Skuldig!

God openbaar Sy toorn uit die hemel
oor al die goddeloosheid wat wemel.
Wat die mens moet weet van die Koninkryk,
was nog altyd binne hulle bereik. (Rom 1:18-19)

Daar is geen verontskuldiging vir gedrag,
want die skepping wys Sy ewigdurende krag.
In die onverganklike God se plek
stel hulle beelde en ander drek. (Rom 1:19-23)

God gee hulle oor aan drange van die hart:
Hul liggame met onsedelikheid onteer,
hulle harte is vir die waarheid verhard
wat in plaas van die Skepper, skepsels eer. (Rom 1:24-25)

Vroue het natuurlike omgang laat vaar,
mans brand met begeerte vir mekaar.
Hulle het geen belang om God te ken:
Verdraaide opvattings is wat hul wen (Rom 1:26-28)

Hulle is een en al ongeregtigheid,
hebsug gemeen en vol slegtigheid,
moord, bedrog en kwaadwilligheid,
aanmatig, verwaand en hooghartigheid. (Rom 1:19-31)

Hulle het God se verordeninge gesien
en weet dat hul dade die dood verdien,
en tog doen hulle dit nie net self,
maar vind dit goed as ander daarin delf. (Rom 1:32)

Dis hoekom daar vir jou geen verontskuldiging is,
mens, wat ‘n ander veroordeel wie jy ookal is.
Jy sal nie die oordeel en straf ontkom,
want regverdige oordeel kom van Hom. (Rom 2:1-3)

God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!
Besef jy nie Hy wil jou tot bekering lei uit jou skuld?
Maar deur jou onbekeerlike hart
gaar jy straf op vir ewige smart… (Rom 2:4-5)

Die wat soek na ewige heerlikheid
God se eer en onverganklikheid,
ja, die wat na goeddoen strewe,
vir hulle gee Hy die ewige lewe. (Rom 2:6)

Maar wie leef in ongehoorsaamheid
en toegee aan ongeregtigheid,
ja, die wat na selfsug strewe:
Lyding en benoudheid bring Hy oor hul lewe. (Rom 2:7-9)

Almal wat onder Moses se wet staan
sal onder die wet verlore gaan.
Jy word nie deur die hoor van die wet bevry,
maar kan net deur die doen vryspraak kry. (Rom 2:12-13)

Heidene het tog nie Moses se wet?
Hulle gewetens wys dat hul dit het!
Christus kom oordeel die wat sondig
ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig. (Rom 2:14-16)

Jy, Jood, jy wat jou op die wet verlaat,
jy wat ander onderrig in God se daad:
As gevolg van jou optrede kry God nie eer,
want jy oortree al die wette wat jy leer (Rom 2:17-24)

Besnydenis het net waarde as jy die wet hou,
dis beter onbesede, maar aan God getrou.
Jy kan nie deur besnydenis deel van God se volk wees,
Nee, jy kort besnydenis van die hart, gedoen deur die Gees. (Rom 2:25-29)

God het sy woorde aan Jode toevertrou,
maar van hulle was egter nie getrou.
Die wêreld se slegte dade wys vir jou
dat God se trou nooit op kan hou! (Rom 3:1-8)

Regverdig? Daar is nie een!
Verstandig? Daar is nie een!
Vra na God se wil? Nie een!
Goed doen? Ook nie een! (Rom 3:9-12)

‘n Oop graf is hul keel,
bloed vergiet en steel.
Verwoesting en ellende in hul spoor,
hulle het alle ontsag vir God verloor. (Rom 3:13-17)

Niemand sal hom dus kan verweer:
Almal is strafwaardig voor die Heer!
Geen mens kan vryspraak verdien
as jy hul sonde teen die wet sien… (Rom 3:19-20)

Ook ek is skuldig Heer:
Nietig is wat ek probeer.
As ek my ellende verstaan,
bring U verlossing ‘n traan…