Onse Vader

Dankie dat ek tot U mag nader
in innige gebed as “onse Vader”.
Dis in U wat ek vashou en glo:
U, die verhewe God daarbo… (Mat 6:9)

Gee dat ons U reg mag ken en dien
en die heiligheid van U Naam sal sien.
Dis eers as ons U heiligheid verstaan,
wat ons nederig op ons knieë kan gaan. (Mat 6:9)

Laat elke mond verstom
as U, U koninkryk laat kom.
Bewaar en vermeerder U kerk:
Vernietig tog die Satan se werk! (Mat 6:10)

By Getsemané het Jesus U wil laat geskied
en so aan die kruis Sy bloed vir my vergiet! (Luk 22:42)
Wat ek vir myself probeer doen is verniet,
laat U wil daagliks in my lewe geskied! (Mat 6:10)

Dankie dat ek vir my daaglikse behoeftes mag vra. (Mat 6:11)
Vergewe my as ek net daaroor bekommer en kla. (Mat 6:25-26)
Laat ek my liewer versadig uit U Woord (Deut 8:3)
en my dors les uit die Gees se boord! (Joh 14:13)

Die Satan lees my swakheid soos ‘n boek (Mat 6:13)
en weet presies waar om my te versoek… (Jak 1:13-14)
Ek bid dat U my daarteen sal bewaar
want sonder U oortree ek al klaar! (Mat 26:41)

U het my sonde vergewe en my met God versoen
daarom wil ek uit dankbaarheid dit aan ander doen. (Mat 6:11)
As ek voel dat ek alleen in swakheid swoeg,
bevestig U: My genade is vir jou genoeg! (II Kor 12:9)

Want aan U behoort die koninkryk en krag
tot in ewigheid, maar ook hier vandag! (Mat 6:13, 1953)
Hierdie gebed verlig nou die druk en las,
want “amen” beteken: Dit is waar en vas!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading