Die Israeliete was aan God se opdrag ontrou
Akan, seun van Serag, uit die Judastam,
het die Here se gewyde goed vir hom gehou.
Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam. (Jos 7:1)
Josua stuur toe manne om Ai te verken
Net so drieduisend manne hoef te gaan:
Ai het min mense – ons kan maklik wen!
Hulle het opgetrek maar moes op die vlug slaan… (Jos 7:3-4)
Die vlugtende volk se moed is gebreek.
Here ek lê in die grond met my gesig:
Ons moes nooit die Jordaan oortseek –
ons moes nou vir ons vyande vlug! (Jos 7:5-8)
Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?
My gewyde goed het julle weggesteek.
Julle slaan nie ag op My verbond
daarom moet Ek my op julle wreek. (Jos 7:10-11)
Kom by My verby in stamverband,
dan wys ek self die skuldige aan.
Hom en sy familie moet julle verbrand:
Hulle het ‘n roekelose sonde begaan. (Jos 7:14-15)
Akan, bely jou sonde voor die Heer.
Ek het die buit in my tent begraaf,
ek het die goed gesien en begeer:
Mooi klere, silwer en ‘n goue staaf. (Jos 7:19-21)
Wat jy gedoen het was ‘n vreeslike ding
Jou straf: Jy word met klippe dood gegooi,
want jy het die dood oor óns gebring!
Ook jou familie en diere – tot die laaste ooi! (Jos 7:23-25)
Akorlaagte – die klippe is nou nog daar… (Jos 7:26)
Begin nou weer die aanval van voor,
want my heilige toorn het nou bedaar.
Hierdie keer gee Ek Ai in jou hand oor! (Jos 8:1)
Is jy ook aan God se opdrag ontrou,
liewe gelowige, uit die Judastam?
God se gawes het jy net vir jou gehou?
Die toorn van die Here sal ontvlam…
Maar vir dié, uit My volk, wat vra na My wil,
sal Akor ‘n lêplek vir beeste raak (Jes 65:9-10).
Op Golgate het Ek die profesie vervul
en Akor ‘n poort na ‘n nuwe toekoms gemaak. (Hos 2:13-14).