Luister na die fluister

Bildad, het jou gepraat my nou gebaat?
Met wie se hulp het jy nou gepraat? (Job 26:1-4)
Al voel dit of God net fluister,
sal ek eerder na Hom luister:

Die hemel het God oor die leë ruimte gesprei.
Die aarde laat hang waar niks is nie – dit doen Hy!
Hy maak water in wolke bymekaar.
Hulle skeur nie oop nie al is hulle swaar… (Job 26:7-8)

Dis daar waar die Almagtige woon,
met die wolke bedek Hy sy troon.
Hy plaas die horsion op die see,
‘n grens tussen lig en donker bring Hy mee. (Job 26:9-10)

Deur sy krag bring hy die woeste see tot rus.
Deur sy insig verpletter hy vir Rahab, gewis.
Met die wind waai hy die lug skoon,
met Sy krag deurboor hy die seedemoon. (Job 26:11-13)

Dit alles is maar net die begin van sy daad
Ons hoor net ‘n gefluister van sy groot raad.
Die volle krag van sy dade wat bestaan –
Wie kan ooit die omvang daarvan verstaan? (Job 26:5-14)

So lank as wat God leef
en ek Sy asem in my kan hê,
sal ek daarna bly streef
om niks verkeerds te sê. (Job 27:1-4)

Watter hoop het die godlose as God sy lewe afsny?
Kan hy vreugde in die Allerhoogste kry?
Ek wil julle iets wys oor God se mag,
miskien sal dit die sinlose gepraat laat wag… (Job 27:5-12)

In ‘n myn word silwer en koper uitgehaal,
goud gesmelt om suiwerheid te bepaal.
Hy grawe ‘n skag waar niemand woon,
op soek na saffier en goud, so skoon. (Job 28:1-6)

Geen roofdier ken daardie pad.
In die rotsgange sien hy die skat.
Hy blok daaronder die wateraar,
maar kon hy daar wysheid gewaar? (Job 28:7-11)

Maar die wysheid, waar word dié gevind?
Nie in die land van die lewendes of hul kind…
Die diep waters sê: Dit is nie by my…
Met goud kan jy dit nie gekoop kry! (Job 28:12-19)’

Die wysheid waar kom dit vandaan?
Selfs die voëls in die lug kan dit nie verstaan.
Die dood sê: Ons hoor net van sy bestaan.
Net God weet en sien waar wysheid gaan (Job 28:20-24)

Ons is met God verenig – alle dank aan Hom –
Deur Christus, die wysheid wat van God af kom:
Dis vryspraak, heiliging en verlossing wat Hy bring,
daarom wil ons tot eer van God die Vader sing: (I Kor 1:30)

Hy het die skepping alleen uitgemeet.
By Hom is die wysheid wat jy moet weet.
Hy het gesê: Mens wat jy moet sien:
Wysheid is om die Here te dien. (Job 28:25-28)

Voel jou lewe donker en duister?
Voel dit jy het die pad nou byster?
Dan moet jy biddend lees en bly luister
na die Almagtige se dreundende fluister!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading