In vandag se gejaagde lewe,

wil my moed my amper begewe:

 

Almal jaag net na groter wins.

Koud en hard is nie meer ‘n kuns.

Aandele, bonusse en ‘n groter pakket –

Net beskore vir die wat reeds baie het…

 

Meer met minder, groter effektiwiteit

met afleggings ‘n groot waarskynlikheid

Die maalkolk suig ons na binne –

Hoe bly ons by ons sinne?

 

Spr 6:5-11

Net soos Spreuke se besige mier,

so hardloop ons deesdae hier:

holderste bolder, ja, winter-bang

vir die werkgewer-koue wat wil vang!

 

Ps19:1-7

As mens die werk van God aanskou

dan begin die ding homself ontvou.

Die hemel getuig van Sy grote mag,

dag en nag praat net van Sy krag.

 

Ps 19:8-12

Volmaak is die Here se boek,

selfs soeter as ‘n heuningkoek!          

Met die kompas van die Woord,

soek ek na “werk” se ware noord:

 

Gen 1:28

 

Gen 3:19

Reeds in die paradys uit God se mond:

“Vermeerder, bewoon en werk die grond”

Wie sal die opdrag na die val vergeet:

“Net deur harde werk sal jy kan eet”

 

Pred 1:14

Waar is dan “werk” se kruks?

Prediker: “Alles kom tot niks?”

Nee, ek is seker daar is meer

om uit God se Woord te leer…

 

Ex 20:9

Die woorde van die wet is sterk:

“Ses dae moet jy arbei en werk,

maar die sewende is vir jou rus”

Trooswoorde wat ons te maklik mis?

 

Ps 127:1,2

 

1 Kor 10:31

Vergeefs werk die wat bou

As hulle nie op God vertrou!

Doen alles net tot God se eer,

dan sal kommer jou nie verteer.

 

1 Kor 15:53-58

Die dood se angel is oorwin,

nou maak werk-vrae baie sin:

moenie laat jou moed jou begewe,

want daar kom ‘n ewige lewe!

 

Ef 4:20-28 en

2 Tes 3:6-13

Omdat ons nou in Jesus Christus glo,

verander die ou sondige lewe so:

maak julle gees en gedagte nuut –

werk en gee vir die arme verniet!

 

 

So, in vandag se gejaagde lewe –

rus goed op dag nommer sewe.

Werk dan voluit tot God se eer,

en hou moed – Hy kom weer!

Leave a Reply