Uit Hom en deur Hom en tot Hom

Het God dan sy volk, Israel, verstoot?
Nee, kyk na my – ek was ook ‘n Jood.
Toe Elia kla, het hy ook die antwoord gekry:
“Ek het sewe duisend manne oor laat bly.”
Ook vandag is daar ‘n oorblyfsel uitverkore:
‘n Groepie Jode gaan uit genade nie verlore. (Rom 11:1-6)

Israel het gesoek, maar nie verkry:
Hulle oë is verduister,
hulle ore wou nie luister.
Die uitverkorenes is wel bevry. (Rom 11:7-10)

Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?
Nee, maar dit het redding onder heidene ontketen:
Die wêreld het deur hulle verwerping versoening gekry.
As gevolg van die wortel is die Joodse takke aan God gewy. (Rom 11:11-16)

Party van die takke is uitgekap
en jy ingeënt en kry wortelsap.
Moet jou nie hooghartig hou,
jy verdien dit nie: Die wortel dra jou! (Rom 11:17-18)

Takke is uitgekap weens ‘n gebrek aan geloof,
jy is ingeënt omdat jy glo wat God beloof.
Hy het die natuurlike takke nie ontsien,
as jy hoogmoedig raak sal jy ook straf verdien… (Rom 11:19-21)

So maak God sy goedheid en strengheid bekend:
Die wat hulle bekeer word weer terug geënt,
maar die wat nie afhanklik lewe van die wortel se sap
en in ongeloof volhard, word van die boom uitgekap. (Rom 11:12-24)

Dis ‘n geheimenis waarvoor ons staan,
maar God se verbond bly bestaan.
As God sy genadegawes in jou bevrug
trek Hy dit nooit weer terug. (Rom 11:25-29)

O die diepte van God se rykdom,
Sy wysheid en kennis bly verstom!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
ons ken sy bedoeling net ten dele. (Rom 11:33)

Hoe onnaspeurlik sy weg.
Wie wys Hom tereg?
Wie kan deur dade Hom verplig,
verwag jy iets van Hom terug? (Rom 11:33-35)

Uit Hom en deur Hom en tot Hom
moet alle lof en heerlikheid kom! (Rom 11:36)

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading