Debora en Barak

Na Ehud se dood het die Israeliete weer
gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer.
God het hulle oorgegee in Jabin se mag.
Nege honderd strydwaens was Sisera se krag.
Twintig jaar het hulle onderdrukkend gely,
daarom het hulle gebid dat God hul bevry. (Rig 4:1-3)

Debora, die vrou van Lappidot
is as leier gekies deur God.
Sy was ook regter en profetes:
Vir afwesige manne ‘n les. (Rig 4:5-6)

Sy het Barak as leier na die vyand gebring
en na die oorwinning saam ‘n loflied gesing:

Julle moet die Here prys:
Hy is almagtig en wys!
Leiers het weer opgetree
en tot die stryd toegetree. (Rig 5:1-2)

Luister konings wat regeer:
Ek sing tot my God se eer!
Toe U optrek het die berge gebewe.
Met reën gee U ons lewe. (Rig 5:3-5)

In die dae van Jael was die hoofpaaie stil.
Die volk was onderdrukkend met vrees gevul.
Nie een van Israel se soldate het verskyn.
Die lewe buite die stede in Israel het gekwyn. (Rig 5:6-8)

‘n Moeder in Israel het tevore gekom –
Debora was gekies as rigter deur Hom. Rig 5:7)

Oral waar julle donkies reis
moet julle God se dade prys.
Praat by die drinkbakke daaroor:
Almal moet die boodskap hoor! (Rig 5:10-11)
Maak klaar Barak, wees nie bang:
God sal jou die vyande laat vang. (Rig 4:6-7, 5:12)

Die volk van die Here het kom veg
Efraim, Manasse en Benjamin was reg.
Sebulon met die heerser septer voor
selfs uit Amalek gee hulle gehoor.
Issaskar en Barak kry die laagte in hul hand.
Naftali trotseer die dood in die hoë land. (Rig 5:13-15,18)

Maar Ruben het net baie gepraat
en nie oorgegaan tot enige daad.
By die veetroppe het julle met fluite gespeel…
Gilead het hom ook nie aan die oproep geskeel.

Waarom het Dan by sy skepe gebly
en kon jy Aser op die seestrand kry? (Rig 5:15-17)
Vervloek is Meros: Vat sy genade weg,
want hy het nie vir die Here kom veg. (Rig 5:23)

Vyandige konings het kom veg
maar buit van silwer bly net weg.
Toe sterre uit die hemel veg is dít wat gebeur:
Die Kisonrivier het die vyand meegesleur! (Rig 5:19-22)

Geseënd is Jael, vrou so beeldskoon,
meer geseënd as alle vroue wat in tente woon.
Sy gee vir Sisera die koningsbeker aan,
maar het hom met ‘n tentpen doodgeslaan. (Rig 5:24-27)

Sisera se ma het gestaan en kla
waarom talm my seun se strydwa?
Haar slimste hofsame gee die raad:
‘n Meisie of twee vir elke soldaat… (Rig 5:28-30)

Mag al U vyande so omkom, o Heer.
Vir die wat U liefhet skyn die son weer.
God gee die vyande in ons hand,
daarom is daar weer vrede in die land. (Rig 5:31)

Besef jy ons doen alweer
wat verkeerd is in die oë van die Heer?
Dat sonde weer die oorhand het?
Bely innig tot God in gebed.

Jy wat soos Ruben so baie praat,
wanneer gaan jy oorgaan in daad?
Jy met die luuksheid by die see,
wanneer begin jy iets gee?
Manne hoe lank gaan julle nog weier
terwyl God julle roep as geestelike leier?

Vroue in hierdie tyd ook vir jul ‘n les:
God roep julle – party as profetes.
Vir ander het Hy ‘n tentpen gegee
om tot die stryd toe te tree.

As ons tog weer na Hom luister,
maak Hy ‘n einde aan die duister.
Deur die almag van Sy hand
gee Hy vrede bo menslike verstand.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading