Die waterdraers

Ek sal die inwoners van die land in jou mag gee,
maar daar kom ‘n waarskuwing daarmee:
Moenie ‘n verdrag met hulle sluit.
Nee, wis hulle heeltemal uit! (Eks 23:31-33, Eks 34:12, Deut 7:1-2)

Die Gibeoniete het bang geraak
en toe ‘n slim plan gemaak.
Hulle het verslete saalsakke gevat
en kos ingepak vir die pad.
Hulle het hulle só vermom
dat dit nie lyk of hul van naby kom. (Jos 9:1-6)

Die Israeliete het die klere oorweeg
in plaas van om God te raadpleeg.
Hulle het toe ‘n verdrag gesluit.
Drie dae later kom die waarheid uit. (Jos 9:15-16).

Die eed het hul lewens gespaar
maar word toe houtkapper en waterdraer. (Jos 9:20-21).

O God, ek dra ook swaar,
want ook ek is ‘n waterdraer.
Ek het nie gevra na U wil
en ek het ook ander verkul…

My Vader, as U die lydensbeker nie kan spaar
sal Ek dit drink – laat U wil geskied ook daar… (Mat 26:42).
So het U ook die las kom dra
van die wat U vergifnis vra.