Spreuke 3

Here, vanoggend bid ek uit Spreuke drie
vir amal wat soekend is na U,
want U wil dat ons moet weet
dat ons nie U onderrig moet vergeet. (:1)

O God, gebooie het ons van U gekry
laat ons met ons hart daarby bly.
U wys ons hier dit is die rede
vir ‘n lang lewe, gevul met vrede. (:2)

Ja, laat troue liefde en waarheid
ons tog nie verlaat in vandag se stryd.
Laat ons dit om ons nek bind
en dit op die tafel van ons hart geskryf vind.
U leer dit vervul ons hart se wens
vir goeie begrip by U en die mens. (:3-4)

Here, ons gaan ons eie insigte berou,
laat ons U met ons hele hart vertrou.
Laat ons U ken as ons lewensbesluite maak,
want dan sal U ons paaie reguit maak. (:5-6)

Vul ons met ontsag vir U, o Heer
help ons om eiewysheid te keer.
U leer dit sal ons liggaam genees
en ‘n verkwikking vir ons gebeente wees. (:7-8)

Laat ons U met ons rykdom eer
en nie die beste deel vir onsself begeer,
want U het beloof ons graanskure sal nie kwyn
en ons parskuipe sal oorloop van wyn. (:9-10)

Gee ons nie ‘n afkeer
in U vermanings, o Heer
want teregwysing is wat U ons gee,
soos ‘n pa, vir die seun vir wie hy omgee. (:11-12)

Here, laat ons wysheid vind,
verstandigheid, as U kind
want silwer kom nie eers by,
by die wins wat ons in wysheid kry. (:13-14)

Goud se opbrengs kan dit nie haal
Sy waarde is kosbaarder as koraal.
Niks wat ons ooit kan begeer
is kosbaarder as wysheid, o Heer (:15)

Amen


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply