Die boodskap

Hier is ‘n dringende boodskap.
Nee, nie net nog ‘n whatsapp.
Hierdie kom uit ‘n vergete Boek
wat jy verruil het vir jou Facebook…

Vandag kry jy boodskappe by die ton
oor enige onderwerp onder die son.
Maar omdat jy dié Boek nie meer lees,
hoor jy nie die boodskap van die Gees…

Die hemel getuig van Sy mag.
Die uitspansel oor Sy werke se krag.
Onhoorbaar is hulle stem… (Ps 119:1-3)
want jy het net jou foon vasgeklem!

Die Woord van die Here is volmaak,
Dit gee wysheid vir jou taak
Dis kosbaarder as goud, (Ps 199:8-11)
maar vir jou laat dit koud?

Jesaja het al die blye boodskap gebring,
engele het later daaroor gesing,
om moedeloses op te beur. (Jes 61:1)
Waarom wil jy jou nie daaraan steur?

As jy dié Boek weer opvou,
is daarin ‘n boodskap is vir jóú:
Jy sal deur geloof bly lewe
en moet na die reg bly strewe. (Hab 2:4, 1983 en 1953)

As jy hierdie boodskap het,
kan dit jou hele huis ook red
As jy dit tog maar net wil lees,
word jy gevul met die Gees! (Hand 11:14-15)

Wat vang jy dan nou aan?
Dís die boodskap wat daar staan:
Die Skepper van alle dinge is jou Heer,
jy moet jou tot die lewende God bekeer. (Hand 14:5)

In die Skrif staan dit so:
Elkeen wat in Hom glo,
ja, elkeen wat roep tot Sy Naam
word gered en nie beskaam (Rom 10:10-14).

Jy kan Hom nie roep as jy nie glo
en nie glo as jy nie hoor van bo. (Rom 10:14)
So, jy moet dringend weer begin lees!
So hoor jy die boodskap van die Gees. (I Kor 2:4)

Die booodskap is onsin vir die wat vergaan
want hulle hou op lees en het nie verstaan…
Die boodskap van Christus se kruis
is die krag van God vir jou huis. (I Kor 1:18).

Dié boodskap het Hy aan jou toevertrou:
Dis ‘n boodskap van versoening vir jou.
Hy het jou oortredings nie toegereken. (II Kor 5:19)
Hoe kan dit vir jou so min beteken???

Lees jou Bybel vir nog ‘n rede:
Dis vir jou ‘n boodskap van vrede
Deur die Gees kan jy tot Hom nader
in Sy huisgesin is Hy jou Vader! (Ef 2:17-19)

As die boodskap se rykdom
binne in jou hart inkom,
sal jy God met psalms eer
en ander ook van Hom wil leer. (Kol 3:16)

Oppervlakkige boodskappe verkul
Jy moet jou met die Woord vervul.
Ek wil jou dringend vermaan
om die volle inhoud te verstaan (Heb 6:1)

Die boodskap is ‘n lamp wat in donker skyn
Bly in sy lig tot dagbreek as Hy weer verskyn
Sy Woord is nie deur mense geskryf,
nee, hulle is deur die Gees daartoe gedryf. (II Pet 1:19-21)

Ag, los tog so af en toe daardie foon,
want groot is die Boodskap se loon.
Jy moet asseblief weer begin lees,
want dan hoor jy weer die Gees.

God is aan Sy woorde getrou
Hy sal jou in beproewing vashou.
Jy moet die boodskap glo:
Jou Verlosser lewe daar bo. (Op 3:10)