Die Christen se lyding
God het vooraf bepaal:
Jy is uitverkies en besonder
en deur die Gees afgesonder
dat Hy jou eendag kom haal. (I Pet 1:2-3)
Kry jy dan nou swaar,
weet dat Hy jou bewaar.
Hou vas in geloof aan die hoop
dat alles na die ewige erfenis toe loop! (I Pet 1:3-5)
Al maak beproewings jou innerlik leeg,
moet jy jou hieroor verheug…
Vuur toets suiwerheid van goud –
dit versterk geloof vir jou behoud. (I Pet 1:6-7)
Julle het God lief al het jul Hom nie gesien.
Sy doel is saligheid al het jul dit nie verdien!
Deur te glo deel jul nou reeds in Hom:
Dis waar julle blydskap vanaf kom. (I Pet 1:8-9)
Dis genade om onverdiend te ly,
ja, ‘n voorreg om só vir Hom te stry. (I Pet 2:19-20, I Pet 3:14,17)
In lyding moet jy jou lewe aan God toevertrou,
bly goed doen want Hy alleen is getrou! ( I Pet 4:19)
Liggaamlike swaarkry het jou geleer
om nie meer menslike danke te begeer.
Jy word nou deur die Gees beheer
en fokus op die wil van jou Heer! (I Pet 4:1-2, Gal 5:16).
Al verstaan jy nie altyd met jou verstand,
onderwerp jou aan God se kragtige hand.
Ja, werp al jou bekommernisse op Hom,
want Hy sal jou verhoog as Hy weer kom! (I Pet 5:6-10).
Christus se lyding
Die profete het verkondig dat jul genade sou kry
en deur die Gees geprofeteer dat Christus sou ly. (I Pet 1:10-11)
Christus se lyding gee jou die hoop
om lydend in Sy voetspore te loop.
In Sy lyding het Hy nie gedreig,
maar dit aan God oorgelaat en geswyg. (I Pet 2:21-23)
Christus het een maal vir die sonde gely
dat skuldiges vryspraak kon kry.
Deur mense is hy dood gemaak,
maar deur die Gees weer ontwaak. (I Pet 3:18)
Het jy nou liggaamlik gely?
Dan het jy ‘n nuwe wapen gekry:
Nou word jy nie meer beheer
deur wat menslikheid begeer.
Jy word beheer deur die wil van God
en jou lewe word gevul deur sy gebod. (I Pet 4:1-2)
Wees dus bly as jy in Christus se lyding deel,
want wederkoms vreugde maak jou heel (I Pet 4:13)
Wees heilig, want Ek is heilig
Vestig julle hoop op die genade van Hom
dat julle sal deel wanneer Hy weer kom.
Moenie julle lewe inrig op wat jul begeer,
maar wees heilig, want Ek is heilig sê jul Heer. (I Pet 1:13-16, Lev 19:2).
Julle moet as vreemdelinge in die wêreld staan,
want julle is losgekoop van julle sinlose bestaan.
Die vlekkelose Lam is vir jou sonde gelem –
dis reeds voor die skepping so bestem. (I Pet 1:17-20).
Deur Hom glo julle in God en verstaan:
God het Hom uit die dood op laat staan.
God het Hom in heerlikheid opgerig
daarom is julle geloof op God gerig. (I Pet 1:21).
Julle is nou deur die waarheid rein,
dra in liefde mekaar, as broers, se pyn.
Julle is weergebore, nie uit verganklike saad,
maar uit die lewende, ewige Woord se daad (I Pet 1:22-25).
Hou dan op met elke vorm van kwaad
met alle bedrog en om kwaad te praat.
Smag om suiwer geestelike melk in te kry
om so te groei om die saligheid te verkry. (I Pet 2:1-2).
Kom na Hom toe, die lewende steen –
God het aan Hom dié ereplek verleen.
Laat Hy met julle, as stene, Sy huis bou,
waar julle julself offer soos Hy daarvan hou. (I Pet 2:3-5).
Jesus is as hoeksteen verkies deur die Heer.
Julle wat glo, deel in hierdie besondere eer.
Vir die wat nie glo nie wag daar ‘n ramp:
Dit word ‘n rots waarteen jy jou stamp. (I Pet 2:6-8).
Julle as volk is vir My besonder:
‘n Nasie vir God afgesonder,
wat Sy verlossingsdade moet verkondig
aan die wat nog in duisternis sondig. (I Pet 2:9-10).
Onderwerp jou, soos die Here wens,
aan die owerheid van die mens.
Gebruik jou vryheid om God te dien,
sodat mense jou vrees vir God kan sien. (I Pet 2:13-17).
Wat hierdie gedeelte jou wil leer:
“Wees heilig, want Ek is heilig” sê jul Heer.
Moenie jou lewe inrig op wat jý begeer,
dan sal ander, deur jou, van My kan leer.
Die huwelik
Vrouens, vir julle mans wat nog nie glo,
hanteer die moeilike situasie so:
Jou onderdanigheid wys dat jy My ken
en so kan jy hom vir Christus wen. (I Pet 3:1-2).
Skoonheid kom nie van die uiterlike soos klere,
nee, innerlike skoonheid het waarde vir die Here. (I Pet 3:3-4).
Man, wees verstandig en eer jou vrou
anders kan dit jou gebed van God weghou. (I Pet 3:7).
Gister, vandag en môre
GISTER
Losbandigheid,
dronk jolyt,
swelg- en drinkparty
en afskuwelike afgodery. (I Pet 4:2)
VANDAG
Selfbeheer
en nugter weer.
Liefde vir mekaar
met gasvryheid daar. (I Pet 4:7-9)
Jy moet jou gawes sien
as iets om mee te dien.
Ja, jy moet ander leer:
Doen alles tot God se eer
Hy verleen hierin vir jou die krag.
Aan Hom behoort die heerlikheid en mag! (I Pet 4:11).
MôRE
Van honger bevry.
Dors sal niemand kry.
Son sal nie meer brand.
God is byderhand:
Hy sal trane afvee
en lewenswater weggee. (Op 7:14-17).
Geloofsgroei (II Petrus 1:1-11).
Sy krag het ons alles gegee om te wen.
Dié gawes kom deurdat ons Hom ken.
Daardeur kan ons die verderf ontvlug
en kry ons die Goddelike natuur terug. (II Pet 1:3,4)
Daarom, werp alles in die stryd
om jou geloof te verryk met deugsaamheid.
Ook met kennis en selfbeheersing,
dan selfbeheersing met volharding
en volharding met godsvrug.
daarna bring dit dan liefde terug. (II Pet 1:5-7)
As julle dit alles besit en dit word meer,
sal julle met ywer en vrug van Jesus leer.
Iemand wat dit nie sy eie maak is kort van sig:
Hy vergeet dat hy van sonde gereinig is… (II Pet 1:8-9)
Probeer daarom met jou lewe bewys:
God het jou verkies en geroep na Sy huis
waar jy feestelike toegang sal kry
en in Christus se koninkryk sal bly. (II Pet 1:10-11)
Vreemdeling vreugde (I Pet 1:1-12)
Petrus wil ons van swaarkry leer
en ook heiligheid tot God se eer.
Vir God se kind
is dié twee so verbind:
Die heilige sal baie swaarkry beleef
maar swaarkry laat jou ook heiliger leef…
Dit bring vreugde om in Christus se swaarkry te deel,
want as Hy in heerlikheid verskyn, maak Hy alles heel.
Maar vir Petrus om ons daarvan te leer
wys hy eers die krag van die soewereine Heer.
Hy laat ons ‘n toekoms sien
van genade onverdien:
Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus.
aan uitverkore vreemdelinge wat reg oor die wêreld is. (I Pet 1:1)
Soos God die Vader dit vooraf bestem het (wat ‘n wonder!)
het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder
om aan Hom gehoorsaam te wees (met alles wat jy is!)
en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. (I Pet 1:2a)
Vir julle is my opregte bede:
‘n Oorvloed van genade en vrede! (I Pet 1:2b)
Aan God, die Vader van ons Heer.
Jesus Christus, kom toe al die eer!
In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe gegee
deur die opstanding van Jesus Christus bring hy dit mee. ( I Pet 1:3)
Hierin is ons lewende hoop nou:
‘n Onverwelklike erfenis
wat onverganklik en onbesmet is.
Dít word in die hemel vir julle in bewaring gehou (I Pet 1:4)
En omdat julle glo, weet julle ook nou:
Aan die einde van die tyd word geopenbaar
die saligheid wat vir julle wag daar.
Tot dan word julle deur die krag van God in bewaring gehou (I Pet 1:5)
Hieroor moet julle, julle verheug en God loof
selfs as allerhande beproewings julle raak
en julle word vir ‘n kort tydjie daardeur bedroef gemaak.
So toets Hy die egtheid van julle geloof.
Sodat dit waardig sal wees die lof heerlikheid en eer
by die wederkoms van Jesus Christus, ons Heer. (I Pet 1:6-7)
Julle het God lief al het jul Hom nie gesien.
Sy doel is saligheid al het jul dit nie verdien!
Deur te glo deel jul nou reeds in Hom:
Dis waar julle blydskap vanaf kom. (I Pet 1:8-9)
Die profete het verkondig dat jul genade sou kry
en deur die Gees geprofeteer dat Christus sou ly.
Hulle het probeer naspeur wanneer is daardie uur
dis nou bekend gemaak deur die Gees uit die hemel gestuur. (I Pet 1:10-12)
Weet in al jou swaarkry en pyn,
God is en bly soewerein.
Dit sal lei tot ‘n meer heilige lewe
een waarin jy alle eer aan God gewe.
Pasop vir dwaalleer – Hy kom weer! (II Pet 2 en 3)
Pasop vir die vals profeet,
wat maak asof hulle alles weet.
Hulle bring verderflike dwaalleer
en so verloën hulle die Heer (II Pet 2:1)
Die Here weet om dié wat Hom dien
Met hul beproewings deur te sien,
maar die oordeelsdag se kaf
is die goddeloses se straf. (II Pet 2:9)
Hulle verlustig hulle om partytjie te hou.
Hulle praat lasterlik en is ontrou.
As jy saam met hulle begin eet,
gaan hulle jou verlei, moet jy weet! (II pet 2:12-14,18,19)
In die laaste dae sal mense verskyn
en hulle sal spottend sê van Hom:
Hy sal nie weer hierheen kom,
ons voorgeslagte het dan al verdwyn… (II Pet 3:4)
God het deur Sy woord die water laat ontstaan
en deur water het hy dit ook laat vergaan.
Maar die hemel en aarde is bestem vir vuur,
vir die goddelose in die oordeelsuur. (II Pet 3:5-7)
Een dag is vir My soos duisend jaar,
en duisend is weer vir My vinnig klaar.
Ek stel nie My belofte uit,
ek gee joú geduldig nog bietjie tyd! (II Pet 3:8-9)
Die Here sal kom soos ‘n dief in die nag:
Leef asof jy Hom enige oomblik verwag. (II Pet 3:11-13)
Beskou die geduld wat die Here met jou het,
as sy geleentheid om ook jou te red! (II Pet 3:15)
Stry vir die geloof (Judas).
Van Judas, Jesus se dienaar.
Aan julle wat Hy lief het en bewaar:
Mag Hy vir julle vrede gee
en liefde in oorvloed daarmee. (Jud :1,2)
Ek wou vir julle oor verlossing skryf,
maar ek voel my nou gedryf
om julle met die brief aan te spoor.
“Stry vir die geloof”, moet jul hoor!
Dié boodskap is so besonder,
want God het julle vir Hom afgesonder. (Jud :3)
Mense het ongemerk julle binnegedring.
Pasop vir wat hulle vir julle bring…
Hulle misbruik die genade van God
om losbandig te lewe vir genot. (Jud :4)
Die volk is uit Egipte verlos deur Hom,
tog, dié wat nie geglo het nie, het omgekom… (Jud :5)
Toe engele optree buite hul mag,
is hulle in kettings gebind vir die oordeelsdag. (Jud :6)
Hierdie mense onder julle gaan straf verdien:
Onder die dekmantel van gesigte wat hulle sien,
het hulle, hulle eie liggame onteer
en verwerp so die gesag van die Heer. (Jud :8)
Hulle het net kennis van hul natuurlike drang
en juis dít is hulle ondergang! (Jud :10)
Soos Kain, Bileam en Korag,
verskriklik hul lot op dié dag. (Jud :11)
Hulle besoedel julle liefdesmaaltyd
met hulle skaamtelose uitspattigheid. (Jud :12)
Hulle is wolke met geen reën in die lug.
Hulle is bome ontwortel sonder vrug.
Hulle is woeste golwe van die see.
Hulle is sterre uit hul baan getree. (Jud :12,13)
God hou vir hulle plek gereed
in die duister dieptes, moet jy weet! (Jud :13)
Hulle is altyd ontevrede met hul lot.
Hulle lewe volgens begeertes en genot.
Vleiend sal hul van jou praat,
solank hulself net daaruit baat. (Jud :16)
Geliefdes, onthou Jesus Christus weer,
want die apostels het julle geleer: (Jud :17)
In die laaste dae kom hulle weer
ja, mense wat net doen wat hul begeer. (Jud :18)
Julle moet liewer julle geloof bly bou
en aan God se liefde vas bly hou.
Bid vir die krag wat die Gees:
Die ewige lewe moet jou verwagting wees! (Jud :20)
Ontferm jou oor die wat twyfel hier.
Red ander deur hul te ruk uit die vuur! (Jud :22,23)
Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar
en julle eendag onbevlek na sy heerlikheid kan laat staar,
aan die enigste God, ons Verlosser en Heer,
aan Hom behoort die heerlikheid en eer!
Ja ook alle krag en mag en majesteit,
van nou en tot in alle ewigheid!
Amen. (Jud :24,25)
