Waarvoor hardloop jy?

Skreeuend en met swaard in die hand
hardloop hulle af op hul vyand
Die doel is uitbreiding van mag
inpalm van besittings met eie krag.(bv. Joël 2:9)

Verloorders in die bloedige geveg
hardloop angsbevange weg.
Hulle het alles verloor wat hulle het
nou poog hulle om net hul eie lewe te red. (bv. Jer 4:29)

‘n Enkele hardloper gordel sy kleed vas
en hardloop met ‘n sterk en volhardende pas.
O koning, ek kom deel U die boodskap mee
U vyand is oorwin en in u hand gegee. (II Sam 18:19)

So is elkeen ook in die lewenswedloop oppad
Party hardloop vir eie verryking wat ander se goed vat.
Ander hardloop vir oorlewing, moeg en afgemat,
maar min hardloop om die blye boodskap te vat.

Hoe hartseer dat baie kerk mense hul godsdiens sien
as ‘n reis op ‘n trein met die kelner wat bedien.
Wanneer laas het iemand jou uitgevra
oor die hoop wat jy binne in jou dra? (I Pet 3:15)

Elf hoofstukke van die Hebreërs brief het die gevolgtrekking gebring:
Daarom laat ons van elke las ontslae raak
van die sonde wat ons so maklik omring
en van die lewe, ‘n volhardende wedloop maak. (Heb 12:1)

Met alle dinge, wat jou van God af hou, afgegooi (Heb 12:1)
moet jy jou met die gordel van waarheid tooi.
Daarin getuig geloofsgetuies, van die beskermende skild soos beloof (Ef 6:16, Heb 11)
en dit laat jou oë rig op Jesus die Leidsman en Voleinder van geloof. (Heb 12:2)

En as jy die Woord nog verder lees,
leer jy hoe jou hardloop moet wees:

Elia se hardloop was gedryf deur gebed:
Na hy vuur en reën uit die hemel afgebid het,
was hy, hardlopend, so vol van die Heilige Gees,
dat hy vinniger as die koning se strydwa kon wees. (I Kon 18:46)

Die wat Jesus gehoor het, het na hom toe gehardloop. (Legio in Mark 5:6).
Sy bose geeste het in die varke oor die krans gehardloop.
Getuies daarvan het na die dorp toe gehardloop
om te gaan vertel, met harte vol nuwe hoop. (Luk 8:34)

Of jy hardloop na die kruis om Jesus asyn te gee, (Mat 27:48)
of soos die vroue deel jy ander die opstanding mee. (Mat 28:8)
Of soos Saggeus na ‘n boom om Jesus te sien
en kry daarmee genade onverdien… (Luk 19:4)

Paulus was so hardloper vir die oorwinaarskroon.
Hy skryf: Die verlossing van verlorenes is sy loon.
Hy het die Blye Boodskap na verlorens gebring
en gaan saam met hulle vir ewig lofliedere sing! (Fil 2:16-17, 4:1)

Gewapen met hierdie Woord, die swaard van die Gees
laat die helm van verlossing, jou beskerming wees.
Met skoene van bereidheid om die evangelie te deel
nie vir jou self nie, maar om ander te heel. (Ef 6:14-17)

Help mense dat hulle slap hande weer sterk vat
en versterk hulle lam knieë op die pad. (Heb 12:12-13)
Bemoedig hulle want baie wat eerste is, sal laaste wees,
en wat laaste is, eerste as hulle hardloop deur die Gees. (Mat 19:30, Mark 10:31)

Leer hulle dat alles wat hulle in die verlede wou wen
waardeloos is, en die passie is nou om Jesus te ken. (Fil 3:7-8)
Vergeet van alles agter jou – al daardie sleg is klaar – (Fil 3:13)
as jy bly omkyk in jou hardloop word jy ‘n soutpilaar! (Gen 19:26)

Hardlopers, wat die Here vertrou, kry nuwe krag
Hulle vlieg met arendsvlerke deur hul dag
Hulle hardloop en word nie moeg
vir hulle is die lewe nie ‘n geswoeg. (Jes 40:31)

Vertel hulle van die verlore seun wat nog ver in die pad afkom
en die Vader wat hardloop en toe omhels hy hom! (Luk 15:20)
Ja, help hulle om die oorwinning te behaal
dat God hulle by die wenstreep kom haal. (Op 2:17, II Tim 4:7-8)

Help hulle die oorwinning behaal
Hardloop vir die doel van ander

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading