Ek is ‘n gevangene van self probeer met die wet
waar ‘n doodsbestaan beheer oor my het. (Rom 7:17-23)
Ek ellendige mens!
Wie bring my verlossingswens? (Rom 7:14-25)
In die laagte van die vallei
is ek alleen besig om te stry…
My kind, jy moet kies:
Glo jy die goeie nuus?
Die wat hulle deur die sondige natuur laat beheer
hou hulle besig met die dinge van die vlees.
Maar die wat hulle deur die Gees laat regeer
hou hulle besig met die dinge van die Gees.
Die sondige natuur loop uit op die dood in sy wrede,
maar die dinge van die Gees bring lewe en vrede. (Rom 8:5-6)
Van hieronder kan ek die bergtop sien
Here, help my op – ek kan niks verdien…
My kind, laat jou lei deur die Gees
kom jy waar Ek wil hê jy moet wees.
Die sondige natuur is vyandskap met God
en onderwerp hom nie aan God se gebod.
Hulle lewe word nutteloos verspil
sonder ‘n soeke na God se wil. (Rom 8:7-8)
Júlle word egter nie deur die sonde beheer,
maar laat die inwondende Gees regeer.
Iemand sonder Christus se Gees
kan nie deel in die Christus fees. (Rom 8:9)
Omdat jy weet: Christus is binne jou
kan jy op die lewe deur die Gees vertrou.
Dié lewe kom deur God se vryspraak
al was jy veroordeel in die uitspraak. (Rom 8:10)
Christus se opstanding was die Gees se taak,
netso sal die Gees jou ook lewend maak.
Julle in die vlees, sal met die dood boet,
maar deur die Gees, gaan julle lewe tegemoed. (Rom 8:11-13)
Ek is uit die vallei waar die helling steil wil raak
Help Here, dat ek dit tot die bergtop maak.
Met jou hand in Myne sal jy die pad vind
want soos ‘n Vader lei Ek jou my kind…
Ons is nie meer slawe wat bewe
of wat heeldag in vrees lewe.
Almal wat hulle laat lei deur die Gees
sal nou kinders van God wees. (Rom 8:14-15)
Die wat die Gees ontvang kom nader
en roep: “Abba!” Dit beteken Vader.
As kinders is ons ergename van die ewigheid
en sal ook deel hê aan sy heerlikheid. (Rom 8:15-17)
Abba, Vader, my lyf is seer en ek is moeg
Dis ‘n geklim, val, opstaan en geswoeg…
My kind, hou die eindpunt in sig –
dit maak jou las sommer weer lig…
Ek is oortuig dat die lyding wat ons verduur
nie opweeg teen die heerlikheid van God se uur.
Die skepping is gespanne aan die wag
om te sien wie God se kinders is op dié dag. (Rom 8:18-19)
Hier waar ek klim is dit toegegroei
Dit voel regtig of ek alleen hier stoei.
My kind, kyk om jou rond
tot die skepping is verwond…
Die skepping het ook die belofte gekry
dat God ook hom vryheid sal laat kry.
Die hele skepping sug
van die sonde se gewig… (Rom 8:20-22)
Ek hoor die skepping sug so swaar,
maar het U my sug ook gewaar?
Die Gees sal jou help om te sien
hoekom jy volhardend moet bly dien.
Nie net die skepping dra swaar gewig
ook ons wat die Gees het, is aan die sug.
Ons sien ook uit om die kindskap te kry
wanneer Hy ons van verganklikheid bevry. (Rom 8:23)
Ons is gered (en as teken gedoop)
en het daarom nou al hierdie hoop.
Ons hoop op wat ons nog nie sien
terwyl ons Hom volhardend dien. (Rom 8:24-25)
O Vader, in my swakheid help die Gees
maar ek is nie seker hoe my gebede moet wees?
Moenie bekommer of jou gebede My haal –
die Gees het elkeen na my wil vertaal!
Die Gees staan ons in ons swakheid by
as ons nie weet hoe om te bid, help Hy.
Met versugting pleit die Gees
wat in lyn met God se wil sal wees.
So word ons gebede afgerond
na God wat harte deurgrond. (Rom 8:26-27)
O God, ek kan voel hoe die gestoei
my nader en nader aan U laat groei.
My kind, alles wat jy beleef
is in my plan vir jou ingeweef.
God laat alles ten goede meewerk
vir dié wat hom liefhet, Sy ware kerk:
Hy het hulle uitgekies lank tevore
om Sy beeld te word is vir hul beskore.
Hulle het hy geroep deur te preek
en hulle is deur Hom vrygespreek.
Hy het hulle ook verheerlik
en is vir Hom nou begeerlik. (Rom 8:28-30)
O Vader, om die laaste stuk klaar te kry
gaan ek nog verdere teenstand kry?
Hoe kan jy twyfel of ek jou gaan bewaar:
Vir jou het Ek nie eers My eie Seun gespaar.
Wat is ons gevolgtrekking as ons die dinge lees?
Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?
Hy het sy eie Seun nie gespaar
om ons van die straf te bewaar.
Hy sal dan mos wat jy nog bedenk
ook uit genade vir jou skenk (Rom 8:31-32)
Ek is net voor die berg se kruin
Wat is voor: vreugde of pyn?
My Seun het pleitend by My vir jou gebid:
Jy is vergewe, jou vuil klere is spierwit!
Wie kan die uitverkorenes van God aankla?
God self spreek hulle vry en sal hul dra.
Wie gaan ons skuldig vind?
Christus het gesterf as mensekind.
Jy moet nog meer verstaan:
Hy het uit die dood opgestaan.
Hy het aan God se regterhand gaan sit
waar Hy pleitend vir ons bid! (Rom 8:33-34)
Hier op die kruin kan ek gewaar
hoe baie klimmers het U al vergaar.
Oral teen die helling is U nog aan die bring,
saam kan ons net hierdie loflied sing:
Wie kan ons van die liefde van Christus skei?
Benoudheid, vervolging of dat ons ly?
Honger, naaktheid, swaard of gevaar?
Dit is oor U dat hulle ons skuldig verklaar
Ja, soos slagskape vir die dood vergaar.
Meer as oorwinnaars is ons klaar. (Rom 8:34-37)
My kind, jy kan hier jou vreugde deel
en saam met die lam en leeu gaan speel.
Of sit sommer net hier waar jy nou is
ja, hier by My voete kan jy nou rus.
Jy wat nog oppad is na bo,
kan met jou hele hart glo:
God het aan ons sy liefde betuig
en daarom is ek hiervan oortuig:
Geen dood of lewe of engele magte
of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
of hoogte of diepte of enigiets anders kan my
van die liefde van God, in Christus Jesus, skei! (Rom 8:37-39)