‘n Psalm van Dawid, gesing deur Cecile

Paul, ek onthou nog jy het mechano’s gebou.
My dogters, julle het as skoenlappers ontvou.
My man, jy kon Clover se melk balansseer,
maar bowenal leef julle tot God se eer…

Dis natuurlik om nou oor my te rou,
maar psalm drie en twintig het ontvou.
As nuwe hemelse aankomeling
wil ek dit nou vir julle sing:

Ek het nie bang deur donker dieptes gegaan,
want ek het die krag van die psalm verstaan:
Die oomblikke in die hospitaal was heilig,
want in Sy hande was ek heeltyd veilig… (Ps 23:4)

Maar nou is ek by my Herder –
ek kort regtig niks verder! (Ps 23:1)
Hier waar regtig sagte groen weivelde is
en die waterstrome – onbeskryflike rus! (Ps 23:2)

Hier kan ek nog meer uitbundig lag,
want Sy teenwoordigheid, o die krag!
Hier kom al die paaie saam
en ons eer sy heilge Naam! (Ps 23:3)

Ek voel so lig in my klere van wit
as ek hier by die feesmaal aansit.
Soos ‘n eregas het Hy my ontvang
oorlaai met hartlikheid en sang. (Ps 23:5)

Die dood is vir my ‘n reuse wins
want hier kry ek goedheid en guns
tot in lengte van dae is ek tuis
hier in die Here se huis. (Ps 23:6)

So as julle verlang en aan my dink,
moet julle hierdie psalm indrink,
want langs die Herder se waterstrome,
ontmoet ons in die rus van julle drome.

One response to “‘n Psalm van Dawid, gesing deur Cecile”

  1. […] ‘n Psalm van Dawid, gesing deur Cecile […]

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading