Die Covid golwe

with No Comments

Soos die tweede Covid golf nou lig,
skryf ek aan jou hierdie gedig,
want ons altwee se emosies moet uit
voor die derde golf ons weer stuit…

Die groter gulpende golf het hierdie keer
ons boot se seile met die dood geskeur.
Avbob ‘n daaglikse gesig in die hosptiaal
om iemand se geliefde te kom haal.

Jy kon telkens vir my eerstehands getuig
hoe is gesondheidswerkers se maste gebuig.
Julle moes vandag nog iemand moed in praat,
want in die sinkende skip is môre te laat!

Penny se dood ruk ook hier binne my:
Jare in die kerk gesit – reg agter my.
Hy het my altyd ‘n klop op die skouer gegee
met ‘n “Seuntjie, hoe gaan dit?” daarmee…

Al het hy nie van Covid gesterf,
het Covid sy begrafnis bederf.
Die familie was buite die land se grense.
Dis nie dieselfde: Elektroniese laaste wense…

In die eerste golf het die Here ons geleer:
Hý is die een wat die hele wêreld beheer.
Hy het die woeste storm bestraf
en die Covid golf neem toe af.

Hierdie tweede golf het Hy ons laat onthou,
dat die lewe nie met die dood ophou,
want selfs deur die dal van dooskaduwee
seil die Herder saam in ons bootjie mee.

lees ek toe Johannes tien
en wat mens daar van die Goeie Herder sien:
Dis Hy wat sy lewe vir die skape aflê,
ons is syne, en Covid het nie daarin ‘n sê.

Hy is ook die pad na die Vader se deur,
Covid kan ons toegang nie keer.
Na groen weivelde is waarheen Hy ons lei
om daar lewe, ja in oorvloed, te kry!

Jy moet saam met my in die Woord weiveld wei,
dat ons lewensbootjie weer nuwe seile kan kry.
Sodat, as die derde golf weer kom,
oorspoel hy ons nie, maar ry ons hom!

Leave a Reply