Hoor Ethan se koor

(Psalm 147 is losweg gebruik met woorde uit die 1983 en 2020 vertalings)

Pappa en mamma ek wil dat julle hoor,
die halleluja lied van ons kinderkoor.
Ons sing tot lof van ons Heer,
dit is ‘n genot om Hom te vereer. (Ps 147:1)

Julle moet asseblief op die Here bly vertrou:
Dit is Hy wat julle weer op sal bou.
Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind julle wonde van smart. (Ps 147:2-3)

Op aarde kon ek nie skool toe gaan,
maar hier is nie perke in verstaan.
Oom Abraham het ons van sterre geleer
ek kan nou al almal se name reseteer! (Ps 147:4)

Die Here het nasies in hom geseën,
daarom leer ek nou op sy been! (Gen 12:1-3)
God laat die hulpeloses weer opstaan, (Ps 147:6)
dis so bevrydend na my aardse bestaan!

Ons Here is groot en geweldig sterk
sy kennis en insig is onbeperk!
Oom Dawid begelei ons met die lier.
Tot eer van God sing ons lofliedere hier: (Ps 147:5,7)

Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir alle volke
en laat gras op die bergland uitspruit.
Hy gee aan die diere hulle weiding daaruit. (Ps 147:8-9)

Op aarde was my krag nie vreeslik baie werd,
maar die Here het niks aan die krag van ‘n perd
of die liggaamskrag van ‘n soldaat,
maar vind vreugde in dié wat hul op Hom verlaat. (Ps 147:10-11)

Juis dié grootste skat wat bestaan, het ek by julle gekry,
selfs meer as al die hospitaal toe se geryery!
Deur julle het Ek God se troue liefde leer ken, (Ps 147:11)
saam met julle onder die vlerke van die Hen. (Mat 23:37)

Gister het ek huppelend gaan speel,
en wat gebeur het, moet ek deel:

‘n Luiperd het by ‘n boklam gelê,
‘n Wolf rustig by ‘n lammetjie wat mê.
‘n Jong leeu was ook daar
met vetgemaakte vee bymekaar.

Ek kon hulle daar rond lei
nie een was eers bang vir my. (Jes 11:6-7)

Oupa en Moses sing toe ‘n duet van lof:
“U laat sterflinge terugkeer tot stof.
Duisend jaar is soos ‘n dag,
soos ‘n wagbeurt in die nag.” (Ps 90:3-4)

Die agt jaar van vreugde en swaar
teen ewigheid, so weglaatbaar…
Julle koms is ook al in sig,
dan leef ons saam in Sy Lig.

Hy het Sy Woord vir julle gegee:
Begin elke nuwe dag daarmee,
sodat die Gees julle daartoe kan lei
om ietsie van wat ek beleef te kry.

As julle dan aan God die hulde bring,
weet dat ons kinderkoor saam met julle sing! (Ps 147:19-20)

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading