My Covid lied

Anneli, jy wat dowe leerders kon laat sing,
jou lied het my deur die Covid tyd gebring.
Dit deurweek my elke oggend oppad na werk
om my vir die harde dag te versterk…

“Die Here is om jou, die duister word lig
Hy laat jou lamp helder skyn.”

Vir baie ontvanklikes in die hospitaal
kon ek my foon net daar uithaal
en die seënbede vir hulle speel,
en so die Blye Evangelie deel…

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Vir soveel moes ek help om uit die bed op te staan –
eerste treetjies om na die siekte aan te gaan.

“Die Here is langs jou, jou vesting en rots
Hy laat jou staan op die hoogte.”

Met wankelende been,
hoor hulle die seën:

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Die een sterwende omie was angstig en bang,
maar na die seënbede ‘n traan op die wang:

“Die Here is bo jou van Hom kom jou hoop
Jou siel sal Hy ewig bewaar, Hy is by jou.”

‘n Rustigheid het oor hom gekom
en kort daarna is Hy op na Hom.

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Vir die tannie deurweek met kanker,
en Covid asemnood was dit die anker:

“Die Here is voor jou, Sy lig op jou pad
Hy neem jou na waters van rus.
Sy het ‘n diep vrede gevind:
“Sit maar af die suurstof, my kind…”

“Sy seën gee Hy uit
en Hy leer jou Sy waarheid
Hy stuur Sy engele na jou…”

Anneli, dankie dat ek jou lied kan leen,
dis my Covid lied van die Here se seën.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading