woord was by God
en die Woord was self God. (Joh 1:1-2)
Alles het deur Hom tot stand gekom.
Ja, niks het ontstaan sonder Hom.
In Hom was daar lewe –
die Lig aan mense gegewe. (Joh 1:2-3)
Die skynende Lig wat duisternis kloof,
kon die duisternis glad nie uitdoof.
Hy het na Sy eiendom toe gekom,
maar sy eie mense glo toe nie in Hom… (Joh 1:4-11)
Maar almal wat Hom aangeneem het en in Hom glo,
het Hy die reg gegee om kinders te word van die Vader daar bo.
Nie deur hulle besluit, maar van nature verlore,
word hulle opnuut uit God gebore! (Joh 1:12-13)
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Ons het sy heerlikheid gesien, wonderlik, beeldskoon.
Niemand het nog ooit God self gesien,
maar deur Sy Seun sien ons Sy genade onverdien: (Joh 1:14,18)
Die enigste Seun van die Vader se heerlikheid
is oorlopens vol van genade en waarheid.
Ons almal is uit daardie oorvloed
met genade op genade begroet. (Joh 1:14-16)