Die Goeie Herder

Mens tree op as profeet,
sodat die herders weet:
Julle herders moes na my kleinvee kyk,
maar julle het net julself verryk. (Eseg 34:1-2)

Julle moes die swakkes dra,
dokter, dié wat van siekte kla.
Hul wonde toedraai in ‘n doek
en die wat verdwaal het gaan soek. (Eseg 34:3-4)

Maar julle het wreed en hard regeer!
Ek moes jul verstrooi, sê die Heer…
Die kleinvee was herderloos
‘n prooi vir roofdiere, so broos. (Eseg 34:4b-5)

Hulle het herderloos rondgedwaal,
daarom gaan julle, herders, betaal!
Julle eet My kleinvee as jul vleis:
Ek sal elkeen van julle terug eis! (Eseg 34:6-10)

Ek sal my kleinvee in verstrooing raaksien.
Ek sal hulle soek en na hulle omsien.
Ek sal hulle red uit die vyand se hand
en terugbring na die beloofde land. (Eseg 34:11-13)

Hulle sal rustig herkou en wei,
want hulle sal My as Herder kry.
Ek sal die soek wat wegdwaal
en hulle genees van elke kwaal. (Eseg 34:14-16)

Party van julle het die beste gras afgewei
en die weiding vertrap wat toe oorbly.
Julle het skoon water gedrink by die kuil,
maar wat oorbly het julle vervuil. (Eseg 34:17-18)

Van my ander kleinvee kry dus swaar –
Ek gaan regverdig oordeel tussen vet en maer.
Julle wat so met julle koppe stamp,
vir julle wag daar weer ‘n ramp… (Eseg 34:19-22)

Ek wil van my dienaar Dawid vertel
wat Ek vir julle as Herder aan sal stel.
Hy sal oor julle regeer
en Ek is God, julle Heer. (Eseg 34:23-24)

Ek sal vir julle die verbond van vrede bring –
Geen roofdier sal die land binnedring!
Rondom My heuwel bring ek voorspoed:
Grond met opbrengs en vrugte in oorvloed. (Eseg 34:26-27)

Liewe leser, jy moet onthou:
Hierdie belofte geld ook vir jou!
Die Lam is op die troon
waar jy vir ewig sal woon.

Hy het jou van swaakry bevry –
Honger en dors sal jy nie meer kry.
Jou Herder sal jou na die lewenswater lei.
Ja, Hy wat op die troon sit sal by jou bly! (Op 7:14-17).


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply