Jefta

Die Ammoniete het by Gilead kamp opgeslaan
Wie sal as leier teen hulle op kan staan? (Rig 10:17-18)

Jefta was ‘n seun van Gilead.
Hy was ‘n dapper soldaat.
As prosituut was sy ma onguur,
sy broers het hom weggestuur… (Rig 11:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Die Ammoniete was tot oorlog oorgehaal,
so die leiers het toe weer vir Jefta laat haal.

“Dis julle wat my weggejaag het:
Hoekom moet ek julle nou kom red?
Ek sal dit doen as julle my leier maak.”
En voor God bekragtig hulle die saak. (Rig 11:4-11)

Hulle het God in gebed gevra,
daarom sou Hy hulle hierdeur dra.

Jefta het in onderhandeling ingegaan
om die rede vir die oorlog te verstaan.
Dit het alles oor grond besit gegaan:
Hulle eis van Arnon tot by die Jordaan. (Rig 11:12-13)

Jefta het hulle weer die geskiedenis vertel,
van die trek deur die woestyn van Israel. (Rig 11:14-18)
Israel wou destyds net deur julle land trek,
maar julle het toe vir oorlog opgetrek.

Die God van Israel het julle toe verslaan:
Ons besit kom daarvandaan. (Rig 11:19-24)
Die voorval was driehonderd jaar gelede,
ons het niks teen jou gedoen in die hede.

God sal uitspraak gee oor wie is reg
as ons dan vandag hieroor moet veg. (Rig 11:25-28)

Jefta ontvang toe die Gees
en weet dat God by hom sou wees.
Tog het hy ‘n gelofte afgelê
en die volgende gesê: (Rig 11:29-30)

“As U die Ammoniete oorgee in my mag,
sal ek die eerste wat by my huis vir my wag
aan U wy en as offer en vir U verbrand.”
Die Here gee toe die vyand in Sy hand. (Rig 11:29-33)

As hy God in gebed sou vra,
sou hy hom anders gedra?

Sy dogter het hom tegemoet gedans met tamboeryn.
“Ag, my enigste dogter, ek is nou in ellende en pyn –
Ek het my woord aan die Here gegee…”
“Pa moet my asseblief nog twee maande gee.” (Rig 11:34-37)

Afgryslike woorde word hier gesê:
Hy het met haar gehandel volgengs sy gelofte afgelê…
Sy het die gemeenskap met ‘n man verbeur
en meisies het elke jaar oor haar getreur. (Rig 11:38-40)

Efraim voel toe vreeslik verontreg:
“Waarom het jy sonder ons gaan veg?”
“Ek het gevra, maar die antwoord was nee,
God het die vyand in my mag oorgegee.” (Rig 12:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Maar niks kon Efraim se woede stuit –
‘n burgeroorlog breek toe uit.
By die Jordaan is die dood uitgespreek
oor die wat nie Sjibbolet uit kon spreek. (Rig 12:4-6)

Jefta het Efraim verslaan in die vreeslike euwel:
Twee en veertig duisend man het gesneuwel.
Die hartseer agtergrond om te verstaan:
Beide die stamme het uit Josef ontstaan… (Rig 12:7)

Onverdraagsaam teenoor hulle broer.
Onbillike vyand kom in oproer.
Gelofte om iemand te verbrand.
Burgeroorlog in die land.

As jy terugkyk oor jou lewe,
hoeveel ander moes voor jou bewe?
As jy God in gebed sou vra,
sou jy jou anders gedra?

As die krisisse jou laat kla,
mag Jesus se gebed jou dra:
O Vader, ek het U kinders van U geleer
en so U Naam verheerlik en geëer. (Joh 17:1,4)

Hulle wat U Naam werklik ken,
sal wel die ewige lewe wen! (Joh 17:2-3)
Maak hulle werklik aan U toegewy
as hulle in hierdie wêreld vir U stry. (Joh 17:23)

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading