Abraham:
Sit onder my heup jou hand,
en gaan na my geboorteland:
Gaan haal vir Isak ‘n vrou,
waarmee hy kan trou. (Gen 24:1-4)
Slaaf:
Ek hoop die vraag klink nie dom –
Maar wat as sy nie saam wil kom?
Moet Isak dan daarheen gaan?
En bly my opdrag dan nog staan? (Gen 24:5)
Abraham:
As die vrou nie saam wil ry,
is jy van hierdie opdrag vry.
Maar terug moet Isak nie gaan:
Die beloofde land is Kanaän! (Gen 24:6-8)
Slaaf:
Here, betoon tog aan my trou,
en laat kom na die fontein ‘n vrou.
As ek haar vra vir iets te drink,
sal sy vir my kamele ook skink. (Gen 24:12-14)
Rebekka:
Ja, drink gerus my kruik, meneer.
Ek skink ook vir u kamele weer.
Betuel is my liewe vader,
U kan hom vir slaapplek nader. (Gen 24:15-25)
Slaaf:
Ek wil die Here dank en loof,
Hy het gedoen soos Hy beloof.
Ek is Abraham se getroue slaaf,
en U laat sy broer se dogter my laaf! (Gen 24:26-27)
Betuel:
Jy is die man deur God geseën,
waarom staan jy hier alleen?
Jou eienaar se planne is duister,
kom na ons huis dat ons kan luister. (Gen 24:29-31)
Slaaf:
… dit was dan die verhaal
van hoe ek ‘n vrou kom haal.
Die Here het my hierheen gelei,
om u dogter vir Isak te kry. (Gen 24:34-49)
Betuel:
Wat hier gebeur is van die Heer:
Ons kan dit nie probeer keer!
Rebekka moet saam met jou gaan,
maar laat sy nog tien dae staan. (Gen 24:50-55)
Slaaf:
Julle moet my nie ophou,
die Here was aan sy woord getrou.
Laat my na my eienaar gaan:
Die weg is deur die Here gebaan. (Gen 24:56-57)
Rebekka:
Wie is die man daar oorkant?
Wat aangestap kom oor die rant?
Ek trek die sluier oor my gesig,
ek sal dit eers weer na die troue lig! (Gen 24:62-65
God:
Ek het my Seun as slaaf gestuur,
op soek na ‘n bruid vir die uur
wanneer ons die bruilof gaan vier.
Dis waarvoor ek gereed maak hier. (Op 19:7; Op 21:2)