Siende blind

Ek ken haar al as kind,
ja, sy was nog altyd blind,
maar haar ander sintuie het my geleer
sy sien eintlik soveel meer…

Op die plaas het ek geloop en kyk,
maar haar sintuie het my sig verryk.
Soos ons loop het sy my hart geraak,
want God se skepping het ontwaak:

As ons voete op die warm, droeë tweespoorpaadjie brand,
luister ons hurkend hoe die miskruiertjie spartel in die sand.
As ons diep teue van die soet blommetjie van die doringboom ruik,
word ons bewus van die gezoem van die bye in die geurige struik.

As ons strelend voel hoe die blare verlep hang
en ons trane rol saam met kwêvoël se hartseer sang,
as die kriek se stem bewend kraak
weet ons land lê droog en braak.

Die reuk van warm beesmis
en gonsende vlieë wat honger is,
en ‘n kalfie wat vergeefs die speen pluk
laat dit my die knop in my keel wegsluk.

Dié nag hoor ek haar biddend smeek
dat God tog die land moet deurweek,
dat sy Sy wonderdade kan “sien”,
al is dit nie wat sy verdien.

Vroegdag pluk sy my opgewonde uit die bed
“Kom ‘kyk’ hoe lyk die verhoring van gebed!”
Ek voel effe jammer vir haar,
want ek kan nie reën gewaar…

Voel jy die koel luggie teen jou wang?
Hoor jy die voëltjies se opgewonde sang?
Die vibrasie wat hier bo ons koppe draai,
is swaeltjies wat vreugdevlerke swaai!

Hoor jy die sagte plof?
Dis die eerste druppel in die stof!
Die sinkdak roep juigend uit:
God stort sy liefde op my uit!

Met palms omhoog voel ons elke druppel.
Strome water laat ons kinderlik huppel.
Soos die modder deur ons tone krul,
word ons harte met lewende water gevul.

Stroompies water begin loop.
Ons proe – dis so soet soos stroop!
Net daar in die reën,
word ek toe geseën:

My vriend, jy wat dink jy kan sien,
‘n gawe van God so onverdien,
jy moet weer al jou sintuie gebruik –
Jy kan so selfs God se werke ruik!

Loop blindelings met God aan die hand
weer kaalvoet in die warm sand.
Luister in stilte na die natuur –
God praat met jou in dié uur!

Jou grootste voorreg is dat jy kan lees,
in jou Bybel, van Jesus en die Gees.
Jy is tog so siende blind,
glo weer daarin soos ‘n kind.

Daardie dorre droogte in jou lewe –
Sluit jou oë, en Hy sal jou vergewe!
Druppels water sal op jou reën
en waterstrome uit jou sal ander seën.

Ek voel die koue windjie op my wang se traan.
Ek sien die swaeltjies vlieg en ek verstaan.
Die donderweerstem uit die donker wolk ontplof
en ek val biddend voor Hom in die stof…