Waar bly julle nou weer?
Dié vragie maak nie seer,
want sy onthou nie altyd meer.
Tannie het die kinders opgepas:
Liefde, kos en doeke nooit ‘n las.
Tye wat ons goed onthou
van hierdie besondere vrou.
Waar bly julle nou weer?
Sy kan die vragie nie keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Tannie se tuin lyk so mooi:
Malvas in al die kleure getooi.
Ja, Malva is my tweede naam
wat stigges aan die groei laat gaan.
Maar waar bly julle nou weer?
En graag vertel ons nog ‘n keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Drink gerus nog ‘n koppie tee
en sny ‘n lekker stuk koek daarmee.
En so kan ons weer onthou
hoe gasvry is hierdie vrou.
Maar waar bly julle nou weer?
En ons sukkel om ons trane te keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Weet julle met my gaan dit net goed:
Gesondheid, verstand en lewensmoed
Dis ‘n seëning van Bo
van Hom in wie ek glo.
Waar bly julle nou weer?
Sy onthou nie altyd meer,
maar laat sy U nooit vergeet, o Heer.
‘n Dag of wat later
bly my oë nog water,
want deur die tannie vra die Heer:
My seun, waar bly jy nou weer?
Het jy onlangs iemand van My geleer?
Lyk my jy onthou nie meer
van my kruis se seer?
Sý is die een wat my eer,
as jy my maar so wou begeer!
Vergewe my Alzheimers Heer…