Aan die Vader van ons Here Jesus Christus,
kom al die lof toe, ja gewis!
Hy, die Vader, bring ontferming mee:
Dis Hy wat in elke omstandigheid moed gee.
Dieselfde bemoediging wat ons ontvang
is wat julle weer van ons verlang.
Net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding in Christus is,
is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus.
Word ons dus in beproewing gestort
is dit dat julle bemoedig en gered kan word.
As ons bemoedig word deur God se werk,
is dit om julle te bemoedig en te versterk,
sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur
wat ons ook deurgaan in hierdie harde uur.
Ons weet dat, net soos julle saam met ons deel het aan die lyding,
julle ook deel aan die bemoediging vir die bevryding.
Die swaar wat ons in Asië moes verduur,
was ver bo ons kragte in daardie uur:
Ons het selfs ons hoop om te lewe laat vaar…
Dit het vir ons gevoel asof ons die doodvonnis ervaar!
Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself moes vertrou,
maar God, wat die dooies opwek tot die lewe, moes onthou.
Hy het ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered
en Hy sal weer – dis die vastigheid wat ons het!
Ons vertrou God se redding sal vir ons kom
omdat julle daarin saamwerk in gebede tot Hom!
So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring,
en dan sal baie Hom vir ons dank en lofliedere sing!