Ballonne

In my godsiens spel se statistiek
was al die boksies getick:
Al die toeskouers kon sien
dat ek plek in God se span verdien…

Soos partytjie ballonne teen ‘n plafon.
Rooi, blou, groen en geel soos die son.
En met goeie rede
was ek heel tevrede…

My kind, probeer jy My kul?
Jy is bloot met helium gevul.
Het iemand al vir jou gesê
dit gaan na agt ure op die grond bly lê?

Die ballonne het nie meer bekoor:
Die partytjie was oor.
Soos die lug stadig uitlek
fluister dit: Leeg soos ek…

My kind daar op die grond,
kyk bietjie om jou rond.
En sien hoe dit regtig lyk –
Dis waar ek jou wil gebruik!

Weet jy dié gesin het alles verloor?
Hulle begin weer heeltemal voor.
Sien jy daardie seun?
Weet jy hy is selfmoord alleen?

Kyk hoe word die vrou verteer
deur die siekte se seer.
Sien jy die Parkinsons se leed
en Alzheimers se vergeet?

Húlle is sopas geskei
en wil bekendes vermy.
En daardie gesin se kinders is van stryk –
Dis hoekom pa en ma soos pap balonne lyk.

Hý lyk so moedeloos en goor,
want hy het sy werk verloor.
Ander is onder druk en verward,
want die korporatiewe wêreld is hard.

Almal met ‘n voorgee van dapper
terwyl hulle in die lewenswinde wapper.
Maar almal is broos
en op soek na troos.

Saam met hulle moet jy weer leer
wie is die getroue en almagtige Heer.
Julle moet biddend voor My buig
en van julle onvermoë getuig.

Juis wanneer julle nie meer kan,
Ja, juis dan,
is julle reg
om te sien: Ek is die weg.

Julle hoef niks verder te doen:
Jesus aan die kruis, met pyn gevul,
het julle reeds met My versoen.
Ek wil julle nou met My liefde omhul.

So word julle ballonne gevul met die Gees
om My getuies in die wêreld te wees
tot Ek eendag julle toutjies afsny
dat julle opstyg na die partytjie by My.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading