Waar kom jou krag vandaan?

Drie honderd jakkalse aan hul sterte gebind,
het die Filistyne se koring en boorde verslind. (Rig 15:1-8)
Ons sal moet verstaan
waar kom sy krag vandaan…

Met die kakebeen van ‘n donkie in sy hande
maak hy ‘n hoop van duisend lyke van vyande. (Rig 15:14-17)
Ons moet dringend verstaan
waar kom sy krag vandaan…

Hy het die stadspoort, kosyne en al uitgeruk
en oor die berg gedra. Die vyand was verskrik. (Rig 16:1-3)
Niemand kon verstaan
waar kom sy krag vandaan.

Simson het op Delila verlief geraak,
maar met omkoopgeld is sy getaak
om uit te vind waar lê Simson se groot krag,
om hom so uit te lewer in die Filistyne se mag. (Rig 16:4-5)

“Simson ek wil verstaan:
Waar kom jou krag vandaan?”
Dit was nie in boogsnare,
toue was swakker as gare,
materiaal en pen kon hom nie hou…

“Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou?” (Rig 16:4-16)
“Dis van my hare waarvan ek my krag kry.”
En so het hulle sy sewe haarlokke afgesny.
Die Here het hom verlaat – sy krag het verdwyn.
In kettings geboei het die leë oogholtes gepyn… (Rig 16:17-21)

Terwyl hulle juigend vir Dagon fees vier
roep hulle: Bring vir Simson gou hier.
Duidelik het hulle nog nie verstaan
waar kom Simson se krag vandaan… (Rig 16:22-26)

“Here my God, dink tog weer aan my,
laat ek nog een keer weer krag kan kry.”
Hy het die tempel op die Filistyne laat val
en so sterf die vyand duisende in getal. (Rig 16:27-31)

Die Hebreërs boek het Simson geloof
as ‘n held wat glo in wat God beloof.
Juis toe hy swak was in eie krag,
wys God deur Hom Sy groot mag. (Heb 11:32-34)

Jou krag is nie in snare,
selfs ook nie in lang hare.
Jy kry krag deur te glo
in jou Verlosser daarbo!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading