Handdoekie

with 1 Comment

‘n Handdoekie vir jou,
sodat jy sal onthou:
Jy moet bly vertrou,
want God is getrou.

Sweet van lewenspad?
Maak hom dan nat,
sit hom op jou nek –
spoedig sal jou treë rek.

As die hartseer slaan,
droog daarmee ‘n traan.
So kry jy weer krag
om gou weer te lag.

Sit hom langs jou bed
en kniel daarop in gebed.
As jy jou hart uitstort,
sal Hy dit heel laat word.

Wees oor hom nie skaam
vat hom orals saam.
Hy sal jou help onthou:
God is en bly getrou.

As dit dan beter gaan,
koop nog ‘n handdoekie aan.
Sit die gediggie daarby –
jy sal wéét wie dit moet kry.

Langs elke handdoek bed
kniel ons saam in gebed.
Oral waar ons deel,
maak God mense heel.

So, dié handdoekie is vir jou,
spesiaal mooi toegevou.
Ek bid op myne vir jou
dat jy God sal bly vertrou…

Kanker

with No Comments

Here dit maak my so seer
om te sien hoe kanker my geliefdes verteer.

Ag Here, gee my raad:
Ek weet nie hoe om met hulle te praat…
Ag Here, die gesinne lyk so broos.
Hoe kan mens hulle troos?

Here, wat gaan tog hier aan
Hoe kan mens dit verstaan?
Dit gaan so goed met my,
maar dis my geliefdes, Here – hulle ly…

In die boek Job soek ek U wil,
maar een hele hoofstuk vertel net van ‘n krokodil?
Ek wil dit liewer nie lees –
Dit versterk net hierdie innerlike vrees!

U het gesê die eindtye is swaar…
Asseblief Here, is ons amper daar?
Ja, Here doen soos wat in Openbaring staan:
Droog U af hulle traan,
want die dood en smart en pyn
gaan dan alles verdwyn.

Here, die kanker is vreeslik swaar.
Wees U asseblief tog daar…

Alzheimers

with No Comments

Waar bly julle nou weer?
Dié vragie maak nie seer,
want sy onthou nie altyd meer.

Tannie het die kinders opgepas:
Liefde, kos en doeke nooit ‘n las.
Tye wat ons goed onthou
van hierdie besondere vrou.

Waar bly julle nou weer?
Sy kan die vragie nie keer,
want sy onthou nie altyd meer.

Tannie se tuin lyk so mooi:
Malvas in al die kleure getooi.
Ja, Malva is my tweede naam
wat stigges aan die groei laat gaan.

Maar waar bly julle nou weer?
En graag vertel ons nog ‘n keer,
want sy onthou nie altyd meer.

Drink gerus nog ‘n koppie tee
en sny ‘n lekker stuk koek daarmee.
En so kan ons weer onthou
hoe gasvry is hierdie vrou.

Maar waar bly julle nou weer?
En ons sukkel om ons trane te keer,
want sy onthou nie altyd meer.

Weet julle met my gaan dit net goed:
Gesondheid, verstand en lewensmoed
Dis ‘n seëning van Bo
van Hom in wie ek glo.

Waar bly julle nou weer?
Sy onthou nie altyd meer,
maar laat sy U nooit vergeet, o Heer.

‘n Dag of wat later
bly my oë nog water,
want deur die tannie vra die Heer:
My seun, waar bly jy nou weer?
Het jy onlangs iemand van My geleer?
Lyk my jy onthou nie meer
van my kruis se seer?
Sý is die een wat my eer,
as jy my maar so wou begeer!

Vergewe my Alzheimers Heer…

Werk, waar is jou perk?

with No Comments

In vandag se gejaagde lewe,

wil my moed my amper begewe:

Almal jaag net na groter wins.

Koud en hard is nie meer ‘n kuns.

Aandele, bonusse en ‘n groter pakket –

Net beskore vir die wat reeds baie het…

Meer met minder, groter effektiwiteit

met afleggings ‘n groot waarskynlikheid

Die maalkolk suig ons na binne –

Hoe bly ons by ons sinne?

Spr 6:5-11

Net soos Spreuke se besige mier,

so hardloop ons deesdae hier:

holderste bolder, ja, winter-bang

vir die werkgewer-koue wat wil vang!

Ps19:1-7

As mens die werk van God aanskou

dan begin die ding homself ontvou.

Die hemel getuig van Sy grote mag,

dag en nag praat net van Sy krag.

Ps 19:8-12

Volmaak is die Here se boek,

selfs soeter as ‘n heuningkoek!

Met die kompas van die Woord,

soek ek na “werk” se ware noord:

Gen 1:28

Gen 3:19

Reeds in die paradys uit God se mond:

“Vermeerder, bewoon en werk die grond”

Wie sal die opdrag na die val vergeet:

“Net deur harde werk sal jy kan eet”

Pred 1:14

Waar is dan “werk” se kruks?

Prediker: “Alles kom tot niks?”

Nee, ek is seker daar is meer

om uit God se Woord te leer…

Ex 20:9

Die woorde van die wet is sterk:

“Ses dae moet jy arbei en werk,

maar die sewende is vir jou rus”

Trooswoorde wat ons te maklik mis?

Ps 127:1,2

1 Kor 10:31

Vergeefs werk die wat bou

As hulle nie op God vertrou!

Doen alles net tot God se eer,

dan sal kommer jou nie verteer.

1 Kor 15:53-58

Die dood se angel is oorwin,

nou maak werk-vrae baie sin:

moenie laat jou moed jou begewe,

want daar kom ‘n ewige lewe!

Ef 4:20-28 en

2 Tes 3:6-13

Omdat ons nou in Jesus Christus glo,

verander die ou sondige lewe so:

maak julle gees en gedagte nuut –

werk en gee vir die arme verniet!

So, in vandag se gejaagde lewe –

rus goed op dag nommer sewe.

Werk dan voluit tot God se eer,

en hou moed – Hy kom weer!

Matthew

with No Comments

Sy lewe op aarde is nou verby –
dae gevul met swaakry en ly.
Hy het jul soms tog laat lag,
maar onvermydelik hierdie dag…

Die Here wil jou ‘n boodskap bring:
Waar hy nou is, is hy besig om te sing!
Vol vreugde kan hy huppel en spring,
terwyl hy aan Hom ‘n loflied bring:

“Aan U, o God kom toe die eer,
wêreldse pyn ken ek nie meer.
U liefde hier maak my so vol,
ek wil amper weer soos op aarde rol!

Dankie vir my liewe ma en pa,
wat my versorg het sonder kla.
Help hulle om raak te sien –
ek kry nou vir Wiskunde tien uit tien!

U weë is so moeilik om te verstaan,
as ons vasgevang is in aardse bestaan.
Mens wonder hoekom kry party so swaar
en vir ander is alles net daar…

Ag Here, laat hulle tog net sien,
hoe weglaatbaar is alles daar.
Laat hulle U toegewy bly dien,
dat hulle self eendag kan kom sien:

Alles was tog die moeite werd –
ek is nou sterker as ‘n perd!
Geen aardse beperking kan my keer,
ja, ek bring aan U die lof en eer!!

Amen, ja, dit is waar en seker,
want Jesus drink die lydensbeker.
En daarom het swakkes op die aarde
in die hemel die heel grootse waarde!”

1 44 45 46 47