Alles of niks

Die hemel en ALLES daarin is voltooi
ook die aarde en ALLES daarop. (Gen 2:1)
God het na ALLES gekyk – dit was goed en mooi.
Dit was aand en more, die son kom op. (Gen 1:31)

Van ALLES in die tuin mag jy eet,
maar van ALLES mag jy nie weet…
Die slang het hom aan NIKS gesteur
en Adam en Eva ALLES laat begeer. (Gen 3:5)

Ek het ALLES van die aarde afgevee,
maar tog het Ek aan Noag genade gegee… (Gen 6:7-8)
Die volk het My nie met ALLES vertrou
en moes dit vir veertig jaar langer berou. (Num 14:20-23)

“Het jy My kneg Job gesien?”
“Dit bewys NIKS,” sê Satan vir die Heer,
” ‘n Man sal ALLES gee wat hy begeer
as hy daardeur die lewe kan verdien.” (Job 2:4)

In die woestyn was God by julle met elke tree,
God het julle in ALLES voorspoed gegee.
Vir veertig jaar het julle NIKS kortgekom:
Sy wonderdade het julle telkens verstom. (Deut 2:7)

Salomo het groot wysheid gekry:
NIKS waarvoor hy nie oplossings kon kry. (I Kon 10:3)
Tog is hy die prediker wat leer:
ALLES kom tot NIKS sonder die Heer. (Pred 1:2 en vele ander)

Hiskia het ALLES in sy skatkamer gewys
NIKS in sy paleis het hy hulle nie laat sien.
Daar kom ‘n tyd dat Babel ALLES sal beleer:
Van al die skatte sal NIKS oorbly, sê die Heer. (II Kon 20:13-17)

Die stad is Jerusalem is in beleg
Vals profete sê: ALLES is reg, ALLES is reg! (Jer 16:14)
ALLES wat julle doen kan Ek sien
NIKS is verborge – julle het die straf verdien! (Jer 16:17)

Ek wil NIKS te maak hê met julle beelde
Ek gaan julle straf oor die weelde.
Ek sal jou weer met My sorg verstom:
ALLES wat jy het sal van My af kom. (Hos 14:9)

Ek weet ALLES wat jy maak
dat by jou NIKS koud of warm raak.
Lou is vir My nie goed genoeg:
Ek gaan jou uit my mond uitspoeg! (Op 3:15)

NIKS in die skepping is vir God onsigbaar
ALLES lê oop en bloot voor Hom daar. (Heb 4:13)
Jy moet God liefhê met ALLES wat jy het,
NIKS anders vervul die hele wet. (Mat 22:37, Luk 10:27)

Waarvoor jaag en werk jy so fluks?
Is dit vir ALLES maar dalk tog NIKS?
Maar al het jy nou NIKS as mens,
besit jy ALLES soos God dit wens. (II Kor 6:10)

Jy moet oor NIKS besorg wees,
maar jou in gebed na God toe wend.
Maak in ALLES jou smeking aan Hom bekend
dan vul God se vrede jou deur Sy Gees. (Fil 4:6)

As selfsug jou na ALLES laat swoeg,
kry jy NIKS en word net moeg…
As jy erken jy kan NIKS self doen,
kry jy ALLES en word met God versoen!


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply