Die dood se kleur en God se geur.

God het ons vrygespreek deurdat ons glo:
Daar is nou vrede tussen ons en Hom daarbo.
Deur Jesus het ons toegang tot dié genade verkry:
Vreugde in die hoop om dié heerlikheid te kry. (Rom 5:1-2)

Ook in swaarkry is ons verheug en bly,
want daardeur sal ons volharding kry.
Dit kweek weer egtheid van geloof.
Dit lei weer na hoop wat ons laat loof.
Want deur die Heilige Gees het dit waar geword:
God het sy liefdegeur in ons harte uitgestort! (Rom 5:3-5)

Christus het op die bestemde tyd vir my gesterwe
Al was ons nog magteloos, het ons die lewe geërwe.
God het sy groot liefde vir ons so bewys:
Christus het gesterf vir ‘n sondige gespuis! (Rom 5:6-8)

Deur sy dood is ons vrygespreek van die wet
en dit staan vas: Ons is ook van God se straf gered.
Deur Sy dood het Hy ons met God versoen,
deur Sy lewe het Hy vir ons reddingsdade gedoen. (Rom 5:9-11)

Daar is dinge van Hom wat sou kom
wat met Adam ooreen kan kom.
Die Adam familie wys sy kleur,
die Christus familie vesprei ‘n geur…(Rom 5:14)

Een het oortreding gegee,
die ander bring genade mee.
Deur een mens het baie gesterf,
deur Een het baie oorvloedig geëerf! (Rom 5:15)

Een mens se oortreding het tot oordeel gelei,
deur een Mens se genade is vryspraak verkry.
Deur een mens het dood mense laat bewe,
deur Een sal hulle heers en ewig lewe! (Rom 5:16-17)

Deur een se ongehoorsaamheid gelei tot sondaar,
deur Een se gehoorsaamheid vry daarvan verklaar.
Die wet het oortreding net meer gemaak,
maar so het die genade oorvloediger geraak. (Rom 5:18-20)

Sonde het deur die dood heerskappy gekry,
maar genade het tot die ewige lewe gelei.
Oor die Adam familie hang die dood se donker kleur,
oor die Christus familie hang God se goedheidsgeur. (Rom 5:21)


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply