Jy moenie in swaarkry bang raak,
onthou: Ek het jou gemaak!
Al ervaar jy nou pyne,
onthou: Jy is Myne! (Jes 43:1)
As jy deur water moet gaan,
is dit Ek wat by jou staan.
Is jy in vlamme van vuur,
is Ek ook by jou in daardie uur (Jes 43:2)
Ek is die Heilige God en Heer,
Ek bring vir jou redding weer!
Want Ek het jou lief gekry
en jy is so kosbaar vir My. (Jes 43:3-4)
Ek het jou geroep, sê die Heer,
en jou geskep tot My eer.
Daarom sal Ek jou weer vergaar
en maak Ek jou weer bymekaar. (Jes 43:5-7)
Al kom die beloftes van bo,
wil julle dit nie glo!
Kan mens dit verstaan –
julle kla Mý nou aan? (Jes 43:26)
Maar julle moet in die hofsaak leer:
Julle moet glo in die enigste Heer…
Laat al die nasies bymekaarkom
julle moet voor hulle getuig oor Hom… (Jes 43:8-13)
Voor Mý was daar geen god gewees,
ná My sal daar ook nie een wees.
Ek, Ek is die enigste Heer –
niemand kan My dade keer! (Jes 43:10-13)
Ek sál die Galdeërs laat vlug!
Ja, dink maar net terug:
Ek het ‘n pad gemaak deur die see
en die strydwaens meegesleur… (Jes 43:14-17)
Maar moenie net by die verlede staan,
dis Ek wat ook die toekoms verstaan:
As jy oppad terug van dors wil kwyn,
bring Ek vir jou water in die woestyn. (Jes 43:18-21)
Jy kry dit al het jy dit nie verdien,
want jy het nie moeite gedoen om My te dien.
Jy het nie jou geld na My gekeer
en My nie met offers vereer. (Jes 43:22-24)
En tog is dit Ek wat jou vergewe.
Ek bly getrou aan Myself lewe:
Ek dink aan jou sondes nie meer!
Wil jy teen dié uitspraak appeleer ?! (Jes 43:25)
Kla My aan in hierdie saak
dat ons die tussen ons uitmaak.
Jou voorouers het teen My oortree
en toe kom die straf daarmee. (Jes 43:26-27)
Kom Ek verduidelik weer
Ek het jou gevorm, sê die Heer
Nog in jou moeder se skoot,
was jy my uitverkore loot.
Vir My kinders gee ek My Gees
om water op droë grond te wees. (Jes 44:1-5)
Laat ek jou weer vertel:
Ek is die koning van Israel.
Ek is die Verlosser Heer,
Ek was eerste en is laaste weer. (Jes 44: 6)
Is jy soos Ek? Dan moet jy jou saak stel,
moet jy oor die toekoms kom vertel.
Jy moet oor die verlede kom leer
en oor die toekoms kom profeteer. (Jes 44:7)
Ek bevestig die woorde van my dienaar
want Ek kán die toekoms verklaar.
Ek sê vir Kores: “Ek het jou aangestel,
stuur My volk om die tempel te herstel!” (Jes 44:26-28)
Kores, Ek het aan jou mag gegee,
Ek het konings hulle wapens laat neerlê.
Alhoewel jy My nie ken,
het Ek jou gevegte laat wen.
Ek het hoogtes voor jou gelyk gemaak,
dit het Ek gedoen want Ek het vir jou ‘n taak… (Jes 45:1-5)
Ek doen dit so dat al hierdie nasies verstaan
dat buiten My, geen ander God bestaan.
Ek is die oorsprong van die reën,
voorspoed wat ontkiem is Mý seën. (Jes 45:6-8)
Vir jou wag ellende en spyt
as jy die Pottebakker wil verwyt.
Durf julle rekenskap vra oor wat gaan gebeur?
Ek stuur Kores en niemand kan dit keer!
So laat Ek My ballinge haal,
sonder om eers daarvoor te betaal! (Jes 45:9-13)
Kom nasies wat hier getuies is,
kom bymekaar dat ons kan beslis.
Het Ek nie hierdie dinge lank vooruit vertel?
Is daar enige ander God wat dit kon voorspel? (Jes 45:20-21)
Die uitspraak kom van bo,
een wat mens nie kan glo:
Kom tog net na My
om redding te verkry.
Elke knie sal voor My buig
en van My redding getuig! (Jes 45:22-24)
Luister dan nou weer
wat Ek jou wou leer
en glo dit hierdie keer:
Jy moenie in swaarkry bang raak,
onthou: Ek het jou gemaak!
Al ervaar jy nou pyne,
onthou: Jy is Myne! (Jes 43:1)
As jy deur water moet gaan,
is dit Ek wat by jou staan.
Is jy in vlamme van vuur,
is Ek ook by jou in daardie uur. (Jes 43:2)
Ek is die Heilige God en Heer,
Ek bring vir jou redding weer!
Want Ek het jou lief gekry
en jy is so kosbaar vir My. (Jes 43:3-4)
Ek het jou geroep, sê die Heer,
en jou geskep tot My eer.
Daarom sal Ek jou weer vergaar
en maak Ek jou weer bymekaar. (Jes 43:5-7)
Onthou in hierdie aardse pyn:
My Seun sal op ‘n wolk verskyn.
Al die volke sal verslae staar
hoe hy Sy kinders vergaar! (Mat 24:31)