Aan God die eer

Jy wat in jou gemak floreer,
gee jy nog aan God die eer?
Leef jy in die gerustheid dat jy glo,
maar intussen lyk jou vrugte nie so? (Jak 2:14)

Jy moet dringend weer leer:
Alles wat jy doen moet God eer.
As jou doelwitte enige iets anders is,
is jy besig om jou lewe te verkwis!

Ek is die wingerdstok en my Vader die boer
vrugtelose lote val verlore op die vloer…
Die wat goeie vrugte dra, snoei Ek reg
wie in My bly en Ek in hom, vind die ewige weg! (Joh 15:1-6)

As julle vrugte dra en as dissipels leer,
gaan dit oor tot my Vader se eer.
Bly in My liefde, jy wat hier lees,
dan sal jou blydskap volkome wees. (Joh 15:8-11).

God het Sy enigste Seun gegee
en wys Sy oneindige liefde daarmee.
So is ons as lote nie afgesny,
maar het die ewige lewe gekry! (Joh 15:12-14, Joh 3:16, I Pet 3:18, Gal 3:19-20)

Die ewige lewe wat ons wen
is om die enigste ware God te ken.
Jesus se vrug op aarde was tot God se eer
en so kon ons van ware liefde leer. (Joh 17:3-5, I Joh 2:15-17)

Jesus noem ons Sy vriend,
uitverkorenes, onverdiend!
Dis hoekom Hy nou vra
dat jy vir Hom vrugte dra. (Joh 15:15-16).

As jy dan moet liefhê soos Jesus jou Heer,
beteken dit eenvoudig jy moet God só eer
dat dié wat jou sien vrugte van vreugde dra
ook vir jou blydskap in Christus sal vra. (Fil 1:20-21, I Pet 3:15)

Die grootste liefde wat jy kan gee
vir dié een vir wie jy regtig omgee,
is om God die Vader so te eer
dat jou geliefde hom bekeer.

Jy moet jou gewoonte godsdiens laat staan,
jou vertroue op eie vermoëns laat gaan.
Wees weer werklik God se kind,
maar maklik sal jy dit nie vind…

Soos vir My gaan die wêreld jou haat,
jy gaan baie gerief moet agter laat… (Joh 15:18)
Almal wat toegewei aan My lewe
sal ook onder vervolging bewe. (II Tim 3:12).

Ons mag dalk nou uiterlik vergaan,
maar ons is oppad na ‘n nuwe bestaan.
Ons swaarkry gaan uiteindelik verby,
maar ons gaan die ewige heerlikheid verkry! (II Kor 4:16-17)

Maar wees nie bang:
Jy sal die Gees ontvang.
Jy moet nou oor My getuig
so sal jy van blydskap juig. (Joh 15:26-27)

Moenie vir jou nuwejaarsvoornemens wag,
verander jou lewe nog vandag.
As God se eer jou hele fokus is,
sal jy nie nog een dag verkwis.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading