Van Paulus, ‘n apostel,
gestuur deur God se wil:
Die lewe in Christus Jesus,
is wat die inhoud van my boodskap is. (II Tim 1:1)
Aan Timoteus, my geliefde kind,
mag jy in hierdie boodskap vind:
Genade, barmhartigheid en vrede
van God die Vader en Jesus, die rede. (II Tim 1:1)
Ek dank God en bly Hom loof
as ek dink aan jou opregte geloof,
wat jy by jou ma en ouma kon leer, (II Tim 1:3-5)
al het jou Griekse pa hom nie bekeer… (Hand 16:1-3)
Ek onthou die afskeidstrane met heimwee:
Onthou ons het jou die hande opgelê
en so het God het jou ‘n genadegawe gegee.
Daarom wil ek dringend die volgende sê: (II Tim 1:4-6)
Die genadegawe se vuur moet in jou wees,
met krag, liefde en selfbeheersing deur die Gees,
Blaas aanhoudend hierdie vuur aan!
Jy moet weer die genadegawe verstaan: ( II Tim 1:6-7)
Moenie dat skaamte jou laat sondig
om nie die Here se boodskap te verkondig.
Skaam jou ook nie vir my
wat vir die evangelie in die tronk moet ly,
maar dra jou deel van die ontbering
vir die evangelie se lering. (II Tim 1:8)
Jy kan dit doen met die krag wat God gee.
Vat Sy Woorde en blaas die vlam daarmee! (II Tim 1:8)
Hy het ons geroep en gered
sodat ons toegewydheid het.
Nie op grond van ons dade,
maar op sy besluit uit genade!
Hy het dit van ewigheid af bedenk
en in Christus Jesus aan ons geskenk. (II Tim 1:9)
Hierdie genade is aan ons geopenbaar
Deur die koms van ons ons Middelaar:
Hy het die mag van die dood gebreek
Nou kan ons die onverganklike lewe preek! (II Tim 1:10-11)
So in lyding vir Hom bly ek getrou,
want ek wéét op wie Ek vertrou:
Hy is magtig om dit wat Hy aan my toevrertrou
tot Hy weer kom, in stand te hou! (II Tim 1:12)
Al het jy nie die voorbeeld van jou pa,
Volg dan mý voorbeeld na
in wat gesonde woordverkondiging is,
met geloof en liefde in Christus Jesus. (II Tim 1:13)
So, jy moet die genadegawe onthou,
dis goed en aan jou toevertrou.
Bewaar dit deur die Heilige Gees
dat ‘n brandende vuur kan bly wees. (II Tim 1:14)