Die bose se tyd
Dit moet jy weet: in die laaste dae
bring die bose swaarkry en plae (II Tim 3:1)
Hierdie laaste dae het begin
met Jesus se koms die wêreld in. (Joh 2:18, Heb 1:2, I Pet 1:20)
Aan die einde van die laaste dae kom Hy weer
tot dan toe word die kwaad net meer en meer. (Mat 24)
Die graad van die kwaad
“Swaar” is amper nog te lig vertaal (II Tim 3:1)
“Baie gevaarlik” die woord in ‘n ander verhaal. (Mat 8:28)
Gelowiges sal nie net lelike goed sien,
maar fisies ervaar wat hulle nie verdien…
Die inhoud van die kwaad:
Die mense sal:
1. Selfsugtig wees,
“Alles vir my”, is hoe dié reël lees
2. Geldgierig
“My doelwitte op geld gerig”
3. Grootpraterig
“Kyk net wat het ék alweer verrig!”
4. Verwaand
“Kyk na die gespuis vanaand…”
5. Beledigend teenoor hulle medemense
“My eie eer is my hart se wense.”
6. Hulle rebelleer na paaie van duister,
“Na my ouers gaan ek nie luister!”
7. Die “reg om te ontvang” se stank
in plaas van “uit God se hand” se dank.
8. Ongodsdienstig en onheilig ook op die lys,
want daar is geen optrede wat na Jesus wys
9. Harteloos
vir alles broos.
10. “Vergewe”, sal die spreekwoord heet,
“maar verseker sal ek nie vergeet!”
11. In alles wat hulle praat,
hoor mens net die kwaad.
12. Hulle hou hulle aan niks gebonde
“Niks wat ék begeer is sonde”
13. Wreed,
die rede vir leed.
14. Geen liefde vir die goeie:
Klip harte in yster boeie…
15. “Ek sal jou moet verraai,
as dit dinge na my guns gaan swaai…”
16. In roekeloosheid voort donder
dat die wêreld hul bewonder.
17. Hooghartig vir hulself afgesonder
in plaas van om ander te bewonder.
18. Eerder liefde vir genot
as liefde vir God!
18. Met godsdiens se skyn eie voordeel probeer wen,
maar die krag van godsdiens sal hulle nie ken. (II Tim 3:2-5)
Die subtiele impak van die bose
Julle moet van sulke mense wegbly,
want anders gaan julle hulle denke in julle huise kry
As jy nie pasop nie, word jou vrou geleer
om allerlei sinlike dinge te begeer. (II Tim 3:5-7)
Die grense van kwaad
Moses se plae het gewys dat Hy God aan sy kant het,
maar Jannes en Jambres kon dieselfde plae gedoen het.
Maar vanaf die vierde plaag,
kon hulle nie meer daarin slaag…. (II Tim 3:8)
Netso is die mense wat die verstandelike verwardheid het
en hulle teen die waarheid van God verset.
Hulle dwaasheid is duidelik vir die gelowige mens.
Die bose kom nie ver, want God het sy mag begrens. (II Tim 3:8-9)
Die raad teen die kwaad
Maar jy het my nagevolg in leer,
in lewenswandel jou bekeer
In lewensdoel, liefde, geduld en geloof
wat volhardend vashou in wat God beloof. (II Tim 3:10)
Watter vervolging het ek nie verduur!
Tog was jy saam met my in daardie uur.
In al die ontbering wat my te beurt geval het:
Die Here het my uit almal gered! (II Tim 3:11)
Almal wat in Christus toegewy lewe,
sal onder sulke vervolging bewe.
Maar jy, bly by wat jy van kleins geleer het:
Die boodskap van die Heilige Skrif en wet. (II Tim 3:12-14)
Dis waar jy al die kennis sal kry
wat tot die verlossing van die bose lei.
As jy in Christus Jesus glo
kry jy die beloftes van Bo! (II Tim 3:15)
Die hele Skrif is deur God geïnspireer:
Dit het groot waarde om te onderrig en leer,
om die bose se dwaling te bestry,
om al die verkeerdhede te vermy,
om ‘n regte lewenswyse te verstaan,
waarin die man in God se diens moet staan,
volkome toegerus en voorberei,
om in goeie werke staande te bly. (II Tim 3:16-17)
Samevatting
So, ons leef in die bose se tyd
en hoe later, hoe feller die stryd.
Verskriklike sleg,
die algemene weg.
Liefde vir genot,
eerder as vir God
Dit kom ook subtiel
aanspraak maak op jou siel…
Maar God het dit begrens
en het vir jou hierdie wens:
Vir jou behoud het ek die Skrif geïnspireer,
glo die vreugde boodskap wat jy daarin leer.
So sal jy kan staande bly
tot Ek weer kom om jou te kry.