Soveel te meer

Here, ek weet
ek het U vergeet.
U is seker vir my kwaad,
maar ek moet met U praat:

Na my skof by die hospitaal
het ek in die natuur kom asem haal.
Die wintergras spreek in droeë taal
van my eens suksesvolle verhaal.

Ek was nog altyd die beste dokter gewees –
En kon mense van allerlei siektes genees.
Maar na hierdie derde golf kan ek nie meer –
Ek verloor pasiënte keer op keer.

Vandag was daar twee besig om te versmoor,
maar daar was net een ventilator oor.
Ek gee dit toe maar vir die man in bed ses,
hy is jonger en sy besigheid ‘n sukses.

Die ou man is na die ander kamer oorgeplaas
waar hy onvermydelik sy laaste asem uit sal blaas…
Die foon doodgedruk toe sy familie bel,
ek moet aangaan – die oordeel is gevel.

Die baba voëltjie se bekkie wawyd oop
die ma kom ‘n waterduppeltjie daarin doop.
Heen en weer vlieg sy getrou
terwyl hy sy bekkie oophou.

Na elke pasiënt het sy weer by die ou oom ingegaan.
Ons kan niks vir hom doen nie – kan sy nie verstaan?
Uit nuuskierigheid het ek later ongemerk gaan kyk.
Ek sien toe hoe sy, sy droeë lippe met ‘n nat lappie bestryk.

Here hier voor U is ek stukkend
trane rol, my bors rukkend.
Ek het al baie mense gesond gemaak,
maar nog nooit iemand so teer aangeraak…

Here, is U regtig in beheer?
Ek wil my bekeer,
sal U my leer
hoe ek U kan eer?

Jy vra: Is ek in beheer?
Soveel te meer!

Ek het die man na die ventilator gestuur –
dit was nog nie sy uur
Ek het geweet
hy is nog nie gereed…

Jy vra: Is Ek in beheer?
Soveel te meer!

Die ou man, ‘n man van vrede,
“Ek het dors”, sy laaste bede.
Ek het haar vir hom gestuur
en jou geroep in dieselfde uur!

Sy swaakry tyd was weglaatbaar min –
hy is in My ewige vreugde in.
Hy het altyd eers my koninkryk gesoek,
sy lewe gerig deur My Boek:

Oor die voëls is My sorg getrou,
soveel te meer vir jou! (Mat 6:26)
As ek die veldlelies so mooi beklee,
sal Ek soveel te meer vir jou omgee! (Mat 6:28)

As Ek sorg vir die gras van die veld,
soveel te meer as jou baie geld! (Mat 6:30)
Soek van nou af My koninkryk
dan sal al jou sorge wyk… (Mat 6:33)

In die dammetjie sien ek die lelie se wit,
en vir die eerste keer kon ek opreg bid.
Die grasse begin wuifend juig
terwyl die voëltjie sy lof betuig:

Soveel te meer
God in beheer!
Soveel te meer:
Aan Hom die eer!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading