Jou tuin in die woestyn

Ek maak vir my dinge bymekaar,
en tog kry dit net nie klaar.
Ja, hoe meer ek vergaar,
hoe minder kry ek bedaar.

Nog ietsie vir as ek verjaar.
En wat van aftrede se jaar?
Daar is nie ‘n minuut te spaar –
Ek het ‘n doelwit vir die jaar!

As Ek hierbo uit die wolke kyk,
is dít hoe dit vir My nou lyk:
Die klein groen blokkie is jou welige tuin
en reg rondom jou sien ek net woestyn!

In jou tuin is die fontein se oog.
Reg rondom jou is alles droog.
In plaas van Lewende water deel,
is jy besig om van My te steel!

Alles wat jy het, het Ek gegee
en wat maak jy nou daarmee?
Die water moet van jou af vloei,
maar rondom jou? Hulle bloei!

Jy gee wel ‘n geldjie vir die kerk,
maar jou afgod is jou werk.
Dink jy dis jou offers wat Ek vra,
as jy nie eers na hul welstand vra?

Dink jy Ek soek geld? O nee,
jy moet jouself vir My gee.
Jou tyd moet jy in oorvloed skink,
dan kan hulle My boodskap drink.

Hoe lank gaan jy nog op jouself vertrou?
Besef jy nie jy kan dit nie hou?
In ‘n oogwink kan Ek alles vat
en jou ook tref met Job se lat!

Maak jou tuin se heining oop
en laat die water deur die sluise loop.
Hou op om My tyd te mors,
die rondom jou is vreeslik dors.

Die bietjie water wat jy gaan gee,
kyk vooruit wat maak die Gees daarmee:
Oor die woestyn sal jy jou verstom,
as dit soos Namakwaland begin blom.

En so begin die gejaag jou verveel,
want jy kry baie meer as jy deel.
Ek is die wortel van jou boord,
en oral bring dit druiwe voort!

As ek dan van hierbo af staar,
sien Ek baie tuine daar.
Almal se sluise is nou oop
en oral sien jy net water loop…

Verstaan jy hierdie droom?
Hoe lank gaan jy nog skroom?
Hoor hoe hyg hul bors –
hulle is regtig baie dors!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading