Dag sewe

Die Gees het op die water gesweef.
Geen mens of dier het nog geleef.
God het toe net begin spreek
en lewe het die stilte verbreek.
Op dag sewe het almal gerus,
in valse gerustheid in gesus…

Die boom se appel was te rooi
vir Eva, die duiwel se prooi.
Die band met God, so innig,
verander toe gans te vinnig.
En hierdie keer op dag sewe
moes hulle op ‘n ander plek lewe.

Hul baie sonde het God gesien.
Die vloed straf het hul verdien.
In kontras met mens bravade,
leer Noag van God se genade.
En weer ‘n keer, op dag sewe,
begin hul voor met die lewe.

God het nie daarvan gehou
toe hoogmoed ‘n toring bou.
Hy verander toe hul taal
en alles word ‘n gemaal.
So het hulle op dag sewe
hul na nuwe lande begewe.

God begin toe Sy eie nuwe volk
om Sy boodskap deur hulle te tolk.
Hy roep Abraham uit sy land
en sluit met hom ‘n band.
So weet hy toe op dag sewe
waar God wil hê dat hy moet lewe.

Met geduld moes hy bly wag
vir die beloofde nageslag.
Hulle raak toe net lekker tuis
toe droogte hul na Egipte verhuis.
En kort voor lank, op dag sewe
moes hul voor slaafswepe bewe.

God het hul geroep gehoor
en so baie gebede verhoor.
Deur Moses bring Hy die plae
en wys Sy krag vir baie dae.
Die Paasfees van dag sewe
herdenk juis die nuwe lewe.

In die woestyn deur God gelei,
is hul van honger en dors bevry.
Maar toe hulle hom nie vertrou,
moes hul dit vir veertig jaar berou.
Maar wat gebeur op dag sewe?
Jerigo se hoe mure bewe!

God hou al Sy beloftes stand:
Uiteindelik in die nuwe land.
Maar toe hulle so lekker eet
het hulle van God vergeet.
En so sit hulle op dag sewe
in ballingskap oorgegewe.

Daniel se vriende is deur vuur
en hyself het leeus verduur.
Nebukadnesar is tot God bekeer
en deur Ester is uitwissing gekeer.
Deur Kores se bevel op dag sewe
het die volk terugkeer belewe.

Hulle moes leer om God te vertrou
voor hulle die stad kon herbou.
Na ‘n rukkie in hul nuwe woning
soek hul toe ‘n ewige koning.
Die engele sing toe op dag sewe
want in ‘n stal was daar Lewe.

Hy het tussen hulle kom woon
tog het hulle Hom nie eer betoon.
Hy het hul die waarheid geleer,
en tog het hul Hom nie ge eer.
Daarom sterf Hy toe op dag sewe
sodat almal wat glo kan lewe!

Vandag by ons gaan dit ook so:
Een oomblik dink ons ons is bo,
kort daarna oorstroom die brander
want God laat alles weer verander.
Hy wil ons herinner aan dag sewe:
Dit verseker van die Ewige Lewe!

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading